‘Selfdegeslag-verhoudings bestaan nie in ons oë’

‘n Mens is dankbaar oor die sterk standpunt van Goudland sinode. Die vraag is egter of hulle die groot stap sal neem en sal wegbreek van die Algemene Sinode (artikel 37). Dit sal ’n reuse deurbraak beteken vir behoudende gemeentes selfs uit ander sinodes om dan by Goudland aan te sluit.

Goudland se volgende sinodesitting is in Februarie 2021.

***********

‘Selfdegeslag-verhoudings bestaan nie in ons oë’ | Netwerk24

Deur Arisa Janse van Rensburg

24 Oktober 2020

Selfdegeslagverbintenisse [SGV] bestaan nie in die oë van die Goudland-sinode van die NG Kerk nie, sê ds. Johan Brink, die sinode se moderator.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode (AS), sê egter Goudland kan nie dié besluit op die gemeentes onder hom afdwing nie.

Die Goudland-sinode, wat bestaan uit 130 gemeentes in Gauteng en Noordwes, het vandeesweek op ’n sinodale bestuursvergadering besluit dat die AS se 2019-besluit nie op hulle van toepassing is nie.

Dié besluit deur die AS skep ruimte vir selfdegeslagverhoudings en -huwelike in die NG Kerk en bepaal dat gemeentes self kan besluit of hulle gay paartjies in die huwelik wil bevestig.

Brink sê egter hulle wil nie dié ruimte hê nie en het reeds ’n leergeskil met die AS daaroor verklaar.

“Ons het Dinsdag besluit dat ons die beleid van 2015 om nié selfdegeslagverhoudings te erken nie, sal toepas,” sê Brink.

[Kommentaar: Neem kennis dat hier nie na die 2015 Algemene Sinode besluit verwys word nie, maar Goudland Sinode se eie 2015 besluit.]

Die Goudland-sinode het ná afloop van die sinodale vergadering van vandeesweek ’n verklaring aan al sy gemeentes uitgereik oor die drie besluite wat geneem en goedgekeur is:

  • Die sinode herbevestig die 2015-besluit en versoek gemeentes en leraars om dit toe te pas.
  • Die sinode beveel aan, ná uitklaring met die AS, dat die hele 2019-besluit aangaande selfdegeslagverbintenisse nie vir die Goudland-sinode geld nie en
  • Die sinode beveel aan, ná uitklaring met die AS, dat leraars en kerkrade nie nodig het om besluite oor selfdegeslagverbintenisse te neem nie, aangesien die AS self erken dat dié besluit nie vir die sinode-Goudland geld nie.

In die verklaring neem die sinode ook die standpunt in dat die Bybel verklaar dat die huwelik ’n heilige eenheid tussen een man en een vrou is.

“Die sinode verklaar dat alle seksuele verhoudinge buite die band van die huwelik, nie Bybels verantwoordbaar en aanvaarbaar kan wees nie,” lui die verklaring.

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria het hom ook al sterk uitgespreek teen die AS se 2019-besluit.

Pieter Breytenbach, die kerk se hoofbedryfsbeampte, het Vrydag aan Netwerk24 gesê hoewel hy nie kommentaar kan lewer oor Goudland se verklaring nie, bly Moreletapark se standpunt dieselfde. “Selfdegeslagverbintenisse is volgens ons nie Bybels nie.”

Janse van Rensburg sê Goudland het die volste reg om standpunt teen selfdegeslagverbintenisse in te neem.

“Die 2019-besluit skep juis ruimte daarvoor. Ons het wel nooit gesê dat die 2019-besluit nie vir Goudland geld nie.

Ons as die algemene sinode-moderamen het nie ’n mandaat om te sê iets geld vir een sinode maar nie vir die ander nie.”

Hy sê daar is gemeentes in Goudland wat nie met hul sinode se besluit saamstem nie en dat Goudland nie die beleidsbesluite op gemeentes wat onder hulle val, kan afdwing nie.

Janse van Rensburg sê ook dat gerugte die ronde doen wat die leierskap van die NG Kerk van liberale teologie beskuldig.

“Ek kan nie namens alle predikante praat nie, maar daar is nie sprake van liberale teologie in die leierskap van die NG Kerk nie.

Ons is ernstig oor ons gereformeerde tradisie en dit is vir ons ’n lewende werklikheid.”

[Kommentaar: Kyk Liberale teologie in die NG Kerk? waarin Nelis die leierskap van die NG Kerk probeer verdedig.]

*******

2015 Goudland-sinode besluit oor SGV

Die sinode van Goudland besluit soos volg:

  1. Die Sinode aanvaar die Woord van God as gesaghebbend en leidinggewend vir die leer en lewe vir alle gelowiges (2 Timoteus 3:16).
  2. Die Sinode aanvaar die menswaardigheid en gelykwaardigheid van alle mense en verbind haarself om met liefde en respek teenoor mense te leef.
  3. Die Sinode van Goudland herbevestig dat die Bybel verklaar dat die huwelik ’n heilige eenheid tussen een man en een vrou vir ’n lewenslange verbintenis is.
  4. Die Sinode van Goudland verklaar dat alle seksuele verhoudinge buite die band van die huwelik, nie Bybels verantwoordbaar en aanvaarbaar kan wees nie.

1 thought on “‘Selfdegeslag-verhoudings bestaan nie in ons oë’”

  1. (Hoe) werk jou kop as jy sê dat die AS se besluit ruimte skep en nie voorskriftelik is nie, maar jy skryf steeds vir al die sinodes voor dat hulle uitvoering MOET gee aan die besluit?

    Of jý is onnosel, ekskuus, verstaan nie, of jy glo dat almal met wie jy onderhandel is onnosel, ek bedoel verstaan nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui