‘n Paar dinge waarvan NG kerk lidmate dalk nie van bewus is nie

Nic Botha, predikant van NG gemeente Clearview in Maclear in die Oos-Kaap, het die volgende artikel geskryf.

Oorweeg asseblief om by Kairos Netwerk aan te sluit en ook om te doleer.

***********

‘n Paar dinge waarvan NG kerk lidmate dalk nie van bewus is nie

Deur Nic Botha

23 Oktober 2020

Hoe som ’n mens dinge wat swaar op jou hart lê, in ’n paar sinne op? Hoe verduidelik jy vir lidmate van jou kerk, wat dalk glad nie bewus is van die dinge wat al besluit is by Algemene Sinode sittings in die verlede, en wat nooit aan lidmate oorgedra is nie? Ek het lank gewik en geweeg of ek iets moet skryf of nie, maar hoe langer ek getalm het, hoe duideliker het die Heilige Gees tot my gespreek en gesê, “Sê vir die lidmate! Sê vir die kerk! Sê vir die wêreld!’ En wie is ek as gelowige kind van God om nie te gehoorsaam nie? Daarom wil ek net ’n paar dinge uitlig vanoggend, en ek hoop en glo dat lesers dit ter harte sal neem, maar veral lidmate van die NG Kerk waarvan ek ook reeds vir 55 jaar een is.
Die bestaan van die duiwel
Reeds in 2011 het die Algemene Sinode “ruimte” geskep vir lidmate en leraars wat glo die duiwel bestaan, en ook “ruimte” vir hulle wat glo die duiwel bestaan nie, vir hulle wat glo die duiwel is ’n persoon en vir hulle wat glo hy is nie ’n persoon nie. Wat sê my Bybel vir my? Wat sê die Bybel vir jou? My Bybel is baie duidelik daaroor dat die duiwel ’n persoon is en dat hy al bestaan reeds van Genesis af. Hy het vir Eva versoek en verlei in die Tuin van Eden. Hy het Job, met God se goedkeuring, geteister om te kyk of Job aan God afvallig sou word, maar hy nie. Hy het Jesus probeer verlei in Matteus. Eintlik het die Algemene Sinode met hulle ruimteskepping in 2011 reeds die Bybel as nietig en onwaar verklaar.
Die Skepping is 6 dae
Baie teoloë beweer nou saam met wetenskaplikes dat God nie die skepping in 6 dae voltooi het nie meer eerder in 6 miljoen jaar, want hulle koolstoftoetse bewys dit. Is die koolstoftoets wat hulle gebruik, Godgegewe of mensgemaak, mensuitgedink? Hulle sien nou dat die evolusieleer en die “Groot-knal-teorie” nie meer water hou nie, nou probeer hulle iets anders om gelowiges te verwar en afvallig van God te maak, en ongelukkig kry hulle dit in baie gevalle reg.
Jesus se maagdelike geboorte, Sy dood, Sy opstanding en Sy hemelvaart
Hierdie liberale teoloë verwar nou selfs teologiese studente aan die kuratoriums (kweekskole) van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein met hulle nuutste teorië oor Jesus se maagdelike geboorte, Sy dood, Sy opstanding en Sy hemelvaart. Daar word nou verkondig en geleer dat Jesus nie die Seun van God is, dat Hy nie uit die maagd Maria gebore is nie, dat Hy wel as mens gely het en aan ’n kruis dood is, maar dat Hy nie opgestaan het uit die dood nie en dat Hy derhalwe ook nie aan Sy dissipels verskyn het nie en dus nooit opgevaar het na die hemel nie, dat Hy nie aan die regterhand van God sit nie, en dat Hy ook nie weer terug sal kom nie want Hy is dood, nie lewend nie. Hierdie dinge word die toekomstige dominees geleer en hulle kom verkondig dit as die waarheid in gemeentes.
Alle paaie lei na God
Jesus is nie die enigste Weg na God nie. Volgens hierdie teoloë is Jesus nie die Verlosser nie en dus nie die enigste Weg na God nie. Alle paaie deur alle gelowe heen lei op die ou end na God – Christen, Judaïsme, Islam, Boedisme, Hari Krishna, noem maar op – almal lei na God. Daarmee kanselleer hulle Jesus se hele Verlossing en verklaar hulle as’t ware die hele Bybel of dan ten minste die Nuwe Testament nietig.
Die Bybel as Woord van God
Maar hulle eindig nie daar nie. Die Bybel is nou ook nie meer volgens hierdie teoloë, die ware onfeilbare Woord van God aan die mens nie, maar mense se woorde oor God. En met hierdie stelling het hulle die Bybel totaal as nietig en onwaar verklaar. Enige lidmaat wat die Bybel anders lees word gesien as mense wat nie die Bybel verstaan nie of wie dit nie reg lees nie. Ek persoonlik weet nie hoe om dit anders te lees as soos wat dit deur die jare geskryf is nie. En ek het verskeie Afrikaanse en Engelse vertalings, en almal gee net een boodskap, Woord van God wat lei en leer.
Selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse en die “Liefde is liefde is liefde” stelling
Die Algemene Sinode van 2015 en 2019 het selfdegeslagvebintenisse en -verhoudings goedgekeur. Die Algemene Sinode het selfs sover gegaan as om homoseksualiteit en seksuale oriëntasie, as ’n “gawe van God” te verklaar, en dit terwyl die Bybel verskeie tekste het wat verklaar dat dit sonde is en dat vir God ’n gruwelike euwel is. Daar is selfs opdrag gegee aan ’n Taakspan om ’n “formulier” te ontwikkel vir selfdegeslagverbintenisse. Die NG Kerk het al vir ’n paar jaar ’n “Seisoen van Menswaardigheid” wat eintlik niks anders is as ’n propagandamasjien vir die LBGTQI+ voorstanders nie, want elke Christen, elke ware kind van God sal elke mens ongeag wie hy of sy is, met menswaardigheid behandel. Nog nooit was die kerk se deure vir enigiemand toegemaak na 1986 nie. Almal word met liefde en deernis in die erediens ontvang. As iemand sê hy of sy is ’n Christen, maar tree sonder liefde op teenoor ander, of behandel mense nie menswaardig nie, dan moet hy of sy weer gaan ondersoek doen in hulle lewens na aanleiding van God se woord.
My vrae aan hulle is:
is alle sondes sonde of net sekeres, en indien net sekeres, watter, want ons weet ook nie meer nie? Ons Bybels sê een ding maar julle vertel iets anders.

Professor/Doktor/Dosent, wat soek jy in die bediening? As jy nie glo in die Bybel nie, waarom is jy gelegimiteer, en waarom doseer jy nog die Bybel aan die Kuratoriums? Is dit nie net maar omdat jy ’n lekker groot salaris daar verdien nie?

Dominee, is jou bediening as leraar ’n roeping, of net ’n lekker, goedbetalende beroep?
My vraag aan jou as liewe lidmaat van die NG Kerk is dit: As gelowige, waar staan jy? Glo jy nog die Woord van God, of glo jy wat hierdie mense sê?

Ek wil jou liewe lidmaat vandag uitdaag. As jy glo dat God se Woord, die Bybel, Sy ware en onfeilbare Woord is wat vir ons as mense gegee is, dan daag ek jou vandag uit om dit per brief aan jou kerkraad te skryf, en ook om jou kerkraad uit te daag om dieselfde te doen deur aan die Ring, waaraan jou gemeente verbond is, dit op skrif, en baie pertinent en baie duidelik te stel, en ek daag dan elke Ring uit om deur Sy Ringskommissie standpunt in te neem en dit per brief aan sy Streeksinode en aan die Algemene Sinode te stuur. Dit staan natuurlik ook elke Kerkraad en elke lidmaat vry om self ook Beswaarskrifte aan die Algemene Sinode hieroor te rig.

In soverre dit my en my huis aangaan, ons sal bly glo dat die Bybel God se ware en onfeilbare Woord is, gegee vir ons as mense, en ons verwerp enigiets wat in stryd daarmee is.
Groete in Jesus Christus ons Verlosser.

Nic Botha
072 096 8062
nic.botha2@gmail.com

5 thoughts on “‘n Paar dinge waarvan NG kerk lidmate dalk nie van bewus is nie”

  1. Dankie. Stem saam.
    Veral met die gedagte waarom is jy nog in die kerk?
    Verder waarom duld ons die false profeet in die kerk?
    Is die geestelike vlak van ons mense so laag dat ons die false profeet nie kan sien en uitwerp nie?
    Ek gaan die brief in my gemeente versprei. As almal dit doen maak ons dalk ’n verskil.
    Ek wil ook weet waarom my kerk nie by die lys van gedoleerde gemeentes is nie …
    Vrede en onthou Jesus het ’n sweep gevat en mense geslaan!!!

  2. Presies wat jy sê Nic ek stem een 100% met jou saam daar is baie ander dinge wat die lidmate nie weet nie wat heimlik vertroetel word in ons kerke. Katolieke gebruike wat mens gemaakte geboeie is kyk wat sê (Matt 15) Soos die Katolieke geloofsbeleidenis geskryf deur ’n volblod Jesuiete Katolieke Pous Konstantein waarin hy Christus hel to stuur , terwyl die Evangelies uit die mond van Christus verklaar “drie dae en drie nagte in die buik of hart van die aarde.” Sou Christus gelieg het oor dit as ons Num. 23:19 lees sê dit “God is geen man dat hy sou lieg nie” sou Hy dan gelieg het eerstens oor die drie dae en drie nagte en tweedens oor die plek waarheen Hy gaan? tewyl die Kerke heimlik aan ons paasfees voorhou en glo dat goeievrydag en paasmaandag die kruisiging kon plaas vind en dit volgens oorlewering vir jare al glo en verkondig. terwyl dit ’n groot leuen is en was geskep die die Katolieke om saam te val met hulle pagan gebruik van son aanbidding. Ek glo dat daar seker meer verligte predikers is wat al die pagan gewoonte verstaan maar vasklou terwille van hulle vet salaris. Dan die kinderdoop volbloed katolieke gebuik beide die gebruik van paasfees en kinderdoop word nerens in die Bybel van melding gemaak nie maar is pagan georienteer en so in ons protestante kerke se kele afgedruk. Lidmate bevraagteken dit nie want die geleerde prediker sal mos nie vir hulle lieg nie. Die Bybel vertalings staan direk onder die Katolieke hoermoeder wat stelselmatig ons Bybels verkag om haar dogma te bevorder nl. een kerkstelsel onder die katolike kerk. Dit is duidelik dat die kerke klaar die new age teologie verkondig om agter die katolike aan te gaan. Talle kerklike denominasies resorteer direk onder die katolieke hoermoeder “The mother of all Churches” en verblind die wêreld waaronder die NG kerk ook staan. Dan verklaar die woord duidelik dat die afval in die kerk sal begin wat tans die geval is. Ons sal dit nie kan keer of verander nie dit is vas besluit deur God dat dit gaan plaas vind. Briewe aan die Sinode en Kerk Bode of, liewer Kerk Verbode koerant beland eenvoudig in die snippermandjie. Die predikers vemy die boek Openbaring waarin hulle oordeel duidelik beskryf word Openbaring 18 vers 4 to 6 vertel gelowiges wat om te doen en predikers sal dit nooit verkondig vanaf die kansels nie. Ons staan in die laatste despensasie van genade wat spoedig na ’n einde beweeg en gebeure wys dit uit maar predikers verkondig ’n woord wat sag op die oor val en versuim om die Bruid van Christus toe te rus met die waarheid, gemeentelede sit houtgerus en slaap onder die prediking, Die tyd vir kerk speel is verby ons moet erns maak met die waarheid in die woord. as ons dit nie self ondersoek nie sal ons salig onbewus voor Hom gaan staan en sê ,”maar Here ek het nie geweet nie,!!” Dan sê die woord ook in Eseg 33:6 As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg;dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. Ons wagters op die mure blaas lankal nie meer die basuin nie maar spreek woorde wat sag op die oor moet val.
    Bekomerde lidmaat maar ek dank God wat Hom wil openbaar aan wie Hy wil.
    David Burger

  3. Ds Nic. Wat jy sê is baie waar.

    Ongelukkig is meeste mense (ook ons sinode?) so selfgesentreerd dat hulle eie voordeel altyd eerste geplaas word. Dit is tyd dat mense (ook die sinode?) ophou redekawel oor ding wat duidelik in die Bybel geskryf staan. (Kyk maar net die hele debakel oor homoseksualiteit). Die Sinode/s moet besluit of hulle die belange van God op die hart dra en of hulle in ’n gewildheidskompetisie is. Dit is nodig dat mense die waarheid hoor vir wat dit is. Dit is nodig om ’n afskuwelike sonde op sy naam te noem. Moet nie allerhande draaie en swaaie maak netomdat jy nie op MENSE se tone wil trap en MENSE se gevoelens in ag wil neem nie. In die proses trap jy dalk op GOD se hart!
    Om aan die wil van mense toe te gee is om die duiwel in persoon te dien. Die Bybel is in werklikheid baie duidelik en ondubbelsinnig. Dit is die Wetboek van ons geloof in God. Vir hierdie rede sal die sinode verantwoordelik staan vir vals interpretasies en misleidende verdraaiing van die Bybel.
    Dit is tyd dat ons, as kinders van God, ’n slag ernstig na ons self kyk. Dit is tyd dat ons die Bybel met perspektief begin bestudeer en dat ons ons sal bewapen met die regte kennis om nie so maklik om die bos gelei te word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui