Goudland SBK (20 Oktober 2020)

Die volgende skrywe kom ná die Goudland Sinode Sinodale Bestuurskommissie vergadering op 20 Oktober 2020.

Hierin word onder andere voorgestel dat die Goudland Sinode die volgende besluite neem:

  1. Herbevestig die Sinode van Goudland se 2015 besluit insake die goedgekeurde SGV beleid en versoek gemeentes en leraars om dit toe te pas.
  2. Dat die hele Algemene Sinode 2019 besluit insake SGV nie vir die Sinode van Goudland geld nie.

Daar word egter niks gesê daaroor dat Goudland moet wegbreek van die Algemene Sinode nie (artikel 37). ’n Mens hoop dat dit steeds ’n moontlikheid is in Februarie 2021.

***********

Skrywe namens die volle SBK (Sinodale Bestuurskommissie)

Leraars, Kerkrade en Skribas,

Die volle SBK (Sinodale Bestuurskommissie) het op 20 Oktober 2020 by die tuiste van die Sinode in Randfontein vergader.

Ons lewer graag verslag oor enkele sake wat bespreek is:

1. Sinodesitting

Die SBK het die datum vir die 4 jaarlikse sinode van NG Kerk Goudland vasgestel vir 25 Februarie 2021. Afgevaardigdes sal in Januarie 2021 meer inligting ontvang. Ons gee solank die datum sodat julle dit op julle almanakke kan aanbring.

2. Gesprekke met Ringe

Die kommissie het terugvoering ontvang uit die gesprekke met die Ringe oor die pandemie se invloed op ons gemeentes en leraars. Missionale kerkwees en missionale Diakonaat sal verder daaraan aandag gee vir terugvroering tydens die sinodesitting van 2021.

3. Ander sake

Die kommissie het verskillende sake behandel soos, jong leraars en hulle behoeftes, kleiner wordende ringe en gemeentes ens. waaroor by die Sinode verder gehandel sal word.

4. Selfdegeslagverbintenisse

Na aanleiding van vrae uit die Sinode oor die implementering van NG Kerk Goudland se beleid oor SGV (Selfdegeslagverbintenisse) het die SBK as volg besluit:

Die Sinode van Goudland het twee belangrike bindende besluite insake hierdie kwessie oor die selfdegeslagverbintenisse (SGV) geneem, naamlik:

BESLUIT 1: INSAKE SGV-BELEID 2015

Die sinode van Goudland besluit soos volg:

  1. Die Sinode aanvaar die Woord van God as gesaghebbend en leidinggewend vir die leer en lewe vir alle gelowiges (2 Timoteus 3:16).
  2. Die Sinode aanvaar die menswaardigheid en gelykwaardigheid van alle mense en verbind haarself om met liefde en respek teenoor mense te leef.
  3. Die Sinode van Goudland herbevestig dat die Bybel verklaar dat die huwelik ’n heilige eenheid tussen een man en een vrou vir ’n lewenslange verbintenis is.
  4. Die Sinode van Goudland verklaar dat alle seksuele verhoudinge buite die band van die huwelik, nie Bybels verantwoordbaar en aanvaarbaar kan wees nie.

BESLUIT 2: VERKLAARDE GESKIL MET DIE ALGEMENE SINODE (AS) INSAKE 2019 SGV-BESLUIT

Die sinode van Goudland verklaar ’n geskil met die Algemene Sinode insake die totaliteit van die besluit rakende SGV asook seksuele oriëntasie en identiteite, aangesien dit strydig is met die Sinode van Goudland se 2015 besluite rakende die huwelik en seksualiteit.

Die Sinode van Goudland het intussen hierdie gesprekspad met die AS via die ASM (Algemene Sinodale Moderamen) begin stap, maar word telkens skriftelik deur die ASM en/of ATR (Algemene Taakspan Regte) daaraan herinner:

  1. Die 2019-besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse neem geen voorkeurstandpunt vir of teen selfdegeslagverbintenisse in nie.
  2. Die 2019-besluit het die status van ’n beleidsraamwerk. Dit is nie voorskriftelik nie. Geen standpunt word dus op gemeentes afgedwing nie. Die inhoud van die beleid is juis dat ’n diversiteit van standpunte oor hierdie aangeleentheid moontlik is.
  3. Kerkregtelik is dit moontlik vir gemeentes en sinodes om selfstandig beleidstandpunte in te neem oor aangeleenthede soos hierdie. Opmerking: Hierdie is by meer as een geleentheid (onder andere, November 2019, Maart 2020 en September 2020) deur die AS en ATR aan die Sinode van Goudland gekommunikeer.

Uit die AS se skriftelike antwoorde blyk dit duidelik dat die Sinode van Goudland of gevolmagtigde liggaam (Sinodale Bestuurskommissie) dus ten minste die volgende drie besluite behoort te neem, naamlik:

BESLUIT EEN: 2020

Die Sinode van Goudland herbevestig die Sinode van Goudland se 2015 besluit insake die goedgekeurde SGV beleid en versoek gemeentes en leraars om dit toe te pas.

BESLUIT TWEE: 2020

Die Sinode van Goudland beveel aan, na uitklaring met die ASM, dat die hele Algemene Sinode 2019 besluit insake SGV nie vir die Sinode van Goudland geld nie.

BESLUIT DRIE: 2020

Die Sinode van Goudland beveel aan, na uitklaring met die ASM, dat leraars en kerkrade nie nodig het om besluite oor die selfdegeslagverbintenisse 2019 besluit te neem nie, aangesien die Algemene Sinode self erken dat die selfdegeslagverbintenisse besluit nie vir die Sinode van Goudland geld nie.

Slotwoord

Ons stuur die drie besluite deur na ons kerkrade en gemeentes met die bede dat daar groter rustigheid in ons kerk in Goudland kan kom. Indien daar onsekerheid of vrae rondom die besluite is kan julle gerus vrymoedigheid neem en ons as Dagbestuur kontak.

Ons is bereid om gemeentes te woord te staan ook.

Vriendelike groete in Christus,

Ds. Johan Brink (Voorsitter van die SBK) namens die SBK

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui