Ongerymdhede tydens die Ringsitting van Somerset-Wes, 28 Oktober 2021

Opsomming

Die Ring van Somerset-Wes het op Donderdag, 28 Oktober 2021 ’n Ringsitting gehad. Voor die Ringsitting is slegs die predikante byeen gebring om ’n gesamentlike ringsverklaring te bespreek. Ds Frikkie van Niekerk, van Die Strandgemeente, en ds Carel Smith van Suider-Strand, het beswaar teen die verklaring aangeteken omdat dit die doleringsverklaring van Die Strandgemeente tot niet sou maak. Die bewoording van die ringsverklaring is toe verander, maar die verklaring is toe nooit onderteken nie. Dit skep die idee dat die hele doel van die verklaring juis was vir die gedeelte wat verwyder is.

Agtergrond

Die Ring van Somerset-Wes bestaan uit die volgende gemeentes:

  • Die Strand (Frikkie van Niekerk)
  • Gordonsbaai
  • Helderberg
  • Hottentots-Holland
  • Lourensrivier
  • Somerset-Wes
  • Strand-Noord
  • Suider-Strand (Christo Benadé, Carel Smith)

Die Strandgemeente het op 9 Junie 2021 besluit om te doleer. In hulle doleringsbesluit het hulle as rede aangevoer dat die NG Kerk van haar belydenis afgewyk het deur sommige sinodebesluite en optrede deur verskillende teoloë.

Die Ringsvoorsitter, Christo Benadé (van Suider-Strandgemeente), het daarna namens die Ring van Somerset-Wes hierop gereageer in Reaksie van die Ringskommissie Somerset-Wes op 7 punte van beswaar van die NG Gemeente die Strand. Daarin het hy ontken dat die NG Kerk van haar belydenis afgewyk het. Kort daarna het die moderator van die NG Kerk, Nelis Janse van Rensburg, ook op Die Strand se verklaring gereageer en, soos Christo Benadé, ontken dat die NG Kerk op ’n dwaalpad is. Dit het gelei tot heelwat berigte in die media.

Vir meer oor hierdie gebeurtenis, kyk Opsomming: Die Strand doleer.

Gebeure voor die Ringsitting

Intussen het die stof gaan lê, maar voor die Ringsvergadering op Donderdag 28 Oktober 2021 is ’n aparte vergadering belê slegs vir die predikante (sonder die afgevaardigde kerkraadslede) om ’n voorgestelde gesamentlike ringsverklaring te bespreek. Hierdie verklaring sou egter die doleringsverklaring van Die Strand tot niet maak.

Twee predikante, ds Frikkie van Niekerk van Die Strand, en ds Carel Smith van Suider-Strand, het beswaar aangeteken. Die verklaring is verander maar toe nooit onderteken nie.

Hier volg die verklaring. Die rooi gedeeltes dui die veranderinge aan wat op die ou einde aangebring is:

Adventgetuienis deur leraars van die Ring van Somerset Wes: Oktober 2021

As leraars getuig ons met oortuiging van die volgende:

  • Dat ons glo dat God ons dra deur hierdie moeilike Covid-19 pandemie, en ook Sy kerk in stand sal hou.
  • Dat ons verseker is van die troos wat die evangelie bring vir almal wat geliefdes verloor het gedurende hierdie moeilike twee jaar, en verseker is dat ons weer by mekaar sal aansluit.
  • Ons bely ook die Gereformeerde en Ekumeniese belydenisskrifte wat o.a. die volgende insluit dat:

Ons glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvant is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ons glo in die Heilige Gees.
Ons glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

  • [Verwyder: Dat die kerk waarbinne ons geroep is, die Ned. Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, steeds belyn met, en getrou is aan hierdie belydenisse.]
  • Dat ons die menswaardigheid van alle mense, as skepsels van en na die beeld van God erken ongeag, ras, geslag, seksualiteit, ouderdom, sosio-ekonomiese omstandighede, intellektuele fisiese vermoëns.
  • Dat ons oortuig is dat die eenheid tussen gelowiges deel is van die kerk se getuienis in die wêreld. [Bygevoeg: Dat ons, in Christus, onderneem om in eerlike gesprekke met mekaar te bly gesels oor die sake waaroor ons verskil.]

Onderteken deur:

Naam, Handtekening

Vrae

Die aangeleentheid bring ’n paar vrae na vore:

  1. Hoekom is hierdie verklaring aan die Ring voorgelê as dit baie duidelik is dat dit Die Strand se doleringsverklaring tot niet sou maak? Het die Ringsvoorsitter, Christo Benadé, dit misgekyk?
  2. Hoekom is hierdie verklaring “in die geheim” bespreek, sonder die teenwoordigheid van die kerkraadslede?
  3. Is dit kerkordelik toelaatbaar dat slegs die predikante van ’n Ring ’n besluit namens die Ring kan neem sonder die kerkraadslede?
  4. Hoekom is die nuwe verklaring toe nooit onderteken nie? Dit skep die indruk dat die sin wat verwyder is die enigste doel van die Ringsverklaring was.

‘n Mens kan nie help om te dink dat hierdie niks anders was as ’n lokval wat vir Die Strandgemeente gestel is nie. Gelukkig het hulle nie daarvoor geval nie.

Ondervinding het ook geleer dat die twaalf artikels, wat ingesluit is in die verklaring, absoluut niks beteken nie. Kyk “Ek bely steeds die belydenisskrifte”.

1 thought on “Ongerymdhede tydens die Ringsitting van Somerset-Wes, 28 Oktober 2021”

  1. Dis goed om te hoor dat die AS vd NG kerk se besluitnemings belyn word met ons geref belydenisskrifte. Vraag is of dit vir hierdie vergadering ook oor die inhoud daarvan gaan. Indien “ja”, watter inhoud? En as daar gesê word watter inhoud, is die volgende vraag wat uitgelaat word en waarom?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui