NG gemeente Koppies Weltevrede se standpunt oor SGV

Kyk ook:

NG KERK KOPPIES – WELTEVREDE

DS EB MARITZ

STANDPUNT OOR HOMOSEKSUALITEIT

  1. Die hele Skrif leer dat die huwelik bestaan uit een man en een vrou wat deur God saamgevoeg is, en wat die mens nie mag skei nie (Gen.1:27, 2:24; Mal. 2:14-15; Mat. 19:4-6; 1 Kor. 7:2; Ef. 5; 1 Petr. 3).
  2. Die Skrif leer dat seksuele gemeenskap alleen binne die huwelik mag plaasvind (1 Kor. 7). Daarom is saamwoon voor die huwelik, wat seksuele verkeer insluit voor die huwelik, sonde en word hoerery genoem (Kol. 3:5). Enige seksuele vervulling buite die huwelik is onsedelikheid en owerspel (1 Kor. 4:3-8).
  3. Die Skrif het geen ruimte vir die uitleef van Gay–gevoelens en –verhoudings nie, omdat dit teen die natuur is soos God die mens geskape het en sonde is (Gen. 18:22; 20:13, Rom. 1:26-27, 1 Kor. 6:9-11, 1 Tim. 1:10).
  4. God het alle mens lief en het Christus gestuur om vir alle mense te sterf (Joh. 3:16). Dit sluit hetero-seksueles, Gays, pedofiele, moordenaars en diewe in. Daarom moet ons Gays liefhê met die liefde van God. Ons moet God liefhê en ons naaste soos onsself, en dit sluit mense met homoseksuele oriëntasie in (Mat. 22:37-40).
  5. Dit beteken egter nie dat ons sulke mense se sondige dade goedkeur en in die gemeente kan toelaat nie (1 Kor. 11). Die liefde van God wil nie ons sonde goedkeur nie, maar ons daarvan verlos (Ef. 1:7; Joh. 8:11). Die liefde van God gaan altyd saam met God se geregtigheid en waarheid. Liefde wat sonde binne die kerk goedkeur, is valse liefde (1 Kor. 13:6).
  6. God roep alle mense oral op om hulle te bekeer (Hand. 17:30). Alle mense is welkom in die kerk as besoekers, maar word eers deel van die kerk as hulle tot bekering kom en weergebore word (1 Petr. 1:3; 1 Kor. 12:13). Die ware kerk is nie inklusief nie, maar eksklusief.
  7. Almal word genooi ,maar die wat Christus nie wil gehoorsaam nie, kan nie deel word van die kerk nie en sal ewig verlore gaan (Joh. 3:16-18, Luk. 12:43-59; 13:22-30).
  8. Daarom is alle Gays welkom in die kerk, maar moet hulle hul ook bekeer van hulle sonde tot Christus, voordat hulle lidmate of geestelike leiers kan word. Dit sluit in dat hulle alle homoseksuele verhoudings moet laat vaar en rein lewe (1 Kor. 6:11). Dit geld in gelyke mate vir alle sondaars en sondes (Mat. 3:2-8). Ons almal is in sonde gebore (Ps. 51:7; Rom. 3:23) en moet tot geloof in Christus kom, wat bekering van sonde insluit (1 Petr. 4:1-3). Soos alle ander gelowiges die sondes moet aflê en daarteen stry deur hul self te reken as saam met Christus gekruisig vir hul ou natuur, moet Gays dit ook doen (Ef. 6:6-14).
  9. Om van Gays te verwag om te breek met hul Gay-verhouding en seksuele uitlewing met dieselfde geslag, is nie liefdeloos nie. Liefde is juis om die Woord te gehoorsaam en om by die waarheid te bly. Liefde is juis om iemand te waarsku teen sy sonde en hom op te roep om Christus te volg (2 Kor. 5:11-21). As hy dit nie wil doen nie, sluit hy homself uit van die gemeenskap van die gelowiges (Mat. 16:24-28; Mat. 19:16-30).
  10. Die Skrifgedeeltes wat teen die uitlewing van Gay-verhouding en seksuele vervulling spreek, is baie duidelik en ondubbelsinnig. Dit moet letterlik opgeneem word soos dit in die grondtaal staan, en die historiese konteks bevestig dat God daar enige seksuele verkeer met dieselfde geslag verbied en dit beskou as ’n gruwel. Dit is nie waar dat die historiese konteks leer dat dit net in verband met afgode en verkragting te doen het nie (Lev. 18:22; 20:13; 1 Kor. 6: 9-11; 1 Tim. 1:10).
  11. Die Woord ken nie so iets soos ’n “burgerlike verhouding” waarin Gays bevestig kan word nie. Dit is ’n lisensie om in hoerery saam te lewe en ’n skande dat die kerk die lisensie daarvoor wil aanbied. Dit is nie ’n huwelik nie en so ’n verhouding is dus nie deur God saamgevoeg nie. Daarom verwerp die leraar, die kerkraad en die gemeente die besluite van die Algemene Sinode in dié verband, en is bedroef dat dit tot oneer van God strek voor die wêreld en juis nie een persoon met homoseksuele oriëntasie tot ware bekering en heiligmaking sal lei nie. Ons verwerp ook die aantygings van liberale teoloë teen ons behoudende gelowiges en teoloë dat ons liefdeloos is as ons in liefde by die waarheid bly (Ef. 4: 15). In die oordeelsdag sal dit duidelik blyk dat ons genoeg liefde gehad het om by die Woord te bly staan, wetende dat ons eendag volgens die Woord geoordeel sal word (Joh.12:48). Ons het groot respek vir baie gelowiges wat ’n homoseksuele oriëntasie het en hul bekeer het omdat hulle die Woord van God as enigste norm vir hul lewe aanvaar en selibaat lewe, al is dit baie moeilik. Maar die meeste ander gelowiges het ook ’n hewige stryd teen die sonde en teen hul ou natuur met sy hartstogte en begeerlikhede. Almal van ons moet egter ná bekering kies om die werke van die vlees af te lê en deur die Gees te wandel (Gal. 5:16-25).
  12. Die bewering van die Moderator dat die “Kerk” baie “konserwatief” was deur vir Gays ’n ruimte te skep waarbinne hulle nou wettig seksueel kan verkeer, is skynheilige spelery met woorde om mense sag te maak en te mslei. Daarmee onderskat hy die intelligensie van gewone gelowiges wat weet dat hy weet dat hierdie besluit opgekom het uit goddelose liberale denke gevul met humanisme en die drang om mense tevrede te stel in plaas van vir God. As ons in hierdie verkeerde sin diensknegte van mense word, is ons nie meer diensknegte van God nie (Gal. 1:10). Daarom het Jesus gewaarsku: ”Maar pasop vir die valse profete wat in skaapsklere na julle toe kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” (Mat. 7:15-16). In Jesaja 5 waarsku die Here teen geestelike leiers wat sleg goed noem en goed sleg, wat duisternis lig maak en lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Die Here soek reg en geregtigheid en sy toorn ontvlam oor sulke leiers, want hulle het die Woord van die Here verwerp. Hy waarsku dat Hy hulle gaan straf. Liefde wat mense wil insluit ten koste van geregtigheid is valse humanistiese liefde. Paulus waarsku dat daar ’n tyd sal wees dat mense nie die gesonde leer sal verdra nie, omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, en vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede en die oor sal afkeer van die WAARHEID en hul sal wend tot fabels (2 Tim. 4). Dit is wat nou binne die NG Kerk gebeur.

TEKSGEDEELTES:

Lev. 18:22 en 20:13: Hierdie twee teksgedeeltes sê helder en duidelik dat ’n man nie met ’n manspersoon gemeenskap mag hê soos met ’n vrou nie. Dit is ’n gruwel. Die feit dat Paulus onder leiding van die heilige Gees in die Nuwe Testament dit as sonde klassifiseer, bevestig dat die beginsel ook vandag geld vir die gelowiges. Die redenasie om te sê dat ons dit nie meer letterlik kan opneem nie, want dan moet praktiserende Gays doodgemaak word, gaan nie op nie, want Christus se versoening het genade gebring, wat uitstel van tyd gee sodat mense tot bekering kan kom. As genadetyd verby gegaan het, sal onbekeerdes wat in sonde (enige sonde) volhard, veroordeel en gestraf word (Rom. 2:1-10).

Rom 1 praat met al God se skepsels wat die waarheid, dat God die Skepper van die wêreld is, onderdruk sodat hulle in sonde kan volhard. Hulle draai hul moedswillig na die afgode omdat sonde daar nie as sonde gereken word nie, en hulle in hul sonde wil volhard. Daarom gee God hulle oor aan die hardheid van hul harte sodat hulle dieper in sonde ingaan na die onnatuurlik wellus tot dieselfde geslag. Dit gaan nie hier net oor verkragting en Gay-hoerey met verskillende partye nie. Dit gaan hier duidelik oor homoseksuele verkeer wat as teen die natuur verklaar word. Paulus gee hier geen ruimte dat daar “ordentlike homoseksuele verhoudings kan bestaan nie”. In Rom. 2 roep Paulus almal op tot bekering en dit geld ook vir Gays.

1 Kor. 6:9-11: Paulus waarsku die Korinthiërs dat hulle nie dink dat hulle in sonde kan volhard en die koninkryk van God ingaan nie. As hulle so dink, is hulle mislei. Hy klassifiseer hier baie duidelik praktiserende Gays in dieselfde sonde-kategorie as dronkaards, diewe en afgodsdienaars. Hier word vier Griekse woorde gebruik wat waarsku teen seksuele sondes, waarvan twee handel oor homoseksuele persone wat met dieselfde geslag seksueel verkeer. 1. Pornoi: losbandiges of prostitute; 2. Moighoi: enige seks buite die huwelik. Ook gebruik vir manlike prostitute beskikbaar vir vrouens. 3. Malakoi: die man wat die vroulike rol vervul en toelaat dat mans hom seksueel gebruik. 4. Arsenokoitai: mans wat met dieselfde geslag seksueel verkeer. Om te sê dat Paulus hier praat met die agtergrond van afgodery waar homoseksuele dade buite vaste verhouding gepleeg is, is wensdenkery. In daardie tyd was “mooi” homoseksuele verhoudings ’n algemene praktyk en nie noodwendig aan afgodery gekoppel nie. As mens so moet redeneer, moet jy ook sê dat mens maar kan drink en steel, solank jy dit net ordentlik doen sonder kontak met die afgode. Drankmisbruik en gierigheid was ook deel van die afgodery. Daar was geheime organisasies gekoppel aan die afgodstempels waarsonder mense nie besigheid kon doen nie, en waardeur mense geweldig beroof is. Op die ou end sou mens al die ander sondes, wat Paulus hier noem as sonde, kon verwerp, solank dit buite afgodery en in mooi verhoudings kon geskied. Dit is doelbewuste misbruik van die historiese agtergrond om dit so te verdraai dat die teks moet goedkeur wat die mens wil hê. Die historiese agtergrond moet saam met die letterlike lees van die teks korrek uitgelê word. Mense wat sê dat hul gelowiges is, maar volhard in hierdie sondes, word ONREGVERDIGES genoem. Vers 11 sê dat ware gelowiges van hierdie sondes afgewas is en geregverdig is. Hoe kan ons weer daarheen terugkeer soos ’n hond na sy eie uitbraaksel of soos ’n vark wat weer in die modder gaan rol (2 Petr. 2:22)! In dieselfde hoofstuk waarsku Paulus teen valse predikers wat mense leer dat hul maar kan voortgaan met sonde. Vir sulke dwaalleraars word die donkerste plek in die hel bewaar. So wees gewaarsku.

1 Tim. 1:10-11: Paulus sê hier duidelik aan Timoteus dat arsenokoitas (sodomiete) sonde is volgens die gesonde leer, net soos hoereerders, mensediewe en leuenaars. Wil die Algemene Sinode ook vir hierdie laasgenoemde sondes vryskelding gee omdat dit ook dikwels met afgodery gepaard gegaan het? Hy sê duidelik hier dat moordenaars, hoereerders, hulle wat met dieselfde geslag seksueel verkeer en leuenaars in stryd (Grieks: die teenoorgestelde, contrary, the opposite) is met die gesonde leer. Deel van die evangelie is om hierdie sondes as SONDE te sien (v 11). Die Algemene Sinode is dus tans in stryd met die gesonde leer van die Apostels en behoort onder tug te kom. As hulle hul nie bekeer nie behoort hulle onder sensuur te kom en die predikers en teoloë wat vir die onbybelse besluit gestem het moet geskors word. Behoudende teoloë wat nie opstaan en standpunt inneem teen hierdie dwaling nie, is ontrou aan die Woord van God en hul roeping om te leer, te weerlê, tereg te wys en te onderwys in die GEREGTIGHEID (2 Tim. 3:16). Die wortel van hierdie dwaling is dat baie van die teoloë wat al vir jare veg om die NG Kerk te kaap en hierdie besluit deur te kry, nie meer glo dat die Bybel die geȉnspireerde Woord van God is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui