NG Gemeente Jeffreysbaai se standpunt oor SGV

Kyk ook:

Hier volg NG Gemeente Jeffreysbaai se standpunt soos gekommunikeer op 29 November 2015.

GEMEENTERAADSVERGADERING VAN 24 NOVEMBER 2015

SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

Die besluite wat die Algemene Sinode 2015 rakende selfdegeslagverhoudings geneem het, het wye en uiteenlopende reaksies ontlok. Ook in ons gemeente is daar verskillende menings oor die onderwerp.

Een van die kernvrae handel oor die manier waarop die Bybel gelees en verstaan word, want almal is dit eens dat die gesag van die Bybel as die Woord van God uiters belangrik is.

  • Sommige sê dit gaan oor die getuienis dat die gesag van die Bybel as die Woord van God gehandhaaf moet word; dat die heiligheid van God en die gehoorsaamheid van die kerk aan die duidelike opdragte en eise van Gods Woord op die spel is; dat enige ontrou op hierdie punt die dun ent van die wig sal wees waardeur die tydsgees van allerverdraagsaamheid en relatiwisme die kerk sal binnedring en verwoes.
  • Andere meen dat die getuienis van die kerk as versorgende, versoenende, vergewende, pastorale dienskneg van die genadige God Self hier op die spel is; dat liefdelose, onbarmhartige woorde en dade op hierdie punt die kerk se getuienis as navolgers van die liefdevolle Jesus Christus finaal ongeloofwaardig sal maak in die oë van ’n wêreld wat die kerk alreeds as onbarmhartig en liefdeloos sien.
  • Volgens die een standpunt word ’n homoseksuele lewenstyl duidelik in die Bybel veroordeel as sonde voor God en behoort persone met ’n homoseksuele oriëntasie begelei te word om óf hiervan bevry te word, óf vir ’n lewe van seksuele onthouding (selibaat) te kies.
  • Volgens die ander standpunt is daar geen Bybelse gronde om dit wat vandag onder homoseksualiteit verstaan word, sonder meer te veroordeel nie. Homoseksuele persone moet eerder begelei word om hulle seksualiteit op verantwoordelike wyse uit te leef.

Die Gemeenteraad neem kennis van hierdie verskille in benadering en besef dat daar middelgrond tussen hierdie standpunte gesoek moet word. Op grond van ons verbintenis aan die Skrif en ons aanvaarding van Jesus se opdrag tot naasteliefde, is die Gemeenteraad oortuig dat hierdie pad vir ons Gemeente verken moet word. Daarom het die Gemeenteraad ’n visionerende pre-advies taakspan aangewys om DV tot en met 2017 alle voorstelle en aspekte ter tafel te bestudeer met die oog op die versoening van idees en die bestuur van diversiteit.
Hierdie taakspan sal naas die bestudering van God se Woord, onder andere ten doel hê om met groot pastorale deernis kennis te neem van die standpunte van:

  • ons lidmate met homoseksuele oriëntasie, hulle families en vriende wat tans in die kollig van die kerklike debat verkeer en persoonlik geraak word deur die gesprek.
  • ons lidmate wat ontstem, ontwrig en kwaad is oor die besluite van die Algemene Sinode.

Veilige ruimtes moet geskep word waarin daar deeglik geluister word na die emosies en oortuigings van bogenoemde en ander lidmate. In hierdie gesprekke moet waardes soos respek, omarming en liefde die grondslag vorm van die dialoog.

Aangesien die uitvoering van die besluite van die Algemene Sinode 2015 rakende selfdegeslagverhoudings tans gesuspendeer is tot afhandeling van die appèlle, volstaan die Gemeenteraad by die besluite van die Algemene Sinodes van 2007 en 2013, wat soos volg lees:

Die Algemene Sinode 2007 besluit soos volg:

  1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
  2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
  3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
  4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.
  5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
  6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
  7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
  8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

Die Algemene Sinode 2013

  1. Bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ’n deeglike eksegetiese en teologiese studie.
  2. Gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ’n studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie
  3. besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.
  4. Verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

Die Gemeenteraad spreek sy dank en waardering uit teenoor die Leer en Aktuele Sakebediening en Leraarspan wat met groot toewyding, baie tyd en aandag alreeds aan hierdie saak gewy het en moedig gemeentelede aan om hierdie saak steeds in biddende afhanklikheid en liefdevolle deernis te hanteer.

Navrae kan aan Johan Schamrel: Voorsitter Gemeenteraad 042 296 1521

2 thoughts on “NG Gemeente Jeffreysbaai se standpunt oor SGV”

  1. Goeie dag.

    Ek is tans leraar by NG gemeente Jeffreysbaai en ons wil vra dat julle asseblief hierdie artikel sal verwyder?

    Ons het intussen nuwe dokumente.

    Groete en baie dankie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui