Vrees dat twis oor gays in die kerk in hof kan draai

Kyk ook:

Die gay besluit is vir eers gestuit (kyk Gay besluit vir eers gestuit). Die vraag is of die besluit sommer so gestuit kan word as die Algemene Sinode die besluit amptelik geneem het. Mense wat vir die besluit was is nou baie ongelukkig en mag dalk selfs die hof vra om hieroor te besluit. Kyk ook 65 maak beswaar teen bevriesing van gay besluit.

In ’n herderlike brief (kyk onder die artikel “Vrees dat twis oor gays in die kerk in hof kan draai”) word verduidelik hoe die besluit opgeskort kon word. Interessante aanhaling van Daryl Guder. Die Bybel verkondig eerder eenheid, nie verskil nie (Efesiërs 4:3,13).

******

Vrees dat twis oor gays in die kerk in hof kan draai

Deur Jean Oosthuizen, 21 November 2015 23:37

NG Kerkleiers vrees die onverwagse appèl teen die algemene sinode se besluit om gays op die kansel toe te laat, kan in die hof draai as ’n “kerk­like” oplossing nie gevind kan word nie.

So ’n hofsaak – en die moontlikheid dat diegene wat teen die besluit gekant is die kerkorde kan gebruik om ’n uiteindelike besluit so lank moontlik te laat sloer – kan beteken dat die hele gay-kwessie nog lank ’n twis­appel in die kerk kan bly.

Uit gesprekke met predikante en kerkregkenners die afgelope week is dit duidelik daar word in sommige kringe ernstige vrae gevra oor die proses wat gevolg is om die sinodebesluit ongedaan te maak.

Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, het op Facebook geskryf die opskorting van die gay-besluit “was die outomatiese gevolg van die appèlle” en dat die kerk, ingevolge ­gemene reg, geen keuse gehad het nie.

Prof. Johan van der Merwe, die NG Kerk se aktuarius, sê die proses vorentoe sal in April op die vergadering van die kerk se Algemene Taakspan Regte (ATR) “met behulp van regsadvies” ­uitgeklaar word.

Sommige predikante trek dié liggaam se bevoegdheid om die saak verder te hanteer in twyfel.

Op sosiale media en in private gesprekke spreek heelwat predikante hul kommer uit dat die meerderheid van die ATR-lede op die sinodesitting almal téén die gay-besluit gestem het.

‘n Liggaam waarvan die lede dus openlik “vyandiggesind” is teen die aanvanklike besluit, is dus nou die de facto-appèlliggaam, word gekla.

“Dit is soos om skeidsregter, afrigter én speler te wil wees!” het een dominee aan Rapportgesê.

Die NG gemeente Pinelands in die Wes-Kaap het sy sterkste teenkanting teen die appèlproses uitgespreek. Die gemeente sê in ’n verklaring dat dit “God-onterend en ’n gruwelike aantasting van gays se menswaardigheid is” dat die appèlle nou voorrang kan geniet bo die besluite van die algemene sinode.

“Ons is jammer oor die diepe seer wat die NG Kerk met hierdie besluite mense aandoen – nie net die gays nie, maar ook hul ouers, hul broers en susters, hul kinders en hul breër familie- en vriendekring.

“Ons as gemeente distansieer onsself van hierdie geweld wat die NG Kerk, maar ook die breër Christelike gemeenskap, mense aandoen. Ons gaan staan langs die gays, tussen hulle, as deel van hulle, verklaar onsself solidêr met hulle. Hulle is ons mense; wie hulle verder wil seermaak, maak daarom vir ons ook seer.”

In Wes-Transvaal is die weerstand teen die algemene sinode se besluit om gays ten volle te aanvaar egter so groot dat hulle dit Donderdag op ’n spesiale sinode met ’n groot meerderheid verwerp het. Van der Merwe wou nie sê wat die inhoud en aard van die appèlle is nie.

Rapport het vasgestel die appèlle handel oor verskeie sake waarvan die belangrikste is dat die besluit om gays te legitimeer, “teen die Bybel indruis”.

  • Intussen is die naam van een van die beswaardes, dr. Johann (Tokkie) Ernst, die afgelope week tydens die kerk se moderamenvergadering met ’n meerderheid van stemme as sekondant van die voorstel uit die notule van die algemene sinode se laaste sittingsdag verwyder.

In die konsepnotule was sy naam aangedui as een van die sekondante.

Die NG Kerk se hoofsekretaris, dr. Gustav Claassen, sê die konsepnotule het verkeerdelik aangedui dat Ernst die voorstel gesekondeer het en dat dit nou reggestel is.

Ernst het wel in ’n toespraak tydens die sinode afgevaardigdes aangemoedig om ten gunste van die gay-voorstel te stem.

Herderlike brief

Die volgende herderlike brief is op 20 November 2015 uitgereik deur die Hoëvelde sinode namens die SDK (Sinodale dienskommissie):

20 November 2015

Aan: Die Leraars en gemeentes in die NG Sinode Hoëveld

Na die afgelope Algemene Sinode in Pretoria (Oktober 2015) was daar verskillende reaksies oor die besluite wat tydens die sinodesitting geneem is. Reaksies het gewissel van positief en opgewonde tot negatief en ontnugter.

Die besluit van die Algemene Sinode rakende selfdegeslagverhoudings het veral reaksie ontlok en ons is intens bewus van die diep emosies wat hierdie besluit by lidmate teweeg gebring het. Ons het verskeie e-posse en besware ontvang vanaf Kerkrade, individue en Ringe rakende die besluit. Hierdie korrespondensie is deurgestuur na die Moderamen van die Algemene Sinode wat daarmee sal handel.

Daar het egter intussen appèlle ingekom teen die besluite van die Algemene Sinode. Die Moderamen van die Algemene Sinode het hieroor advies ingewin by verskeie regsadviseurs. Die gemenereg vereis dat:

  • Reeds die kennisgewing van ’n appèl die uitvoering van die besluit opskort. Die besluit is dus nie opgehef nie, maar kan nie tot en met die afhandeling van die appèlprosedure uitgevoer word nie.
  • In terme van die kerk se eie ordereëlings kan slegs die volgende gewone Algemene Sinode die appèlle hanteer (DV 2017).
  • Die implikasie hiervan is dat hierdie saak, hangende die hantering van die appèlle, nie verder op Algemene Sinodale vlak gedebatteer kan word nie. Dit kan egter op gemeentelike, ring en sinodale vlak verder bespreek en hanteer word.

Die Moderamen van die Algemene Sinode het in Edenvale van 16-18 November 2015 vergader. Die vergadering het in ’n positiewe gees en ’n goeie gesindheid plaasgevind. Die Moderamen het ’n beroep op gemeentes, ringe en sinodes gedoen om veilige en oop ruimtes te skep en verder gesprek te voer oor die aangeleentheid. Die geleentheid moet benut word om deeglik te besin oor die korrekte hantering van die Skrif, studie te doen van vorige besluite van die Algemene Sinode en ander relevante literatuur.

Die Algemene Sinodale Moderamen is besorg oor die effek van hierdie impasse op lidmate met homoseksuele oriëntasie en hulle families en vriende. Hulle roep gemeentes, ringe en sinodes op om met deernis en liefde met hierdie persone in gesprek te tree en hulle in te sluit in die warmte van ons kerklike huis.

Die Moderamen is ook besorg oor die lidmate wat met groot weerstand reageer het op die Sinode se besluite. Hulle versoek hierdie gelowiges om die kerklike weë te benut om hulle standpunte te stel. Ons glo dat ons altyd almal se deelname aan gesprekke soos hierdie nodig het om uiteindelik die waarheid te onderskei.

Liefde en eensgesindheid is ’n oproep uit die Skrif soos byvoorbeeld in Filippense 2:2: “Maak nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe”. Ons gesprekke moet altyd spreek van respek en integriteit. Etikettering en die skep van suspisie teenoor gespreksgenote dien nie tot die opbou van die kerk nie.

Graag wil ons op die volgende belangrike sake wys:

  • Die besluite van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit soos geneem in 2004, 2007 en 2013 is steeds van krag en is die algemeen geldende beleid van die NG Kerk en moet as sodanig deur gemeentes, ringe en sinodes hanteer word. Daar moet gelet word op al die besluite wat oor hierdie kwessie in 2004, 2007 en 2013 geneem is.
  • Appèlle en beswaarskrifte kan steeds in terme van die bepalings van die Kerkorde teen die 2015 sinode se besluite ingedien word.
  • Gesprek en besluite oor die aangeleentheid kan op gemeentelike, ringe en sinodale vlak steeds voortgaan. Die SDK sal gedurende 2016 aandag gee aan geleenthede vir gesprekke. Veilige ruimtes sal geskep word waarin daar deeglik geluister word na die emosies en oortuigings van lidmate. Gemeentes en Ringe kan ook hul eie geleenthede skep. Die SDK sal kerklike liggame bedien met advies oor die skep van veilige ruimtes.
    Die SDK sal vroeg in 2016 ’n spesiale geleentheid reël vir gesprekvoering met daardie persone wat skriftelike gereageer het om spesifiek oor die duidelikheid van die proses verder te gesels.
  • Waar konflik bestaan kan versoeningsgesprekke gehou word. Hierdie gesprekke geskied met empatie en in die gees van Christelike liefde.

Ons is verbind tot die eenheid van die kerk. Ons is verbind om met liefde God te verheerlik. Daryl Guder sê :

“Disagreeing Christianly is one of the most powerful forms of incarnational witness the church can practice.” (The Continuous Conversion of the Church).

Mag dit ook nou, waar ons intense verskille beleef, die krag van ons getuienis wees!

Nms – SDK: DAGBESTUUR

HUGO VAN DER LINDE

VOORSITTER

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui