‘n Melktert vir ’n Hindoe

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Julie 2005 deur Amor Louw geskryf.

**************

Mahatma Ghandi, ’n Hindoe het vir die Christene gesê: “Julle Christus trek my aan, maar julle Christene stoot my af.”

Ek het nog altyd ’n probleem gehad oor “getuienis” aan mense van ander gelowe. In my lewe het ek mense van ander gelowe ontmoet soos Jode, ’n Hollandse ongelowige en Hindoes, wat elkeen hulle eie geloof en lewensuitkyk gehad het. Ek het ervaar dat ’n “getuienis” van my kant af hulle sou afskrik en weersin by hulle sou opwek. Ek het die afgelope tyd ’n les by my Ma geleer.

My enigste en wonderlike ma is nou 87 jaar oud. Sy bly in ’n meenthuiskompleks in Benoni, waar sy besonder bemin en waardeer word deur die mense om haar. Sy is liefdevol, wys, betroubaar en baie opreg. Sy doen moeite met mense en sien hulle harte raak. Daarby dra sy ’n swaar kruis – sy is besig om blind te word, buiten al die kwale wat haar ou liggaam op hierdie leeftyd begin afbreek.

So ’n jaar of drie gelede het die meenthuis langs haar al vir 18 maande leeg gestaan. Sy het die Here gevra om vir haar goeie bure te stuur. Sy en Oupa Willem (my eie  pa is reeds oorlede toe ek nog op skool was) het nie meer ’n motor nie en is dus baie afhanklik van ander mense. Albei van hulle is baie konserwatief. My Ma het op die plaas in Ermelo distrik grootgeword en sy kan tot vandag toe nog Zoeloe praat. Oupa Willem was al die jare ’n rebel en hulle het regse politieke partye gesteun. Hulle glo aan elke volk op sy eie plek.

My Ma se gebed word toe verhoor, maar nie soos sy gedink het nie. Daar trek toe ’n Hindoe vrou van ongeveer 50 in by die woonstel langsaan, met die naam Lelita. Lelita het nooit getrou nie omdat sy haar ma lewenslank toegewyd versorg het. Haar broers dra haar op die hande omdat hulle haar respekteer vir die rol wat sy in hulle lewens gespeel het. Sy het grootgeword in Laingsburg (of soos sy sê: “Ek is opgebring in Laingsburg!”), uit ’n adellike Indiër familie. Haar moeder het die kinders Sondae na die Rooms Katolieke Kerk toe gestuur, by gebrek aan ’n Hindoe tempel (t.w.v. die godsdienstige atmosfeer). Lelita is nou onderhoof by ’n swart skool, waar sy Afrikaans vir die kinders gee. Die kinders in haar klas moet saans na 7e laan kyk en dit dan die volgende dag in die klas bespreek.

My Ma het agtergekom dat sy lief geword het vir Lelita en dat Lelita haar as ’n ma aangeneem het. Haar geselskap is vir my Ma opbouend en haar liefde onbetwisbaar. My Ma weet ook wanneer dit Lelita se gebedstyd is, want dan ruik sy die wierook uit die woonstel langsaan. ’n Gesprek oor geloof was onvermydelik en my Ma het haar geloof aan haar verduidelik, al het daar ’n ongemaklike stilte gevolg. Sy het selfs vir Lelita se broer, Ryan, gesê dat sy keuse tussen twee vrouens (een ’n Christen en die ander ’n nie-Christen) nie so moeilik is nie, want wat is nou verkeerd met ’n Christen, sy is dan self een!

Met haar verjaarsdag, die 26e Junie, het sy (soos vir al haar kleinkinders) ’n melktert gebak en dit met ’n paar sokkies vir Ryan gegee, wat dieselfde geboortedag met haar deel. Op sy beurt het hy vir haar die pragtigste oorgetrekte juwelekissie as present gegee. Lelita het vir haar ’n heerlike warm nagrok gegee. So is sy oorlaai met Hindoe-liefde. Vir Ryan, die donker Indiër prokureur, het sy gesê: “Ryan, dit is die eerste melktert wat ek vir ’n Indiër bak!”

Hierdie insident kan ’n mens ver laat dink. ’n Tuisgebakte melktert is so eie aan ons volk. Dis ’n Afrikaanse lekkerny wat ’n bepaalde kultuur voorstaan. Dit het ’n oorbruggingsgereg geword van ’n Christen na ’n Hindoe. Dit is ’n bewys van respek, liefde en waardering. Dit bou ’n brug tussen twee gelowe en ek glo nie Ghandi sou vir my Ma kon sê: “……. julle Christene stoot my af nie.” Ek glo dit is deel van ons getuienis: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik.” (Mat 5:16)

Hierdie keer van

Amor Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui