’n Agtermiddag by Peter Nagel: Oor teologie, tug en Griekse tragedie

Die volgende artikel sê werklik nie veel nie. ‘n Mens neem aan dat Nagel nie te veel kon sê nie omdat hy homself “in die middel van ’n vertroulike kerkordelike proses” bevind.

******

’n Agtermiddag by Peter Nagel: Oor teologie, tug en Griekse tragedie | Kerkbode

Deur Le Roux Schoeman

19 Januarie 2022

Dit is ’n warm windstil Maandagmiddag op Stellenbosch en langs die Eersterivier bak die son die water binne ’n tuinslang wat in die skadu opgekrul lê te warm om te drink.

Ek tref dr Peter Nagel, ’n seningrige 47-jarige teologiedosent, aan waar hy in sy reghoekige kantoor een verdieping bo die Kweekskoolbiblioteek voor sy lessenaar staan, geklee in ’n kniebroek en plakkies.

Nagel is seker so na aan Katolieke limbo soos ’n Gereformeerde kan wees. Sy legitimasie in die NG Kerk is tydelik opgeskort “hangende die uitkoms van ’n proses van kundige en begeleidende gesprekke met die oog op die regstelling van sy standpunte,” luidens ’n verklaring wat vroeër op die dag van ons ontmoeting uitgereik is deur lede van die Kuratorium van die Wes-Kaap. As werknemer van die Universiteit Stellenbosch is Nagel se posisie as dosent nie in gedrang nie, maar wel, uiteindelik, sy predikantsbevoegdheid as gelegitimeerde van die NG Kerk.

Hy bevind hom in die middel van ’n vertroulike kerkordelike proses waarvan die vertroulikheid geproblematiseer is deur onder meer ’n koerantberig wat Nagel se navorsing in ’n 2019-akademiese artikel vir ’n nispublikasie (Neotestamentica, uitgegee deur die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suider-Afrika) op dramatiese wyse na die makrogehoor van ’n Sondagkoerant verplaas het. Die opskrif van die nuusberig op bl 2 van Rapport (8 Jan) lui: ‘Verhoor het my teologies verkrag’.

Die ondersoek waarna die berig verwys was om te bepaal of Nagel, as gelegitimeerde, steeds die godheid van Christus as sy persoonlike geloofsoortuiging handhaaf, volgens die kuratorium, wat as koppelvlak tussen universiteite en die kerk funksioneer en soms onder druk verkeer van die persepsie by sommige dat ’n soort akademiese “free for all” by ekumeniese fakulteite sou heers. ’n Ringstugliggaam het, luidens die kuratoriumverklaring, tot die oortuiging gekom dat Nagel se akademiese artikel, getiteld Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus is not θεός, sy persoonlike standpunt oor die godheid van Christus reflekteer en dat dit strydig is met die belydenis van die kerk en sy legitimasie-eed. “Die belydenis van Nicea, wat amptelik deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk is, kom uit die vierde eeu nC en word deur die wêreldkerk as belydenis aanvaar.”

Op een vlak lees die gegewens tot op hierdie punt van die saak soos ’n asimmetriese stryd: ’n Teoloog met niks om te verloor nie (“Anders gaan ek terug plaas toe en voer my perde”) teenoor ’n kerk met alles om te verloor (“Die waarheid is dat ons in ons besluite in die sinode en in ons besluite in ons kerkrade, ernstig is oor ons belydenis en besluit vir besluit uitdrukking gee daaraan dat ons staan in die tradisie waarin ons staan,” sê ds Nelis Janse van Rensburg, die moderator van die Algemene Sinode in 2021 via ’n videoboodskap aan lidmate). Maar kan ’n gewoon nuuskierige ontmoeting die las van so ’n wit-of-swart-siening verlig? Dit was die doel van Kerkbode se onderhoud. Meer sekulêre huisbesoek as joernalistieke ondersoek of – behoede ons – ’n waarde-oordeel oor die verloop van sake tot op hede of die verwagte uitkoms. Dit voel gepas dat deur die loop van ’n gesprek met iemand wat homself besig hou met eksegese (hoe om die Bybel te lees) daar twee verdere “leesbrille” is wat hulleself vir hierdie waarnemer aan die hand doen vir hoe om dinge te sien: ’n Griekse treurspel is miskien een so ’n manier. Waar die held ondanks groot deugde en dalk uit oormoed die noodlot tart en ’n gebeurtenisreeks aan die gang sit wat hom / haar laat boet.

’n Ander bril sou ’n mens weer eerder laat fokus op gevolge van aksies en werk met die geneesheer Gabor Maté se definisie van trauma as dit wat binne iemand gebeur eerder as met hom / haar: Hoe lyk die innerlike besering van iemand wat dit ontgeld nadat sy eie navorsing hom van sy eie eed weglei?

In balans hiermee vind ’n mens uiteraard die NG Kerk se plig en reg om sy “grensdrade” te span ten einde studente by sy opleidingsinstellings te lei na en in geloof soos verwoord in die belydenisskrifte. Die kuratorium verwoord dit so: “’n Kerklike tugondersoek is ’n vertroulike proses en word as sulks hanteer. Dit is nie ’n heksejag nie en dra nie die karakter van vervolging of vergelding nie. Die doel is om die waarheid en die feite aan die lig te bring en as geloofsgemeenskap daarmee te werk – dit te beoordeel teen die agtergrond van vrae en gerugte wat sou ontstaan. Dit is gerig op die heil en welwese van die persoon sowel as van die geloofsgemeenskap. Dit is ’n poging om die een oor wie se leer en lewe daar gerugte en vrae ontstaan, op ’n broederlike wyse te begelei en te ondersteun, ten einde daardie optrede of leer weer te belyn met die belydenisskrifte, die legitimasie-eed en die gedragskode vir gelegitimeerdes. Dit is nie ’n poging om iemand uit die kerk te dryf nie – inteendeel.”

Nodige debat?

In die hoek van Nagel se kantoor staan die opvoufiets wat hy in Duitsland gekoop het en waarmee hy deesdae deur die strate van die studentedorp rits. Ons beweeg saam by die Kweekskool uit en stap na ’n restaurant ’n paar blokke verder. Prof Christo Lombaard, ’n teoloog en vriend van Nagel, sluit by ons aan. “Demografies word die wêreld meer gelowig en konserwatief gelowig … So dat kritiese vrae gaan probleme maak, gaan ons meer en meer kry,” sê Lombaard, die hoof van Praktiese Teologie en Sendingwetenskap by die Universiteit van Pretoria. (Sy doktorsgrade is in kommunikasiekunde en Ou Testament en sy spesialisveld is Bybelse Spiritualiteit). “’’n Mens moet verstaan dit is partykeer moeilik om hierdie (soort) debat te hanteer … (maar dis) baie moeiliker as die debatte nie daar is nie, want dan is daar een of ander onderdrukkende sisteem. Teologiese debat is baie keer vir mense ontstellend, maar baie meer ontstellend moet wees as daar nie teologiese debat is nie. Ons stry nie oor goed wat onbelangrik is nie,” sê Lombaard.

LEES OOK: Teologiese Opleiding: Só maak mens voorts met navrae (gepubliseer Mei, 2022)

Nagel se grootwordplaas is ’n grensgeval tussen Gauteng en Noordwes. “Die fondasie van my teologie (is) my plaaslewe en my ouers se opvoeding. Ek het in ’n baie gelowige huis grootgeword … nie in die negatiewe sin van die woord nie. My ouma het ons met psalms en gesange wakker gesing. In die aande hoor jy jou naam as sy bid in haar stiltetyd. Dit is waar ek gevorm is. Die teologie was bykomend. Ek was my opleiding baie dankbaar. Maar die plaaslewe, dis waar ek God ontmoet het.” Sy teologie werk ook met grense. Sy vakgebied is Teologie van die Nuwe Testament en die Septuaginta (Griekse vertaling van die Ou Testament). “So dit is daai interseksie in terme van tale, Grieks en Hebreeus …” verduidelik Nagel. Ook sy navorsing werk daarmee, in akademiese uitsette kyk hy na “sleutel Nuwe-Testamentiese tekste wat op die rand is van interpretasiemoontlikheid”.

Nagel, wat op Tukkies en aan die Universiteit van Münster in Duitsland studeer het, het vir 20 jaar jeugwerk in die NG Kerk gedoen. “(Kinderbediening is) waar alles vir my begin het. Ek het die moeiliker tekste gevat en ek het dit probeer toeganklik maak vir kinders.” As ’n mens hom uitvra na die kern van die verskil tussen hom en die kerk, sê hy: “Dat daar die wanpersepsie is dat daar ’n definisie, ’n verstaan van God is en almal weet wat dit is en is op dieselfde bladsy.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui