König: “Publiek het reg om ingelig te word,” sê uitgewer

Kyk ook:

Hierdie is een van ’n paar artikels wat deel van ’n debat is oor Adrio König se boek Die evangelie is op die spel.

Kyk Professore voel oor König-boek nes Luke oor trui vir die vorige artikel en Teoloë kap König oor sy nuwe boek vir die eerste artikel.

**********

König: “Publiek het reg om ingelig te word,” sê uitgewer

2009/05/15

(Oorspronklike artikel kan hier gelees word.)

VAN DIE NG KERK se mees gesiene teoloë gaan mekaar nou boek vir boek pak in ’n teologiese debat oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie wat landwyd in die kerk gevoer word en steeds verder uitkring.

Misverstande en verskille in interpretasie oor byvoorbeeld die maagdelike geboorte van Jesus, die opstanding, die bestaan van Satan en ander kwessies is die gevolge hiervan.

Dié debat is volgens die besturende direkteur van Lux Verbi.BM, mnr Stephan Spies, die spilpunt waarom die huidige teologiese gesprek draai.

Mnr Spies sê die tyd is ryp dat albei kante van die debat deeglik in boekvorm verskyn. “Die publiek het ’n reg om volledig ingelig te word oor die onderskeie teologiese standpunte wat in die kerk heers.”

Mnr Spies sê dit is “Skrifgesag” en “Skrifinterpretasie” wat tans die skeur in die Christelike kerke veroorsaak. “As Christelike uitgewer van formaat dink ons dit is nodig dat hierdie debat deeglik aandag kry.”

Die debat is opnuut aangeblaas ná die verskyning van prof Adrio König se jongste boek by Lux Verbi.BM. In Die Evangelie is op die spel noem prof König verskeie NG teoloë by die naam en spreek hy skerp kritiek uit op hulle teologiese standpunte.

Twee van die talle teoloë wat onder prof König se pen deurloop, is die dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, prof Cas Vos, en prof Dirk Human van dieselfde fakulteit. Hulle beskuldig Lux Verbi.BM in ’n skerp bewoorde brief daarvan dat die boek subtiele verdagmakery, onwaarhede en valse aannames bevat.

“Soos Cervantes in Don Quixote rig hy (prof König) sy eie windmeul op en skiet dit dan skoot vir skoot af. In die geheel van die boek toon hy min insig oor wat die onderskeid tussen Bybelse Teologie en Bybelse Historiografie is,” skryf proff Vos en Human in hulle brief aan die uitgewer.

Mnr Spies ontken dat hulle as uitgewer kant kies. Daarom het hy nou ook die “ander kant” genooi om ’n manuskrip aan Lux Verbi.BM voor te lê. Hy het ook onderneem om dit “vinnig” te publiseer.

Prof Vos het aan Kerkbode gesê hulle aanvaar mnr Spies se uitnodiging om hulle standpunte deur middel van ’n boek op skrif te stel. “Ons beoog om onder andere die vrae en sake wat prof König teen die bors stuit, noukeurig uiteen te sit.” Prof Vos sê hulle wil graag die kerk se lidmate en predikante en die samelewing dien deur teologiese temas waaroor vrae en onsekerheid bestaan, op ’n toeganklike en verstaanbare manier te beredeneer.

Prof König het op navraag aan Kerkbode gesê sy boek is op sigself ’n uitnodiging tot openbare debat. Hy sê hy sou die debat graag op die vlak van beskaafde mense wou voer en verkies om dit oor die saak te voer en nie oor mense se persoonlike lewe nie. Volgens prof Kö nig het hy die betrokke teoloë binne twee weke reeds drie keer in die media uitgenooi tot ’n openbare debat en het hy probeer om dit vir prof Dirk Human maklik te maak deur in een brief kortliks op te som watter vrae hy in sy boek aan hom stel.

Lees ook die resensie op bl 20.

jean@tydskrifte.co.za

**********

Lees die volgende artikel by Die doel is debatvoering.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui