Kerk mag regte beperk | Die Burger
P. Coertzen, Stellenbosch
26 Oktober 2006
In die “Begeleidende brief met voorlegging oor huwelikswet” maak drr. Ben du Toit en Kobus Gerber namens die NG Kerk die volgende stelling.
“ ’n Voorlegging aan ’n portefeuljekomitee oor ’n bepaalde saak sal dus inhoudelik anders lyk as ’n verslag en aanbeveling aan ’n sinode (of kerkvergadering). In die geval van die kerk (byvoorbeeld ’n sinode) is die Bybel en ons belydenistradisie die maatstawwe waarvolgens ons ons aanbevelings maak X en besluite tot standpunte formuleer met verrekening van gesonde, aanvaarbare hermeneutiese (vertolkings-)prosesse. Met ’n voorlegging aan die parlement is ons basis-dokument die Grondwet X en moet ons die staat help om dit konsekwent te interpreteer tot beskerming van die regte van alle mense.”
Dit wek die indruk dat ’n voorlegging van die kerk, opgestel deur persone in die kerk, twee verskillende bronne of basisdokumente kan hê.
Die vraag is of die kerk ooit ’n ander basis-dokument vir sy lewe kan hê as die Bybel (en sy belydenistradisie). Dit kan tog nooit wees dat die maatstaf vir die kerk se gesprek met die owerheid, of vir ’n voorlegging van die kerk aan ’n portefeuljekomitee van die parlement, net die Grondwet is nie. Hoe belangrik die Grondwet en die kerk se eerbiediging daarvan ook al is. Dit word nie onderskat of in twyfel getrek nie.
As Suid-Afrika ’n diktatuur was sonder enige godsdiensvryheid, of ’n staat met die absolute skeiding van kerk en staat, sou ’n mens miskien nog kon redeneer dat die enigste maatstaf vir ’n gesprek tussen kerk en staat die grondwet van die land is. Maar Suid-Afrika is ’n land waar die Grondwet godsdiensvryheid waarborg en die owerheid verplig om dit te bevorder.
Dit beteken dat kerke in ’n gesprek met die owerheid die vryheid het om met vrymoedigheid hul Bybelse getuienis en hul standpunt as kerk te laat hoor. Dit beteken dat kerke, gegewe hul geloofsidentiteit, die vryheid het om regte van lidmate in bepaalde omstandighede te beperk. Daarom kan daar nie ongekwalifiseerd gesê word dat die kerk die regte van alle mense moet bevorder nie.
Die algemene sinode van die NG Kerk het nog nie ’n besluit oor die burgerlike verbintenis tussen persone van dieselfde geslag geneem nie. Miskien was hierdie voorlegging, wat namens die NG Kerk vra dat dieselfde waarde “aan al die moontlike kategorieë van huwelike (en verbintenisse) toegeken sal word”, voortydig of net die mening van die ondertekenaars.