Kairos en Koinonia ‘het begrip’ vir besluit van Tafelberg NG kerk

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Kairos en Koinonia ‘het begrip’ vir besluit van Tafelberg NG kerk | Netwerk24

28 Junie 2023

Die NG Kerk “hou hom steeds doof vir die massa basuine” teen die kerk se “minagting van die gesag van die Woord, asook sy verdraagsaamheid teenoor leerdwaling binne die kerk”.

Daarom respekteer die Sentrale Werkgroep van die Kairos Netwerk en die Sinodale Diensgroep van die Koinonia Sinode die NG Tafelberg-gemeente se besluit om sy kerkverband op te skort.

Kairos en Koinonia verteenwoordig behoudende lidmate.

Die kerkraad van die Tafelberg-gemeente het in ’n verklaring gesê dié “onafwendbare besluit” is geneem ná vier jaar van dolering (treur) oor die rigting wat die ring en sinodes ingeslaan het.

Kairos en Koinonia sê in ’n verklaring hulle het “met groot hartseer, maar ook met volledige begrip”, kennis geneem van Tafelberg se akte van opskorting van kerkverband.

“Ons respekteer Tafelberg se besluite in hul spesifieke omstandighede sonder om ons in hierdie stadium uit te spreek oor die detail daarvan. Ons bid dat wat daar besig is om te gebeur, die ASM (Algemene Sinode Moderamen) asook die res van die wyer kerkverband, uit hul doodslaap sal wakker skud voordat dit te laat is.

“Ons bid dat Tafelberg se drastiese optrede, elke lidmaat, leraar en kerkraad sal oortuig dat die kairos-uur vir die NG Kerk aangebreek het en dat daar nie meer tyd en plek vir blote toeskouers is nie.”

In Tafelberg se akte word nege punte verduidelik oor wat die gemeente beskou as ernstige afvalligheid binne NG Kerk-verband.

Kairos en Koinonia vereenselwig hulle luidens die verklaring volledig met dié nege punte.

Elke punt stem volgens hulle in wese ooreen “met die probleme waarteen meer as 100 behoudende gemeentes jare lankal waarsku en waaroor die 56 gemeentes by die Koinonia Sinode van 3 tot 4 Mei konsensus gehad het”.

Luidens die verklaring wag Kairos en die 56 gemeentes van Koinonia nog vir reaksie van die ASM op hul “derde en finale uitnodiging” om die krisis in die kerk deur amptelike en onpartydige mediasie die hoof te bied.

 

 

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui