Tafelberg Gemeente se nuutjie: Ons is klaar met Algemene Sinode én klaar gedoleer

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Tafelberg Gemeente se nuutjie: Ons is klaar met Algemene Sinode én klaar gedoleer – Kerkbode

28 Junie 2023

Lidmate van Tafelberg Gemeente bevind hulleself in onbekende water ná die onlangse besluit om enersyds hulle kerkverband met die NG Kerk se Algemene Sinode op te skort en andersyds ook hulle status as dolerende gemeente prys te gee.

Dr Chris Saayman het na Sondag se erediens in sy gemeente ’n plasing op Facebook gemaak oor wat hy bestempel as “(d)ie eerste erediens as NG Gemeente Tafelberg – maar buite kerkverband met die NG Kerk.”

Die besluit, geneem by ’n kerkraadsvergadering op 22 Junie, lui dat Tafelberg Gemeente sy “identiteit as Nederduitse Gereformeerde Kerk soos uitgedruk in die Bybel en die Belydenis” wil behou. Maar die middestadgemeente verklaar tegelyk die “verband met plaaslike Ring, Streeksinode en die Algemene Sinode” as opgeskort. (Lees die “Akte van opskorting” HIER).

‘Kerkorde kan dit nie akkommodeer’

“(D)it is totaal ’n nuwe situasie, die eerste in sy soort, wat ook nie deur ons huidige kerkorde geakkomodeer word nie,” het dr Gustav Claassen by navraag gesê. Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, het bygevoeg dat die saak tans deur die ring en die plaaslike sinode hanteer word.

“Die moderatuur het met besorgdheid kennis geneem van die “Akte van opskorting” wat deur die kerkraad van die NG Gemeente Tafelberg uitgereik is,” het ds Marinus Theron, namens die moderatuur van die NG Kerk Wes-Kaapland, gesê. “Die moderatuur vertrou dat die Ring van Kaap die Goeie Hoop in die beste belang van die gemeente sal optree en bied ons volle ondersteuning aan die ring asook die gemeente.”

‘Ons doleer nie meer’

Tafelberg Gemeente se lidmate het jare lank getel onder die sowat 95 gemeentes, volgens https://kairosnetwerk.net/lys/, wat doleer. Die jongste besluit raak ook daardie verband: “Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg, handelend as Tafelberg Gemeente, hou op om ’n dolerende gemeente te wees, nadat die doel van dolering, naamlik om die kerkverband op te roep om terug te keer na die Woord van God alleen (sola scriptura), na vier hartseer jare nie op bekering en berou uitgeloop het nie, maar steeds deur die kerkverband in kerkvergaderinge en by die teologiese opleiding teengestaan is.”

Die gemeente val in die NG Kerk se grootste streeksinode, naamlik die Sinode van Wes-Kaapland, wat 224 gemeentes en sowat 168 000 belydende lidmate verteenwoordig. Agt gemeentes in hierdie streeksinode doleer oor die 2019-besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse, volgens ’n sinodale inligtingstuk.

‘Ons bly soek’

Kairos Netwerk (KN) het “met groot hartseer, maar ook met volledige begrip, kennis geneem van die NG Kerk Tafelberg se drastiese, ingrypende ‘Akte van Opskorting van kerkverband met die Ring van Kaap die Goeie Hoop asook die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland en die Algemene Sinode van die NG Kerk’”, luidens ’n verklaring.

“Ons respekteer Tafelberg se besluite in hulle spesifieke omstandighede sonder om ons op hierdie stadium uit te spreek oor die detail daarvan. Ons bid dat wat daar besig is om te gebeur, die ASM (Algemene Sinode Moderamen) asook die res van die wyer kerkverband, uit hulle doodslaap sal wakker skud voor dit te laat is,” lui KN se verklaring.

KN voeg by dat Tafelberg “nie hulle verband met die Koinonia Sinode van behoudende NG kerke of ook ander behoudende  NG gemeentes opskort nie.” (Lees die verklaring HIER).

Die gemeente-webwerf is tans van die lug af om “oorgebou” te word. Dr Saayman was nie vandeesweek vir ’n onderhoud beskikbaar nie.

“Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg is nie van voorneme om ná opskorting van die kerkverband as ’n onafhanklike gemeente te bly voortbestaan nie en sal, soos dit ’n gereformeerde kerk betaam, bly soek na gemeentes, ringe en sinodes met wie daar op dieselfde grondslag, wat leer en lewe betref, in verband getree kan word,” lui die Akte van opskorting.

Kommentaar

xxx

1 thought on “Tafelberg Gemeente se nuutjie: Ons is klaar met Algemene Sinode én klaar gedoleer”

  1. Dit lyk asof die besluit van Tafelberg Gemeente om hulle kerkverband met die NG Kerk se Algemene Sinode op te skort en hulle status as dolerende gemeente prys te gee, baie negatiewe gevoelens ontlok het. Hier is ‘n paar redes en sienings wat tot die negatiewe reaksies kan lei:

    1.Tradisie en identiteit: Vir baie mense is die NG Kerk ‘n deel van hul tradisie en identiteit. Die besluit van Tafelberg Gemeente om die kerkverband op te skort, word beskou as verraad teenoor hierdie tradisie en identiteit.

    2.Geskille en verdeeldheid: Die besluit veroorsaak geskille en verdeeldheid binne die gemeente self, sowel as in die groter NG Kerk gemeenskap. Hierdie verdeeldheid kan lei tot negatiewe gedrag en onsekerheid oor die toekoms van die gemeente.

    3. Ongemak met verandering: Verandering in ‘n gevestigde instelling soos die NG Kerk kan baie mense ongemaklik laat voel. Die besluit van Tafelberg Gemeente om buite die kerkverband te beweeg, raak aan hierdie ongemak met verandering en kan negatiewe reaksies uitlok.

    4. Teologiese en geloofsverskille: Die besluit van Tafelberg Gemeente word moontlik gesien as ‘n uiting van teologiese en geloofsverskille. Mense met teenoorgestelde sienings mag negatief reageer op hierdie verskille en dit as ‘n bedreiging vir hulle eie geloof beskou.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui