Hoop uit Dunkirk

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in September 2001 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Een van die merkwaardigste gebeurtenisse van die 2de Wêreloorlog het in Mei 1940 by Dunkirk aan die Franse kus plaasgevind. Die Duitse weermag het ongelooflike deurbrake gemaak deur binne weke met hulle panservoertuie groot dele van Europa in te neem. Die Britse magte het skielik agtergekom dat hulle hulpeloos teen die see vasgekeer was met die Duitse weermag op pad. Dit was soos die Israeliete wat deur die soldate van Farao teen die see vasgekeer was en enige oomblik oorrompel kon word.

Toe het daar ’n snaakse ding gebeur. Hitler het sy panserafdeling wat sopas groot dele van Europa ingeneem het beveel om te halt. Die bevelvoerder Genl Heinz Guderian kon dit nie verstaan nie. Sy opperbevel het hom opdrag gegee om 10 myl van die magtelose Britse infanteriesoldate tot stilstand te kom. Tot vandag toe bly dit ’n raaisel waarom Hitler nie op die vasgekeerde Britse soldate beslag gelê het nie.

Frankryk word net deur die Britse seekanaal van Engeland geskei. Dit het die Britte kans gegee om hulle soldate op die Europese kus te hulp te snel. Hulle het elke moontlike vaartuig wat kon dryf gestuur om hulle soldate oor die kanaal te vervoer. Baie lede van die Franse, Hollandse, Belgiese  en Engelse bevolking wat oor bote van enige aard beskik het, het vrywillig gekom om te help. Hulle het dit reggekry om in ’n week se tyd 338 000 Britse en Franse soldate oor die kanaal te kry en veilig in Engeland af te lewer. Hulle was sonder hulle gewere en hulle wapens, maar dit het nie saak gemaak nie. Gewere kon vervang word, maar nie soldate nie. Die gebeurtenis staan in die geskiedenisboeke bekend as die “wonderwerk” van Dunkirk. Die onverklaarbare opdrag van Hitler, het daartoe meegewerk dat hy die oorlog uiteindelik verloor het.

Dit word vertel dat die Christene in Brittanje in daardie dae op baie plekke bymekaar gekom het om te bid. Hulle het met benoudheid verneem dat die Duitsers skynbaar onstuitbaar was in hulle offensief om Europa in te neem. Die soldate wat hulle gestuur het om Europa te help is heeltemaal uitoorlê. Toe hulle gehoor het van die ramp wat hulle soldate bedreig het, het hulle begin om die Naam van die Here aan te roep. Hulle het in kerke en in huise bymekaar gekom om die Here om genade te smeek. Die Here het hulle gebede verhoor en Hitler wat deur miljoene Duitsers soos ’n god vereer is vir sy vindingrykheid en grootse optredes, het dwaas geword. God het hom weerhou om Brittanje ’n nekslag toe te dien.

Ons land beleef in my opinie ook baie onseker tye. Daar is groot magte aan die opbou wat daartoe kan lei dat ons land onregeerbaar kan word. Die anargisme wat nou in Zimbabwe aangestig word kan maklik na ons land toe oorspoel. Daar is magte in Suider Afrika aan die werk wat wet en orde uitdaag. Dit is nie vergesog dat daar ’n punt kan kom wanneer die owerhede die druk nie meer sal kan weerstaan nie en ons land in chaos gedompel word nie.

Ek wil dus vra dat ons, meer as tevore ons land in gebed aan die Here sal opdra. Wat moet ons bid?

  • Bid dat die mag van die bose in ons land verbreek sal word.
  • Bid dat al die Heilige Gees kragtig onder al die bevolkingsgroepe van ons land sal werk om Christus met entoesiasme te dien.
  • Bid dat daar ’n gees van liefde en respek vir mekaar sal ontwaak.
  • Bid dat ons owerhede onbeskaamd God se hulp en eer sal soek in al hulle besluite.
  • Bid dat die owerhede wysheid en krag sal kry om te regeer te midde van al die ingewikkelde situasies wat ons hier in Afrika belewe.
  • Bid dat die Here ons ekonomie sal seën.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui