Leerdwaling gaan ‘ons kerk begrawe’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Leerdwaling gaan ‘ons kerk begrawe’ | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 5 Februarie 2023

Gereformeerde gemeentes wat vroue as ouderlinge of predikante het, sal eers oor drie jaar weet of hulle moontlik buite kerkverband geplaas gaan word.

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se algemene sinode het gister by hul sinodesitting in Potchefstroom besluit dat ’n deputate (taakspan) moet ondersoek instel hoe daar teen gemeentes opgetree moet word wat hul 2018-besluit verontagsaam dat vroue nie in die amp van ouderling of predikant aangestel mag word nie.

Sinodegangers het gemeentes wat vroue in die amp bevestig het, by die weeklange vergadering onder meer van skeuring, leerdwaling, eiewilligheid en “eerloosheid voor die Here” beskuldig.

Ingevolge die 2018-besluit mag gemeentes wat wil, wel vroue as diakens aanstel.

Minstens agt gemeentes – Klerksdorp, Linden, Krugersdorp, Wapadrand (Pretoria), Benoni, Meyerspark, Kaapstad en Die Bult in Potchefstroom, het egter in weerwil hiervan vroue as ouderlinge bevestig.

Die Linden-gemeente het ook ’n vrouepredikant as ’n junior jeugleraar aangestel.

Die kerk worstel al dekades met die kwessie van vroue in die ampte. Die eerste taakspan daaroor is reeds in 1988 aangewys.

Ds. Piet Venter, voorsitter van die algemene sinode se 2023-vergadering, sê daar is twee interpretasies van die Bybel hieroor en sommige gemeentes is ontevrede omdat die algemene sinode bloot in 2018 een interpretasie bo ’n ander eksegese in ’n meerderheidsbesluit gekies het.

“Almal het gevoel die saak gaan tot ruste kom ná die 2018-besluit, maar dit het net tot erge debatte by kerkrade gelei.

“ ‘n Klomp gemeentes het gevoel hulle verskil ernstig van die meerderheidsbesluit en het voortgegaan om vroue in die amp as ouderlinge te bevestig.”

Hierdie gemeentes voer aan hulle tree op volgens hul gewete en hulle verstaan van die Skrif dat vroue wel mag dien in die ampte, sê hy.

Hy sê die Linden-gemeente het in werklikheid ’n lekeprediker aangestel, want sy is nie gelegitimeer nie.

“Ons teologiese skool legitimeer nie vroue nie.”

Die hele debakel het spanning tussen gemeentes veroorsaak met “broeders” wat mekaar verkla het omdat hulle nie by die sinodebesluit hou nie. Dis waarom die algemene sinode nou gevra is om te besluit oor optrede teen gemeentes wat die 2018-besluit geïgnoreer het.

Die streeksinode in Pretoria het in sy beskrywingspunt aangevoer dat kerke wat vroue-ouderlinge bevestig die “kerklike lewe verlam”, omdat daar baie tyd en energie bestee moet word aan beswaarskrifte en appèlle hieroor en sulke gemeentes “die integriteit van sinodebesluite ondermyn”.

Ds. Henk Stavast van die Nylstroom-gemeente het beweer die kerk se dalende lidmatetal (’n jaarlikse afname van 3 000 lidmate) is bewys daarvan “dat hulle siek en sat en hartseer is oor besluite wat geneem word en dan nie nagekom word nie”.

“Ons moet eenvoudig dit begin toepas wat hier besluit word en as ons dit nie doen nie, is ons besig om ons kerkverband op die spel te plaas en ons kerk te begrawe.”

Dr. Wim Vergeer van die Krugersdorp-gemeente het gesê daar is reeds in 2009 bevind dat die kwessie nie ’n belydenissaak is nie.

“As dit ‘n leerdwaling is, wil ons graag weet wat die gronde is in die Skrif en die Belydenis. As dit nie ’n belydenissaak is nie, dan vra ons of daar enige gronde is om mense of gemeentes te ontsê (wat wel vroue in die amp bevestig).”

Vergeer het gesê die kerk se skrifuitleg hieroor “staan op losse skroewe”.

“Daarom moet ons vra, moet ons buig voor groot getalle of gaan ons buig voor die Skrif?”

Hy het gesê die spanning in die kerk oor die kwessie kan ontlont word as daar nie net gekyk word na wat gedoen moet word met mense wat ongehoorsaam is nie, maar ook hoekom hulle ongehoorsaam is.

Die taakspan sal terugvoering gee wanneer die volgende algemene sinode in 2026 gehou word.

Kommentaar

Geen kommentaar.

1 thought on “Leerdwaling gaan ‘ons kerk begrawe’”

  1. Ds Piet Venter , wat de joos weet jy ?? >>>Die kerk worstel al dekades met die verkeerde kwessies van vroue in die ampte. Julle wil windgat oppi preekstoel staan en vir gemeentes preek oor wat ?? die egtheid van die bybel of die interpretasie van die ou swakke mens …. dan het julle nog die stelsel van “”meerderheids stemme …. What !!!!! gaan en neem die hele spul (seker by die 320 ) sodat hulle hulle baie beperkte kennis van God se regte woord kan gaan vernuwe , want almal se breinkrag le in “kompromie !!!!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui