Gay-trouformulier is uit vir NGK se dolerendes

*******

Gay-trouformulier is uit vir NGK se dolerendes | Netwerk24

Bernhard Ficker, Somerset-Wes

29 September 2022

Albin Bowler se brief “Een NG Kerk-formulier vir alle sondaars” (27.09) het betrekking.

Hy sit die formulier-pot heeltemal mis.

Die NG Kerk (NGK) het glad nie ’n formulier vir sondaars nie. Ek glo ook nie die NGK gaan binnekort so een opstel nie, behalwe as dit miskien die plan is om nog ’n paar formuliere in te sluip as deel van die algemene sinode se DroomScenario 2030.

Dit laat my wonder wanneer laas was Bowler in ’n NG of ’n Gereformeerde gemeente, want sy kennis van kerkformuliere is duidelik baie gebrekkig.

’n Formulier is die vasgestelde bewoording wat ’n kerk opstel en wat die betekenis van ’n kerklike handeling Bybels fundeer. Gereformeerde kerke besluit wêreldwyd saam op die bewoording. Engelse Presbiteriaanse formuliere is dieselfde as die NGK s’n, want hulle is ook Gereformeerd.

Daar is formuliere vir die belydenis van geloof, die sakramente, trou, bevestiging in alle ampte van ouderling, diaken, leraar en hoogleraar. Vir begrafnisse word gepraat van ’n formule.

As daar ’n trouformulier vir LGBTQI++XYZ mense opgestel moet word, sal dit abnormaal wees vir die NGK om dit op sy eie te doen sonder om al die ander Gereformeerde kerke te raadpleeg en te betrek.

Die dolerendes van die NGK sal nooit so ’n gay-trouformulier aanvaar nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui