Ons taak is om dissipels te maak

*******

Ons taak is om dissipels te maak | Kerkbode

Kerkbode

30 September 2022

Dawie de Wet van Willowmore skryf: Ek antwoord graag vir Estian Mentz van Britstown.

As leraar op Willowmore, waar ons grotendeels dieselfde probleme as Britstown beleef, verstaan ek jou noodroep. Ek moes myself afvra: Is ons opdrag om ’n kerksisteem wat uitmekaar val, te probeer in stand hou? Of is dit om die mense dissipels van Jesus te maak, hulle in ’n kerkliggaam te inkorporeer (doop) en te leer om alles te onderhou wat Jesus vir ons geleer het (Matt 28:19-20)?

Ongelukkig sit ons albei in ’n kerksisteem waar die lidmate oor geslagte in die gewoonte gekom het dat dit die dominees se kerk is – en die sinode se besluite regeer die kerk.

My en jou taak is egter om die mense in ons sorg dissipels te maak – en die dissipels te help om ook dissipels maak. Spoedig besef jy dat ons kerksisteem die spoor byster geraak het en ideologieë dien. Vir jare het ons die ideologie van Apartheid slaafs nagevolg en selfs regverdig. Tans probeer die kerkleiding die kerk stuur om klakkeloos die ideologie van sosiale geregtigheid na te volg. Maar ons taak bly steeds om volgens ons belydenisskrifte die Woord te volg en uit te leef.

Die kerkraad hier het (voor ek hier aangekom het) besluit om die Woord te volg en omdat die sinode dit nie meer doen nie, te doleer. Daarmee sê die gemeente vir die sinode dat ons in rou is oor die toestand in die kerk omdat ’n ideologie nagevolg word strydig met die Woord. Let wel, ons wil uit liefde nie bande breek met die kerk nie, ons wil net hê dat die kerkleiding terugkeer na die Woord!

Wat is lafhartig en liefdeloos, Estian? Om golwe te maak en daarmee die kerkleiding te probeer oorreed om terug te keer van hulle dwaling na die Woord en belydenis? Of om bloot van die kant af te skree oor almal wat golwe maak en oor die dwalinge wat dit veroorsaak het?

Ja, die golwe raak nou so hoog dat mense van die boot afval! Maar as jy mooi kyk sal jy sien dat diegene wat afval, net passasiers was wat op die dek se reling gesit het. Die Woord én ons belydenis leer tog dat daar nie plek vir passasiers op hierdie boot is nie – hier is net bemanning met die verantwoordelikheid om die vrag – die kosbare evangelie van Jesus se verlossingswerk – by die wêreld uit te bring.

Soek éérs die koninkryk van God en sy geregtigheid – en ons beleef dat die Here self sorg.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui