Elmarie Dercksen: Waarheid is nie eenvoudig nie

Elmarie Dercksen is leraar by NG gemeente Bloubergstrand, dieselfde gemeente waar Stefan de Kerk, ’n homoseksuele proponent, op 13 Maart 2022 as predikant aangestel is.

Haar skrywe hieronder is niks anders as postmodernisme nie.

*******

Elmarie Dercksen: Waarheid is nie eenvoudig nie | Netwerk24

Elmarie Dercksen

04 Oktober 2022

Dis moeilik om twee kontrasterende waarhede tegelyk te beskou, wat nog te sê vas te hou.

As die een waar is, moet die ander tog onwaar wees, nie waar nie?

As rooi reg is, is geel verkeerd.

As geel reg is, is rooi verkeerd.

Dis tog eenvoudig.

Ons vind kognitiewe dissonansie intens ongemaklik.

Ons hou van kortpaaie, en ons wil weet wie is skuldig.

Tog kry almal van ons dit reg, dikwels onbewustelik, om twee of meer strydige waarhede in ons gedagtes te hou.

Elke persoon wat al ’n doen-dit-self-projek aangepak het, weet dat jy tegelyk dink: Dit gaan nie werk nie!

En: Dit gaan werk!

Ons gebruik dit gereeld in bykans alle prosesse van probleemoplossing en kreatiwiteit.

Leiers gebruik dit om mense te begelei deur prosesse wat verandering meebring, en terapeute gebruik dit om mense hul vals digotomieë te laat insien.

Die teenstellings wat ons in stand hou om ons status quo te handhaaf, is dikwels gemaklik – maar ook vals.

Was koronavirus-inentings nodig? Die deurbraak-infeksies het mos gewys dit is oneffektief.

Skermtyd is nadelig vir kinders, dit belemmer hul ontwikkeling en kreatiwiteit, daarom is ouers wat dit toelaat, slegte ouers.

As jy arm grootgeword het, mag niemand sê jy is bevoorreg net omdat jy wit is nie.

In ’n struweling tussen huweliksmaats is een reg en een verkeerd, tog nie?

Paartjies betree dikwels die kantoor van ’n terapeut met ’n verwagting dat dié sal kant kies, en só bewys wie is reg en wie is verkeerd. Hul ongemak wanneer dit nie gebeur nie is juis omdat die terapeutiese proses dan ’n ongemakliker waarheid blootlê: Jy en jou maat is albei reg en verkeerd. Dit is jou fout, maar ook nie.

Die Amerikaanse skrywer F. Scott Fitzgerald word krediet gegee vir die volgende aanhaling, maar miskien het hy dit by die Duitse filosoof Georg Wilhelm Friedrich Hegel geleen: “The test of a first-rate intelligence is the ability to hold two opposed ideas in mind at the same time and still retain the ability to function.”

Ons liewe mensdom is individualisties in skakerings soos nog nooit voorheen geken nie, en tog speel ons die polariserende spel harder as ooit.

Politici verlustig hulle daarin; die ouens wat wil geld maak uit ons sterk opinies ook.

Leesstof vervlak tot klik-aas, en verken nie die komplekse grysgebiede van sosiale en teologiese kwessies nie. En presies hier wil ek my hande ten hemele werp, want ons as gelowiges val hiervoor: Ons verf mekaar in hoekies vas, so of kanselleerkultuur al ooit deel was van ons etiek of tradisie.

Want, as ek eers die etiket van liberaal gekry het, het ek volgens sekere klipgooiers al my gesonde verstand verloor. Of as ek een keer konserwatief voorkom, is ek halsstarrig en sal ek nooit vooruitgang aanvaar nie.

Daar is egter kontrasterende waarhede in bykans alle sfere, ook in kerksake: die leierskap presteer, asook die leierskap faal. Die nuwe Bybelvertaling is goed, en ander vertalings ook. Samesang met orkesbegeleiding bring lof aan God, so ook met orrelbegeleiding.

Vroue is gemaak vir diensbaarheid, en mans ook. Liefde is grensloos, en het gesonde grense.

Ek weier om op ’n ondeurdagte manier ’n Christen te wees.

In Spreuke 27:19 staan geskryf: “Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.”

* Ds. Dercksen is ’n leraar by die NG kerk Bloubergstrand. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui