Cas Wepener: Op die pad na Boksburg

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Cas Wepener: Op die pad na Boksburg | Netwerk24

Cas Wepener

Die Burger, 07 Oktober 2023

Die 18de vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk vind eersdaags in Boksburg plaas. In die Wes-Kaap het ’n klompie mense al in die pad geval om die geleentheid in Gauteng te gaan bywoon. Cas Wepener het hulle op Hanover in die Bo-Karoo ingehaal .

Ek was ook maar net nuuskierig. Soos iemand wat stadig verby ’n ongelukstoneel ry, wou ek hulle sien – ’n groepie mans op pad na Boksburg. Hul reputasie het hulle vooruit begin loop, want oral het mense oor hulle gekla. Veral die kerkrade op die dorpies waar hulle aangedoen het, was glad nie ingenome met die “spul leeglêers”, soos een skriba na hulle verwys het nie. Ouers het hul kinders teen hulle gewaarsku, want volgens die plaaslike predikante hang hulle by bedenklike mense in die onderdorp uit.

Hulle het vroeg in Oktober begin stap, glo uit Adderleystraat in die Kaapstadse middestad. Daar is spekulasie dat hulle tegnies eintlik net ’n groepie hawelose mense is. Anderkant Laingsburg op die rand van die N1 het hul leier op navraag aan ’n joernalis eers na ’n kraai op ’n telefoonpaal gewys, daarna iets kwytgeraak oor rooijakkalse en hul gate, en toe gesê dat hulle nie ’n plek het om hulle koppe neer te lê nie.

Soos wat hulle gestap het – Leeu-Gamka, Prins Albertweg, Beaufort-Wes, Drie Susters – het al meer mense begin saam stap. Dr. Frederick Marais, ’n stigterslid van die bekende Pelgrimstog van Hoop, het by navraag aan verskeie plaaslike kerkrade gesê dat stap goed is, miskien moet hulle hul lidmate sommer nooi om saam te stap. ’n Paar lidmate het dit toe skelmpies begin doen.

Hoe dit ook al sy, ek het uit pure nuuskierigheid ’n dag vroeër as wat ek moes die pad Boksburg toe gevat en hulle knap voor Hanover ingehaal. Teen dié tyd was daar al verkeerspolisie wat voor en agter hulle gery het weens die hoeveelheid mense wat begin saamstap het, die hele lot ook maar net so gehawend soos die kerngroepie en hul leier.

Teen die tyd wat ek my motor parkeer het, was die skare voor die NG kerk. Die leier het by die geslote ysterhekkie in die muurtjie om die kerkgebou en -terrein gestaan met die toring reg agter hom. Na soveel weke op die pad was hy al bekend vir sy stories en heelwat video-opnames het al op sosiale media getrend. Een storie oor ’n skaap wat weggeraak en weer gekry is het viral gegaan in die Vrystaat en Groot Karoo.

’n Sagte dreuning het vanaf die skare wat oral gaan sit het gekom: “ ’n Storie . . . ’n storie . . . ’n storie . . .” Een van die ouer mans in sy groepie, Pieter as ek reg gehoor het, het moeg gelyk en op die naat van sy rug onder ’n kareeboom gaan lê om te luister. Die plaaslike koster het in die paadjie voor die kerk afgeloop om beter te kan hoor terwyl hy met valkoë die mense wat so naby aan sy eiendom gekom het, dopgehou het. Self het ek verby ’n paar mense geskuur om beter te kan hoor, maar ek moet erken, ek was maar skepties oor wat die ou gaan kwytraak. Op ons dorp in die Boland skop jy deesdae ’n prediker agter elke bos uit en daar is al meer kerke en vind-jouself-werkwinkels as akkerbome op Stellenbosch.

Die verlore seun

“ ’n Boer in die Bo-Karoo het twee seuns gehad.” Skielik was Hanover tjoepstil. “Die jonger een, PG, het na sy pa gegaan en gevra of hy sommer nou al sy erfgeld kan kry.” Agter my het ’n boer in ’n blou en groen two-tone hemp vir sy buurman gefluister: “Is presies ook wat Kobus mos ander week vir my kom vra het.”

“Sy pa het toe die besittings tussen PG en sy ouer broer verdeel. PG het die besittings omgesit in geld en is vort. Sy eerste stop was Spanje waar hy die Camino-pelgrimstog na Santiago de Compostela gaan stap het. Dit was duur. Toe het is hy met ’n trein na Nederland waar hy agter toneelspelers wat The Passion uitvoer, aangeloop het. Ook nie verniet nie. In sogenaamde Thomasdienste het hy saam met dosyne twyfelaars vraag op vraag oor die sin van die lewe gevra. En in oorverdowende Hillsong- en His People- en Shofar-dienste het hy uit volle bors gesing met sy arms in die lug. By universiteite het hy stilletjies in godsdiensfilosofie- en teologie klasse ingeglip. In kerkgeboue waar reënboog-vlae bokant die ingang gemonteer is, het hy saam met die mense brood gebreek.” Uit die hoek van my oog kon ek sien Kobus se pa was nou spyt oor wat hy vroeër vir sy buurman vertel het.

“PG wou nog soveel mense ontmoet en plekke besoek – Iona, Taizé, Mekka, Jerusalem – maar sy geld was op. Hy het op treinstasies geslaap waar hy dikwels verjaag is. Hongerpyne het hy probeer stil deur baie water te drink. Van hongerte en min slaap het hy begin hallusineer. Gereeld het beelde van die plaas by hom opgekom – sy slaapkamer wat hy weet leeg gestaan het; sy pa en broer wat boer en wêreldbekerrugby kyk; skaapvleis en roosterkoek en malvapoeding; die kerkbasaar en koffie en gesels in die kerksaal op Sondae.

“Dit was op ’n bankie in die Kompanjiestuin in Kaapstad wat PG vir homself gesê het: ‘Op die plaas is daar oorgenoeg kos en ek vergaan hier van die honger. Ek sal opstaan en na my pa gaan.’ En op die skouer van die N1 in die Bo-Karoo het PG uit die taxi geklim en begin aanstryk na die plaashek, maar sy pa het hom al gewaar toe hy nog maar uit die minibus geklim het. PG se pa het sy selfoon uit sy boonste hempsak gehaal, die plaas se WhatsApp-groep oopgemaak en getik: ‘Vinnig, trek PG se bed vars oor, haal tjops en wors uit die deep freeze, sit ’n six pack in die yskas, hang ’n vars stel klere uit, want my seun is terug!’ PG en sy pa het omhels, daarna dadelik ’n vuur aangesteek, biltong in ’n bakkie gegooi, twee Castle Lagers oopgeskroef en Afrikaanse treffers in die lapa begin speel.

“PG se ouer broer was besig om uit die agterste veld terug te ry met die bakkie toe hy die musiek helder oordag hoor. ‘Ska-Rumba’ is die eerste liedjie wat hy gehoor het en daarna het ‘Rooirokbokkie’ gespeel. Terwyl hy ry het hy die plaasbestuuder ge-WhatsApp: ‘Wat de drommel gaan aan?!’ Die antwoord was dadelik op sy selfoonskerm: ‘Jou broer is terug.’ En hy was woedend, het op die plaaswerf die bakkie se deur toegeslaan, maar net buite die lapa bly staan en wou nie ingaan nie. Sy pa het uitgekom na hom terwyl Kurt Darren ‘Kaptein’ gesing het. Toe sy pa voor hom staan het PG se ouer broer ’n uitbarsting beleef: ‘Ek sloof myself my lewe lank af op die plaas! En ek dien al vir drie termyne as diaken. Elke Sondag sit ek in die erediens langs pa. Ek ken die Kerkorde uit my kop, volg dit jota en tittel en help selfs vir dominee Jan daarmee! Ek is afgevaardigde na die Ring, die Streeksinode en selfs nou die Algemene Sinode, maar nee, ek kry nie eers ’n hoenderbraai nie.’

“Die pa het sy oudste seun lank en innig omhels. Terug gestaan, maar steeds sy kind se skouerknoppe met sy groot hande vasgehou en hom diep in die oë gekyk: ‘NG, jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune. Ons moet feesvier en bly wees. Moenie net hier staan nie, kom in my kind.’ ”

Wepener is ’n professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch en bevestigde predikant in die NG kerk. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui