DA-man gekap ná hy bedank oor Pappas se seksualiteit

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

DA-man gekap ná hy bedank oor Pappas se seksualiteit | Netwerk24

Liesl Peyper

Rapport, 8 Oktober 2023

Die DA in KwaZulu-Natal het die oud-LP Graham McIntosh van homofobie en bekrompenheid beskuldig nadat hy in sy bedankingsbrief opmerkings oor die seksualiteit van die party se premierskandidaat, Chris Pappas, gemaak het.

McIntosh het gesê hy bedank uit die DA omdat hy meen Pappas, die burgemeester van uMngeni, loop te koop met sy homoseksualiteit.

Oor McIntosh het Dean Macpherson, DA-leier in KwaZulu-Natal, aan Rapport gesê: “Die DA glo die standpunte van enigiemand wat op die punt is om by sy sewende politieke party aan te sluit, moet met ’n emmer sout geneem word.”

McIntosh se bedanking het gekom kort nadat die DA hom laat weet het hy word nie oorweeg vir die parlement in die 2024-verkiesing nie, sê Macpherson.

McIntosh sê dit gebeur gereeld dat Pappas sy homoseksualiteit in die openbaar meld. “Soos nou weer in verlede week se onderhoud. Waarom is dit nodig?”

Pappas het onlangs in ’n onderhoud met Hanlie Retief in Rapport gesê hy kan “met taamlike sekerheid” sê hy is die enigste gay burgemeester in Afrika.

In ’n verklaring by sy bedankingsbrief sê McIntosh hy kan Pappas nie met ’n skoon gewete ondersteun nie en dat hy liewer sy steun wil toesê aan die Veelpartyhandves – ’n pakt van opposisiepartye wat in die komende verkiesing die ANC uit die kussings wil lig.

McIntosh het later in ’n telefoniese onderhoud aan Rapport beken dat hy hom nie kan vereenselwig daarmee dat Pappas sy seksuele oriëntasie “aan die groot klok hang nie”.

“Ek is nie anti-gay nie. Ek is vreeslik lief vir Pieter-Dirk Uys en Nataniël. Ek het niks teen hulle nie. Maar om só daarop aan te dring! Drie persent van ons land se kiesers is miskién homosek­sueel. Nou moet ek, wat in swart gemeenskappe moet ingaan om stemme vir die DA te werf, sê: ‘Stem vir Pappas’ terwyl hulle vir my sê ‘hy wil dan met ’n man trou’.”

Wat Pappas “agter sy kamerdeur doen”, skeel hom min, sê McIntosh. “Hy kan miskien sê: ‘Ek is homoseksueel; ek het ’n boyfriend’, maar nou moet hy dit aanhoudend ophaal. Ek gaan dit moeilik vind om téén die ANC in ons swart gebiede te gaan werk.”

Volgens McIntosh staan Pappas se openbare uitsprake in skrille kontras met die optrede van Paul Mashatile, adjunkpresident van die ANC, wat byvoorbeeld by kerkbyeenkomste in Soweto gaan praat.

“Mashatile praat met Christene en almal, want hy verstaan die swart gemeenskap is baie godsdienstig. Ek moet vir dominees gaan verduidelik waarom ek hierdie man (Pappas) ondersteun.”

In sy verklaring sê McIntosh Pappas is ’n wonderlike mens.

“Polities vereenselwig ek my met hom op soveel maniere. Ons was albei lede van (die politieke party) Cope. Ek praat drie tale (Zoeloe, Afrikaans en Engels), nes hy. Ek is parlement toe op 30. Hy het burgemeester geword op 30. Ons het albei Jack Russell-terriër-tipe dryfkrag en energie. Maar Chris Pappas laat nooit ’n geleentheid verbygaan om sy eie seksualiteit op te haal nie.”

McIntosh se politieke loopbaan is gekenmerk deur soms onortodokse optrede. ’n Ingeligte het aan Rapport gesê McIntosh het glo in die 1980’s as PFP-LP teen sy eie party se jaarlikse mosie vir die wettiging van aborsie gestem en glo gedurende die stemming in die NP-banke gaan sit.

McIntosh het aan Rapport erken hy het met wyle Helen Suzman, PFP-leier, verskil oor aborsie. “Sy was ’n voorstander van aborsie en ek het skerp met haar verskil daaroor.”

Oor sy nuwe politieke heenkome moet hy nog bietjie nadink, sê McIntosh. “Daar is sewe partye in die Veelpartyhandves, soos die IVP, die Vryheidsfront en Mashaba (se party). Ek gaan my beywer vir die Veelpartyhandves, maar ’n mens móét by die een of ander party aansluit. Omdat dit in KwaZulu-Natal is, sal dit waarskynlik die IVP wees,” sê hy.

Pappas wou nie kommentaar lewer nie en het Rapport verwys na die strukture in die DA wat met administrasie en lidmaatskap gemoeid is.

1 thought on “DA-man gekap ná hy bedank oor Pappas se seksualiteit”

  1. Nou moet ek, wat in swart gemeenskappe moet ingaan om stemme vir die DA te werf, sê: ‘Stem vir Pappas’ terwyl hulle vir my sê ‘hy wil dan met ’n man trou’.”……. dis hier waar die probleem lê , hy moet iemand gaan VERTEENWOORDIG wat n demoniese leefstyl verkies.
    daars hy punt …. ons moet ophou om mense te sugar coat in belang van liefde ( soos ngk se motto is )

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui