Bybel misluk as handboek oor geslagsake

Kyk ook Bybel slaag as handboek oor geslagsake (Mauritz Wentzel, 29 Junie 2023) wat in reaksie op hierdie artikel geskryf is.

*******

Bybel misluk as handboek oor geslagsake | Netwerk24

J.A. van den Heever, Stellenbosch

24 Junie 2023

Henriëtta Klaasing se stellings oor menslike seksualiteit (15.06) getuig van diepgaande onkunde oor en ongebreidelde vooroordeel teenoor haar medemens. Die bewering “. . . gedrag soos gay of straight word aangeleer”, is van alle waarheid ontbloot.

Die lukrake gebruik van Bybeltekste om sulke stellings kwansuis te ondersteun, minag ook die allerbelangrike Bybelse gebod dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.

As mense van hul tyd was die Bybelskrywers uiteraard totaal onbewus van hoe kompleks menslike seksualiteit en seksuele voorkeure is.

Selfs hedendaagse laerskoolkinders is beter ingelig oor die onderwerp as wat die destydse skrywers van die Woord ooit was. Daarom misluk die Bybel as handboek oor geslagsake.

Neurologiese en genetiese navorsing het oor die jare heen baie duidelik aangetoon dat ons seksuele voorkeure allermins op keuses berus.

In die baarmoeder ontwikkel die fetale brein in ’n manlike rigting as gevolg van die invloed van testosteroon of in ’n vroulike rigting in die afwesigheid daarvan.

Gender-identiteit (die gender-groep waarbinne die betrokke individu tuis voel) en seksuele oriëntasie word dus reeds in die baarmoeder vasgelê, onderhewig aan kontingente omgewingsfaktore binne en buite die baarmoeder. Boonop speel genetiese faktore ook ’n rol daarin.

Die Nederlandse neuroloog Dick Swaab se navorsing toon dat differensiasie van die genitalia in die eerste twee maande van swangerskap plaasvind, terwyl die seksuele differensiasie van die brein eers in die tweede helfte van ’n vrou se swangerskap begin.

Hierdie twee prosesse kan onafhanklik van mekaar beïnvloed word sodat die graad van vermanliking van die geslagsdele nie noodwendig dié van die brein by geboorte weerspieël nie.

By transseksuele mense beteken dit dat vroulike strukture in die manlike brein aanwesig kan wees en dan ook omgekeerd.

Daar is ook geen bewyse dat omgewingsfaktore ná geboorte enige invloed op gender of seksuele oriëntasie uitoefen nie. Heteroseksuele kinders wat deur ’n gay paartjie aangeneem word, sal dus nie ook gay word nie.

Die Amerikaanse filosoof Robert Nozick­ stel twee belangrike boustene van ’n moreel verantwoordbare leefstyl voor, te wete die bou van gesonde interpersoonlike verhoudings, en die toenemende versugting na bewese kennis oor onsself en ons wêreld.

’n Goeie vertrekpunt in dié verband sou wees om Dick Swaab se 2010-boek We are our Brains: From the Womb to Alzheimer’s (Ek is My Brein: Van baarmoeder tot Alzheimers in Afrikaans) met aandag te lees.

2 thoughts on “Bybel misluk as handboek oor geslagsake”

  1. Hy maak ‘n veronderstelling wat nie eers redelik is nie. En hy weet dit ook nie:
    //As mense van hul tyd was die Bybelskrywers uiteraard totaal onbewus van hoe kompleks menslike seksualiteit en seksuele voorkeure is.//

    ‘n mens wonder hoe die mensdom dit oorleef het.
    En dit wat vandag as ideaal voorgehou was ook destyds bekend, behalwe dit dit gesien is vir wat dit is. Daar word min aandag aan gegee, want gewone sonde is alreeds ‘n probleem. Nie nodig om ook nog met al die geure en kleure aantegaan.

  2. Gaan bly eerder in die VSA, dan kan julle lekker doen wat julle neigings en luste vir selfde geslag huwelike wil bevredig. Los die NG kerk uit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui