Kaapse NG-gemeente distansieer hom van die NG Kerk

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Kaapse NG-gemeente distansieer hom van die NG Kerk | Netwerk24

Marelize Barnard

23 Junie 2023

Die Tafelberg-gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in die middestad van Kaapstad het Donderdag in ’n kragdadige boodskap dat hy nie saamstem met die weg wat die NG Kerk volg nie, aangekondig dat hy sy kerkverband opskort.

Nadat die kerkraad Donderdag ’n kennisgewing hieroor op die gemeente se Facebook-blad geplaas het, het die raad by navraag in ’n verklaring gesê die onafwendbare besluit is geneem ná vier jaar van dolering (treur) oor die rigting wat die ring en sinodes met praktyke en besluite ingeslaan het.

“Dolering” beteken om te treur oor standpunte, besluite en praktyke wat afwyk van die belydenis wat elke volwasse lidmaat van die NG Kerk aflê, wat bely die Bybel is die Woord van God en dat enige leer wat daarvan afwyk, verwerp word.

Volgens die kerkraad is die plan nie om ’n pad te loop saam met die ander weg-bewegende gemeentes nie. “Tafelberg Gemeente is selfstandig en gaan onveranderd voort soos duidelik uiteengesit in die akte van opskorting.”

Die besluit kom ’n lang pad en is baie beslis nie ligtelik geneem nie, sê die raad.

“Hierdie saak waaroor die distansiëring gaan, is wêreldwyd ’n kwessie en die NG Kerk is nie alleen nie. Ons

bly bid vir ’n geestelike herlewing, want die kerkgeskiedenis wêreldwyd wys dat geestelike herlewing liberale interpretasies vernietig,” volgens die raad.

In die kennisgewing wat Donderdag op die gemeente se Facebook-blad geplaas is, word onder meer genoem:

  • die gemeente staan onwrikbaar by die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God;
  • die kerkverband is nie met aandag en ywer besig om die “Koninkryk van God in ons geknelde land uit te brei,” deur die bevordering van die kennis van, vertroue in en gehoorsaamheid aan die Drie-enige God nie;
  • predikante met hul gemeentes en dosente met hul studente het onnadenkende, onkritiese en selfs roekelose en onverskrokke navolgers van die tydsgees geword, gaan op relatiewe en subjektiewe wyse met die Bybel om, gee eie inhoud aan Bybelse waarhede oor die huwelik en seksualiteit, die saamwoon van ongetroudes, die bestaan van die bose en ander teologies-dogmatiese en teologies-etiese sake, en tree as bondgenote op van ideologies gedrewe groepe wat die kerk en kerklike vergaderinge binnedring en die kerk en kerkvergaderinge vir hulle eie agenda gekaap het.

Dr. Chris Saayman, predikant van die gemeente, het Donderdag op sy Facebook-blad ’n kort boodskap geplaas: Tafelberg-gemeente (Vrygemaak). “Sedert 22 Junie 2023 vrygemaak van die NG Kerkverband.”

Ds. Marinus Theron, namens die moderatuur van die NG Kerk Wes-Kaapland, het by navraag gesê daar word met besorgdheid kennis geneem van die akte van opskorting wat deur die kerkraad van die NG Gemeente Tafelberg uitgereik is.

“Die moderatuur vertrou dat die ring van Kaap die Goeie Hoop in die beste belang van die gemeente sal optree en bied ons volle ondersteuning aan die ring asook die gemeente,” het Theron gesê.

Ds. Elmarie Dercksen, voorsitter van die ringkommissie van die Kaap die Goeie Hoop, het gesê die ringskommissie neem met erns en besorgdheid kennis van die verklaring wat deur die kerkraad van die NG Kerk Tafelberg uitgereik is.

“Ons dra ook kennis van beswaarde lidmate wat nie met die verklaring saamstem nie,” het Dercksen gesê en bygevoeg die ringskommissie van die ring van Kaap die Goeie Hoop sal die gemeente ondersteun om die saak in christelike gesindheid en volgens riglyne van kerkregtelike bepalings te hanteer.

Kommentaar

‘n Mens het lankal gehoop dat daar ‘n gemeente sal wees wat die voortou neem en die NG Kerk verlaat. Dit mag moontlik die begin wees van ander gemeentes wat dieselfde doen.

5 thoughts on “Kaapse NG-gemeente distansieer hom van die NG Kerk”

  1. Regte besluit van NG Tafelberg Kerk: In die regte rigting, alhoewel nog nie op Jesaja se Heilige Hoofweg nie.

    By Christus se Tafel eet mens geestelike en fisiese spyse soos die Woord spreek. Ten minste ‘n groot sprong vanuit die ”heksgees-dwaalpad”, wat jou denke sal beïnvloed, omdat die ”eie denke” by só ‘n pad, vrugte vanuit bome voortbring waarvan wortels nog diep verweef is met ”Freemasonry”. En dít is die Reine Waarheid.

    Vermoed NG Tafelberg mag moontlik nog geruime tyd neem om, ongelukkig, ”diep-gewortelde-ongehoorsame-satansaad-en-wortelstelsels” uit psige te verwyder met diepe sondebelydenis voor GOD oor jare se ongehoorsaamheid, en dan die pad van heling deur Sy Gees sáám met die Woord te stap.

    En wéét dit: die belydenis sal teenoor LGBTQ se denke óók moet wees, só geweldig groot was (en is) die ”misleidende voorbeeld” teenoor die hele wèreld vandag: “Romeine 2-psiges” wat weier om te bely hul psige is op dieselfde vlak van die ”Pad na die Hel” as ”Romeine 1-psiges”. Is dìt nie óók die Reine Waarheid” nie?

    1. Ek is so bly iemand in leierskap staan op teen die dinge van die wêreld. U is bereid om die Woord te volg. Ek bid seën op u.

  2. Dankie aan almal wat saam stem . Sho well-done gemeente …… so bly julle skei van die flippen patetiese ngk. Die sad gedeelte is daar is so baie stupid afrikaners wat elke oggend na die sirkus gaan luister… die Ds praat laat die spoeg spat ….. maar die werklike hart van worship en aksie is ver ver vani regte ding …

  3. So bly om te lees en te sien dat Tafelberg gemeente opstaan vir dit wat Woordgetrou en Waarheid is! Mag God julle gemeente seën op julle pad vorentoe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui