Briewe van lidmate oor die goedkeuring van dwaalleer in die NG Kerk

Kyk ook:

Ek het hieronder ’n seleksie van briewe saamgestel van mense wat aan my geskryf het om hulle besorgheid met my te deel oor die leierskap in die NG Kerk wat nie meer opstaan vir die waarheid nie. Dit was na aanleiding van die volgende twee artikels wat ek aan alle NG Kerk predikante uitgestuur het:

**********

Hallo Jan,

Ek is Alwyn Roux en was byna my hele bediening aan die Oos-Rand. Ek was ook vir 18 jaar polisiekapelaan en later hoof van die kapelaansdiens en noodreaksiedienste tot ek in 2007 vervroegde pensioen versoek het.

Ek deel al vir jare jou kommer soos uitgespreek in dié (en ander stukke). Ek het Jan 2013 ’n beroep na Pofadder aanvaar. Ek het al gesprekke gevoer met verskillende van die persone wat deur jou genoem is, maar het besluit om dit te laat vaar. Ek aanvaar Paulus se siening dat die kerk die draer en beskermer van die waarheid is en ek poog om dit so doelgerig as moontlik te doen waar ek bedien. Daar is mense wat bereid is om te luister, sekeres stel nie belang om te luister nie, veral nie as jy van hulle verskil nie en hulle “uitdaag” soos jy in jou gesprek saam met Paulus doen nie. Hulle lag jou uit as oudheids of oningelig. My mening is dat die NGK tans optree soos in die tyd van die rigters: “Elkeen het gedoen wat goed was in sy eie oë.” So waarom bly ek in die NGK? Solank as ons kerk sê ons grondslag is die Bybel en ons belydenisskrifte meen ek het ek die “regte bronne” tot my beskikking (ongeag hulle sektariese uitleg. Sou die “kerkleiers” dié bronne nie meer aanvaar nie, is daar nie meer hoop nie, ook nie vir diegene wat nog gereformeerd daaroor redeneer nie.

Sterkte vir jou en dankie vir jou bereidheid om te praat, mag ons God wat ALMAGTIG is hulle tot ander insigte bring.

Alwyn (VDM)

**********

Geagte Ds Jan Louw

Net om dankie te sê vir jou onboetvaardige arbeid in ’n baie goed verwoorde omsendbrief.

Oor die duiwel. Ek hou maar by wat Jesus Christus self gesê het: Ek het die satan soos n bliksemstraal sien val op die aarde.

My dogter het op 15 jarige leeftyd ver afgedwaal en weens satanistiese musiek duiwelbesetenheid beleef. Voor my eie oe het ek beleef hoe ’n bose gees van haar besit neem en laat krul van stuiptrekkings en pyn. Ek is n gewone boerseun van n plaas uit die Namibie en gee my nie uit as n duiwel uitdrywer nie. Maar daardie dag het ek net Jesus Christus by my gehad. Terwyl my vrou ons dogter, Welmien huilend in haar arms vasgehou het, het ek hardop tot Hom gebid en Hom gevra dat in Sy Naam elke bose gees vewyder sal word uit die huis. My dogter het skielik slap geword in my vrou se arms, heeltemal uitgeput.

Vandag is Welmien ’n baie ernstig en diep gelowige mens in Jesus Christus.

Ek is bevrees dat die teologiese verval in ons kerk gaan verdiep. Ons is nog nie by die draaipunt nie.

Dis vir my elke Sondag nog verskriklik lekker om te preek. En God seën my met goeie boodskappe. As n mens so voorbarig kan wees om so n uitspraak te maak. Maar Hy seën my met preke wat net maklik kom. Dis vir my nooit moeilik om ’n preek te maak nie.

Ek preek uit die Bybel.

Ek is oortuig ek sal nog vir baie jare wat kom jou epos onthou. Jou waarskuwing, Quo Vadis NG Kerk.

Hoogmoed kom voor die val. Dis waar ons kerk nou is: by die hoogmoed deel.

Groete van n broer wat nog glo in Jesus Christus, die Seun van God. Jy mag hierdie epos vry uit aanhaal waar jy wil.

Thinus Coetzee

**********

Dit is duidelik dat die NG Kerk nou in n geweldige krisis verkeer maar dat die leierskap nie bereid is om hierdie werklikheid in die oë te kyk nie. Die herbevestiging van toelating van ’n alternatiewe siening oor die bose kom daarop neer dat die gesag van Christus as enigste Hoof en Leraar van sy bloedgekoopte kerk onder die voete vertrap word. Met vroom woorde word hy skaamteloos uit Sy heilige “ruimte” as ons Groot Profeet en Enigste Leraar uitgestoot terwyl daar “ruimte” gegee word aan hulle wat Sy duidelike uitsprake verwerp, of by implikasie suggereer dat Jesus Hom verbeel het dat Hy deur ’n persoonlike satan versoek is.

Dit lyk of ons moderne Skrifgeleerdes maar net nie wil begryp nie dat Hy, die Mensgeworde Ewige Seun of Woord van God (Joh 1:14) ondubbelsinnig daarop aanspraak gemaak het dat Hy alles wat Hy geleer (onderrig) het, van die Vader ontvang het (Joh 5:30; 8:26-28; 12:49,50; 14:24; 15:15; 17:8). Die eer van God en van sy Gesalfde was op die spel, maar dit lyk nie of die Algemene Sinode dit besef het nie. Die NGKerk het hom nie net in die voet geskiet nie, maar in die hart.

Die “wonderlike” insig waaroor almal by die Sinode saamgestem het, naamlik dat die bose ’n werklikheid is, is tog geen epogmakende geloofsbelydenis nie; elke Suid-Afrikaanse straatkind weet dit.”

(Prof) Gideon Thom

**********

Geagte Ds. Louw,

Ek het u geskrif gesien oor “Die NG Kerk het sy liefde vir die waarheid vaarwel gese,” en ek dank die Here vir ’n teoloog wat die onderskeidingsgees het om te besef dat die waarheid onder die spervuur van die duiwel is, op alle vlakke, die teologie inkluis. En dit is ’n wêreldwye verskynsel. En ek dank die Here vir U moed. Mag die Here U seen.

Ek is ’n wetenskaplike, ’n veearts, nie ’n teoloog nie. Is nou 82 jaar oud, en het groot geword met die oortuiging dat die Bybel ware wetenskap en ware geskiedenis is. My Bybel navorsing deur my hele lewe het my oortuiging net al hoe sterker gemaak. Was baie betrokke met sogenaamde bybelteenstrydighede te probeer uitpluis net om keer op keer te ontdek wat ’n skat van helderheid die oplossing bring.

My stryd vir die waarheid het in erns begin as student toe ek standpunt ingeneem het teen evolusieleer. Ek het in die begin swak en alleen gestaan, maar die Here het my lewe geweldig verryk. Al my kinders en kleinkinders (het feitlik almal universiteit grade) het ook dieselfde standpunt in geneem. Ek glo evolusieleer is een van die grootste suksesse van die Duiwel. Daardeur het eens Christen volke oor die afgelope eeu net eenvoudig hulle geloof verloor. En tog is dit ’n teorie wat nie vyf minute van intellegente aandag werd is nie.

As daar nie ’n sondeval was nie, en as dit nie die SKEPPER was wat kruis toe gegaan het nie, dan het ons geen evangelie nie.

Beste groete,

Japie Jackson.

PS, Ek het biddend ’n boekie geskryf oor Genesis Hoofstuk Een. Dit was ’n ontdekkingsreis. In die eerste paar woorde het ek hierdie skat gevind. In die oorspronklike teks is daar twee letters wat volg op “Elohim” (God), en dit is Aleph Tav, die eerste en laaste letters van die Hebreeuse alphabet. In die Hebreeuse vertaling van die NT, waar Jesus sê “Ek is die Alfa en die Omega” lui dit “die Aleph en die Tav.”

**********

Beste Ds. Jan Louw,

My naam is Pieter du Plessis. Ek is ouderling en ook die voorsitter van ons Getuieniskommissie.

Ds., ek is geen wonderkind nie, net ’n gewone ou wat lief is om vir ons Meester en Koning te werk en dit is my passie. Eintlik het ek al die jare deur my werk baie met musiek en sang gewerk en het ek na ’n vroeë aftrede met my musiek en getuienis my toegespits op bediening, omdat dit my liefde is,

Ek het op geen stadium my beywer om juis op die kerkraad te dien nie, omdat dit my eintlik terughou in my werk, want op die kerkraad is daar heelwat meer verpligtinge as net getuig, Omdat Jesus die Kern en Rots van my lewe is, kan ’n gemeente vir my nooit ’n hoër plek as my Drie-Enige God wees nie.

Waarom ek aan u skryf is, ek kan nie hierdie werk doen onder die vaandel van ’n kerk wat my God en Christus verloën nie. Wat beteken so ’n getuienis? Niks!!! Eintlik is ek baie kwaad vir myself. Ek kon maklik op hierdie AS-vergadering gewees het, maar ek was nie angstig om te gaan nie, want u kan besef dat die kombinasie van dinge wat ek doen, maak my tyd nogal beperk. aan die ander kant, is dit dalk goed dat ek nie daar was nie, want dit kon net tot iets lelik lei en dan stap ek nog uit en dan was alles ’n groter mors van tyd.

Ds., deur al hierdie gebeure is daar iets wat vir my uitstaan. Die kerk kom agter dat ons lidmaat getalle besig is om drasties te daal en die tendens is dat baie aandag gegee word aan die wen van lidmate en nou het alles ’n agenda. Skriftuurlik is daar niks fout met die Belhar-beleid nie, maar dit gaan nie meer oor die Skrif nie, maar oor getalle. Nou kry ek ook die gevoel dat die AS kyk of hulle nie wêreldse mense as lidmate kan wen nie.

Die Woord sê: “In die laaste dae sal die Woord nie meer verkondig word sal nie. Dit sal nogal snaaks lyk as die NG Kerk die Woord nie meer verkondig nie, terwyl die ander kerke lustig voort preek.

Sê vir my hoe hanteer ek die saak. In jare trek ek ook daar waar Ds. nou is en ek is nog nie van plan om te gaan lê nie

Groete in Christus,

Pieter du Plessis

**********

Liewe broer,

Ek het met groeiende ontsteltenis kennis geneem van die gebeure in die Kerk in die afgelope tyd, soos dit veral aan die lig gekom het in die skrywes van Dr Wynand Louw van die afgelope tyd. Dit gaan my verstand te bowe hoe die broeders die gesag van die Skrif so klakkeloos omver kan gooi en met menslike wysheid kan vervang. Self is ek geen geleerde nie, en die dinge het my verbygegaan, om nou in my ouderdom soos ’n skoot koue water my te tref. Ek het natuurlik my bediening in die diep platteland gehad, en was afgesonder van die vewikkelinge. Daarby het ek vanwee swak gesondheid reeds baie jare gelede afgetree,

Die vraag wat nou onwillekeurig by ’n mens opkom is: Waarheen nou? Hoe tree ’n mens nou op om jou gewete nie verder te verswaar nie. In die enkele jare wat nog oorbly en met die gesondheid wat nie na wense is nie (ek is nou 80 jaar oud) is die kanse maar skraal om nog iets te kan beteken. Mag die Here van die Kerk wysheid gee.

Frans Schultz

**********

Jan,

As ek so na alles luister dan is die NG Kerk mos nou besig om in ’n sekte te ontwikkel!

Baie dankie dat jy soos ’n Petrus van ouds opstaan en die vergadering aanspreek.

My grootste probleem met hierdie verwikkelinge in die NG Kerk is dat hierdie tipe van sieninge oor wat waar is en nie waar is nie ook aan teologiese studente aan universiteite oorgedra word. Dan gaan dinge vorentoe net meer kompleks in die NG Kerk raak en nog skeuringe veroorsaak. Ek glo, verstaan en benut die Woord van God soos dit deur die Gees vir mense ingegee is en ek dit ook aan dieselfde universiteit geleer het. Behalwe Paulus, sou ek graag wou hoor wat my professors waarvan die meeste al oorlede is oor hierdie onderwerpe sou sê.

Groete.

Dirkie de Wet.

**********

Hallo Jan,

Ek het diepe waardering vir jou brief en ek deel van ganser harte jou ontsteltenis.

Wat ons hier mee te doen het is maar net die vrug van ’n georkestreerde, doelgerigte poging (daar bestaan getuienis daaroor) om die leraars van die NG kerk, en veral manne wat die geestelike leiers van die toekoms moes voorberei, en uiteindelik die NG Kerk, weg te rokkel van die Woord.

Al aanvaar ons dat ons met ‘’Gereformeerd’’ Sola Scriptura bedoel, gaan dit nie net oor die gereformeerde leer nie, maar dit gaan veel wyer en dieper. Dit gaan oor die wese van ons Christen wees, en om verwarring te bewerkstellig in die harte van almal wat die roeping voel om die Woord van God as enigste Lewensbron vir die Afrikaner, en ek bedoel daarmee nie net Afrikaanssprekendes nie, te vestig.

Dit kom BAIE jare ver. Hoor my baie mooi, die manne wat voor loop met die Teologie, is met die hand uitgesoek vir dié doel. Het dit jou nog nooit opgeval dat, veral in die kweekskool/le daar bitter min geetelike denkers was, wat studente waarlik geestelik moes toerus, wat manne van God moes kweek met ’n geestelike standaard wat hulle volgelinge laat verlang na dieselfde geestelike hoogtes nie? En wat ’n diepe verhouding met die Here aangemoedig het nie.

Die donkerste tyd en grootste geestelike stryd in my lewe op daardie stadium as jong kind van God was die kweekskool, en miskien is dit wat ek sê subjektief, maar die vrug van wat ek sê is duidelik: DIE NG Kerk MAAK IN ’n GROOT GEESTELIKE WêRELD GEEN HOND HAARAF NIE, EN BITTER MIN LIDMATE WORD GEHELP OM OP TE STAAN IN HULLE ROEPING.(eina!, en met alle respek teenoor baie mooi en welmenende kinders van God in die NG Kerk), Bewys my verkeerd! Waar is die krag? Baie het geen getuienis nie. Ek sien nie die oorwinnende lewende kerk van Jesus wat op pinskterdag gebore is, in dit wat ons het en wat ons kerk noem, nie. (Hieroor is veel te sê) Duisende lidmate verlaat jaarliks die kerk. Ernstige lidmate verloor vertroue en soek ander heenkomes. Kyk en sien!

Vraag is, gaan jy en wie ookal dit kan regmaak?, jy en ek en ander wat die Here soek word klaar tot bespotting gemaak. As ’n sinode sulke snert en Godslasterring goedkeur, is die slegte nuus dat die kerk klaar met blindheid geslaan is. Ons is klaar dood, (soos die beeld van die paddajies in die water wat stadig al warmer gemaak word) Ek vrees dit het baie laat geword. Hoe lyk die pad vorentoe? Mag die Here ons help! En genadig wees.

Dit wat ek gesê het kom uit my hart uit. Ek gee nie voor om alles te verstaan nie, en ek het nie die antwoorde nie. Ek praat uit wat ek sien en beleef, ook vanuit heelwat pyn wat ek het self belewe het in die kerk.

Wees intens geseënd.

Dolf

**********

Liewe Jan,

Baie dankie! Dat daar nog kinders van God is wat bekommerd is oor die NG Kerk se leiers.

As hulle nie wil luister nie, kan ons niks daaraan doen nie, behalwe die Here se genade oor hulle afbid.

Jesus Seen

Ina

**********

Goeienaand Jan,

Ek vereenselwig my met jou brief en hartseer oor die liberale rigting wat die NG Kerk die afgelope tyd begin inslaan het en nou blykbaar verder voortsit. Ek dink jou ontleding is in die kol. Ek deel ook jou eerlike selfondersoek en die vrae wat jy jouself in die proses afvra. Ek beleef dieselfde soort “selfkritiek”.

Sterkte en groete,

Ds Andries Louw

**********

Jan, ek voel net soos jy. Ons sal weer iets moet doen, dankie vir jou brief, dit is alreeds ’n stap. Soms voel ek lus om spasie in die Rapport te koop en te skryf (in samewerking met my kerkraad) “Springs-Oos verwerp die besluit van die Sinode en distansieer ons ten sterkste van…..” en dan daarna te noem wat ons glo. Sou goed wees as meer gemeentes so ’n projek kon ondersteun.

Groete

Francois

**********

Vriend en broer Jan,

So aan my bas voel ek die stuk gaan iewers nog weer oor gespeel word in teenwoordigheid van onse geleerde vrinne en of ek in daai skoene wil staan is nie nou ter sake nie!

U het moeite gedoen om met jota en titel die stellings aan te haal. Dis geskiedenis. Dit staan vas Die geleerdes sal seker nie daarmee kan fout vind nie?

Ons bid saam vir ’n terugkeer na die bewese waarhede.

Groete

Eugene Ferreira

Tweede brief

Vriend Jan,

Ek wil ek hartlik bedank vir nog ’n skrywe wat wys na die kraak in die muur!

Die satan het self met my gepraat. Hy’s ’n werklikheid. Ek het sy stem gehoor. Mag jou stem en myne en almal wat die waarheid ken en dit liefhet, ’n koor van protes aanhef wat iewers gehoor sal word.

Eugene Ferreira

**********

Hallo Jan

Ek het gelees en is weer van voor af ontsteld oor hierdie kompromisbesluit, `n kompromis met niemand anders as Satan nie. Laat hierdie skrywe van jou asb so wyd en ver as moontlik uitgaan, want dan moet die manne soos Niemand en du Toit iewers reageer, want hulle word genoem. Dit sit dalk `n klomp ander weer aan die dink.

Groete

Stefaan.

**********

Beste Jan,

Ek wil maar net sê ons waardeer jou ernstige en ook stylvolle beswaar teen die dwalinge wat nou kaalkop verkondig word in die kerk.

Soveel jare al is daar gepraat oor ´n vreemde Skrifbeskouing, niks is daaromtrent gedoen nie, en nou pluk ons die wrange vrugte.

Eers was die geskiedenis en argeologie die maatstaf van die waarheid vir Bybelse eksegese, toe word naasteliefde en pragmatisme die maatstaf en nou is dit “iemand se verstaan van die wêreldbeeld” van die Bybelse tyd, en hulle noem die “konteks”. Die heeltyd is dit maar net bose-duiwelse-mensgerigte filosofië wat as trojaanse perd die argumente gebruik.

Skielik kry ´n mens die gevoel dat dit eintlik reg is om post-modern te wees, asof die tydsgees al ooit in die geskiedenis in harmonie met God se Woord was.

Eintlik wil ek maar net sê, ons verstaan wat jy sê. Dankie vir die inligting en ons bid saam dat die Waarheid sal helder skyn soos die son wat opkom (2Pe 1.19ss)

Manie en Annelie Taute

Where there is no prophetic vision the people cast off restraint, but blessed is he who keeps the law. (Pro 29:18 ESV)

Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk; dit gaan goed met elkeen wat die wet van die Here onderhou. (Spr 29:18 A83)

**********

Dankie Jan, ons moet ’n manier kry om hierdie saak aan te spreek ons mag nie dat meerdere vergaderings ons isoleer asof ons nog enkele uitgediende leraars en gemeentes is binne die meerderheid van goddeloosheid nie. Hoe wil hulle hierdie goddeloosheid as evangelie leer? Die enigste wyse het hulle nou reeds verwoord: nie meer gehoorsaamheid aan God nie maar menswaardigheid!

Petrus Kriel

**********

Geagte Ds. Louw,

Wil net graag vir u sê, dat ek ek u kritiek op die EU met die grootste waardering gelees het.

Ek woon in Ierland en kan uit die aard van die saak nie meer so in voeling wees met die debatte in die NG Kerk nie. Ek het egter groot kommer oor die pad waarop die boekgeleerdes die kerk wil plaas. U het inteendeel daarin gelaag om op so ’n eenvoudige wyse baie duidelik al die voetangels uit te wys.

Ek het self die dokument 2 weke gelede op internet gesien en dit gelees. Dit het my voorwaar swaarmoedig gestem. Ek vrees dat die NG Kerk by ’n kruispad gekom het en iewers in die nabye toekoms sal regsinniges moet sê: “ons kan nie ander nie, maar ons kan nie hierdie pad verder saam loop nie!” Dit maak my hartseer.

Ek was vroeër polisiekapelaan in Bloemfontein en later as predikant/sielkundige verbonde aan die Fakt. Teol. by Kovsies (EPOG se spreekkameer). Ons woon nou die afgelope 9 jaar in Ierland waar ek as sielkundige werk by die staat se nasionale gesondheidsdiens en ons is lidmate van die Presbiteriaanse kerk. Natuurlik mis ons nog die mooi dinge van SA, dit het egter baie min geraak en ons is baie gelukkig hier. Minstens het ek werksekerheid hier. Daardie saak het my weggedryf uit SA saam met die misdaad natuurlik.

Sterkte vir u pad vorentoe en dankie dat u nie bang was om u stem te laat hoor nie. Soms lei te veel boekgeleerdheid tot raserny en ek dink baie “groot” teoloë in SA is besig om die pad byster te raak. Hulle probeer ’n teologie en kerk bedryf waar daar geen vaste punte meer is nie.

Vriendelike groete,

Chris Potgieter

**********

Baie dankie vir ’n ligstraal van waarheid is ’n tyd van dwaling!

Carel Smith

Suider-Strand NGK

**********

Hi Jan

Ek is predikant van Port Elizabeth, ek wil net dankie sê hiervoor. Dit verwoord beslis die geweldige frustrasie en vrees wat ek beleef het by die lees van hierdie dokument! Ek bid en vertrou dat dit die nodige impak sal hê.

Ek wil net graag hoor of jy ʼn afgevaardigde is by die Alg Sinode – ek self is afgevaardigde van Oos-Kaap. Het jy enige idees oor hoe die uitleg suksesvol teengestaan sal kan word?

Ek is verstom dat ʼn dokument wat so ʼn postmoderne asem het wel so modernisties kan dink oor die evolusieleer, soveel so dat par 11.3 die mens beskryf as ʼn “laatkommer” op die planeet. Hier is niks van die mens as kroon van die skepping, gevorm in die beeld van God nie!

Dankie weereens vir jou moeite met hierdie helder en duidelike skrywe. Ek hoor graag van jou!

Seën

Carl

**********

Jan,

Baie dankie vir die dokument. Roerend eens met jou.

Groete,

Fanie le Roux

**********

Genade Jan,

Gisteraand was al my kinders toevallig hier by ons en ons raak toe aan die praat oor die duiwelstorie van die Sinode. Mens, ek wens ek kon jou hier gehad het – jy sou tot in jou tone lekkergekry het. Tot my stomme verbasing kom ek agter dat al my kinders nogal konserwatief oor die sake is en almal al baie oor die sake in die algemeen gelees en met hulle maters gedagtes gewissel het.

Adriaan raak dit toe kwyt dat al hierdie nonsens maar net ’n vorm van ’n ou konsep is – eksistensialisme (wat dit ookal mag beteken) – wat uit die mode geraak het . Dus net nuwe naam.

En toe sê hulle vir my ek moet ’n fliek kyk nl “The devil’s advocate (1997)” wat ’n uiters goeie blik gee op gebeur met mense wat in die duiwel se dampkring kom. Hulle waarsku my toe dat ek verby die smerigheid (seks, liegstories, ens.) moet kyk maar na wat uitgebeeld word waar die duiwel sake organiseer en mense se lewens reël. Ek gaan kyk toe na die fliek se resensies op die Internet en heg dit hierby aan vir jou inligting – dit is myns insiens ’n perfekte prentjie van hoe die duiwel al nes geskop het. Van die stellings wat die “duiwel” in die fliek maak is “The biggest joke I have ever played on mankind was to get them to believe I don’t exist!” Hoe’s daai vir ’n “bullseye”. Nog ’n stelling is “Of all the people in the world, I know the Bible the best!” na aanleiding van iemand wat hom probeer aanvat het en toe ondergesit is uit die Bybel uit. En die laaste stelling in die fliek “Vanity is my favourite sin” – hoe’s daai. Ek dink dit moet verpligte kykstof vir al die “geleerdes” gemaak word.

En dan nog – die “intellektuele arrogansie” van die akademici en die slim mense in die kerk – die fliek se woord -“Vanity is my favourite sin” is vir my so sprekend. Verbeel jou – om ’n akademiese stuk op te stel en dan die arrogansie het om dit ” ’n geskenk aan die NG Kerk” te noem vadertjie ons!!!!

Danie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui