Bethulie-dominee is soos ‘n dokter wat geskrap is, sê NG Kerk

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Bethulie-dominee is soos ‘n dokter wat geskrap is, sê NG Kerk | Rapport

Johan Eybers

06 Julie 2025

Die NG Kerk sit met ’n warm patat nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) Maandag gesê het hy het geen jurisdiksie om oor die kerk se dispuut met een van sy leraars te beslis nie.

In Mei 2025 is ds. Rheinier Nel deur ’n kerklike tugliggaam van die ring van Smithfield in die Vrystaat skuldig bevind aan misleiding, verdagmakery en skeurmakery.

Die tugliggaam het Nel se bevoegdheid weggeneem en sy legitimasie nietig verklaar. Die algemene taakspan predikantesake (ATP) het dit so aangeteken en amptelik in die Kerkbode gepubliseer.

Nel se huidige gemeente, Bethulie, stem egter nie saam met die tugliggaam se bevinding nie.

Nel het toe ’n arbeidsgeskil by die KVBA aanhangig gemaak. Hy voer aan hy is in diens van die gemeente en daarom kan slegs die gemeente hom afdank.

Met die KVBA se beslissing dat dié geval buite sy jurisdiksie oor arbeidsgeskille val, is die geskil steeds nie bygelê nie.

Ds. Hannes du Plessis, skriba van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat, sê die KVBA-uitspraak bevestig dat leraars, kerkrade en kerkvergaderings hulle moet hou by die kerkorde.

Volgens Du Plessis berus die bevoegdheid van ’n predikant by die algemene sinode. As ’n leraar sy bevoegdheid in ’n dissiplinêre proses verloor, kan die persoon daarom nie langer wettig en kerkordelik by ’n gemeente in diens bly nie.

“Dit is soos ’n dokter of prokureur wat bly praktiseer nadat sy of haar lisensie (bevoegdheid) deur ’n nasionale professionele raad weggeneem is,” sê Du Plessis. “Dit gaan dus hier oor meer as net ’n arbeidsregtelike verhouding tussen die kerkraad en die predikant.”

Hy sê “mnr. Nel” het die geleentheid gehad om homself in die dissiplinêre proses te verweer of om teen die bevindinge appèl aan te teken, maar hy het dit nie gedoen nie.

Volgens Du Plessis is die kerkraad van Bethulie reeds deur die ring van Smithfield en die NG Kerk Vrystaat oor die implikasies van die tugliggaam se bevindinge ingelig en hulle is genooi tot ’n ontmoeting daaroor.

Nel interpreteer die KVBA-beslissing egter heel anders.

Hy sê dit beteken dat nóg die algemene sinode nóg die ATP sy ampsbevoegdheid nietig kan verklaar.

“Slegs my werkgewer (die kerkraad) kan die tugondersoek se bevindinge wettig toepas,” beweer hy.

Nel voer aan wanneer ’n leraar beskuldig word van ampsversuim, kan die kerkraad die ring vra om ondersoek in te stel, maar die kerkraad moet self besluit of hulle die bevindinge in werking wil stel. “In arbeidsake bly die kerkraad verantwoordelik.”

Hy reken as die ring van Smithfield die Bethulie-kerkraad wil dwing om sy tugbevindinge uit te voer, sal hulle nou hooggeregshof toe moet gaan.

Junior Jacobs, kerkraadsvoorsitter van die Bethulie-gemeente, sê die kerkraad het ’n amptelike klag by die ring van Smithfield ingedien oor die manier waarop die ondersoek teen Nel gedoen is. Bethulie betwis die tugliggaam se reg om teen Nel op te tree.

Jacobs stem met Nel saam dat die KVBA-uitspraak beteken dat slegs die kerkraad hom kan ontslaan.

Die ring en sinode wil net van Nel ontslae raak omdat hy hulle teenstaan en hulle verhinder om met verkeerde praktyke voort te gaan, sê Jacobs.

Die Koinonia-sinode, wat die tuiste is vir dolerende gemeentes wat onder meer “rou” oor die NG Kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings, het sy steun vir Nel en sy gemeente uitgespreek.

Dié sinode sê hy staan saam met Nel en sy gemeente “en dat hierdie vreemde toepassing van kerklike tug ons dwing om gepaste stappe te neem”.

Kommentaar

xxx

4 thoughts on “Bethulie-dominee is soos ‘n dokter wat geskrap is, sê NG Kerk”

  1. Die NG Kerk se leierskorps – op soveel vlakke van dorp, stad, streek, nasionaal, internasionaal – het “kopsmokkelaars” geword met sovele variasies in beide vorm en gevolg, en tree op as meesters in vermommings van “Denke-kundiges”, sonder om ‘n idee te hê van al die diepgaande probleme waarmee 🇿🇦 of die 🌍🌎🌏 mee worstel. Vermy maar dié oppervlakkige Sinode-materiaal van hul konferensies….of vra nie eens waarom ánder kerke, soos die AGS onder andere, die pad saam hul 👣 nie, want só vraag sal nie eerlik beantwoord wíl word nie, so stompsinnig het die NG, AGS, ensomeer geword. Hardloop vér weg van dié, want hul het hulself al só vasgeknoop in hul eie denke, hul sal verkondig die verhaal van Saulus wat die “lig” op die Damaskuspad ontmoet het, terwyl hulself in stikdonker-duisternis verkeer.

    Én hul kan lewens vernietig met hul 💬….glo my… hul 🧠eien hulsélf nie eens as soortgelyk aan dié ekstreme politiese denkrigtings in Suid-Afrika, of selfs in die 🌏🌎🌍 vanuit ‘n “kognitiewe logika” vlak nie, só oppervkakkig en misleidend hét die NG Kerk ( en baie) geword. Waarom die AGS en VEK en baie ánder kerke hul nie aanspreek hieroor, is waarskynlik aanduidend van ‘n soortgelyke vorm van misleiding. maar gekleed in ánder “kognitiewe verdraaiings” van “WAARHEID”. Die Bybel is ‘n LEUEN vir dié, wat dit misbruik tot eie skewe denkrigtings, en selfs baie wat verkondig hul is wél die uitsondering en verkondig die “Skrif”…. maar 👣 nie daarin….en daarmee bedoel mens, van GENESIS tot OPENBARING, en nie nét die “mooi 👣 verse” nie, getuig van ‘n diepgewortelde probleem wat vir eeue lank, nog nooit reggestel is sedert +-1950 jaar gelede nie. So baie bid vir “herlewing” in.moderne tye, maar waar is dit? Begin dit nie maar OOK in die werksplek nie, Luit-Kolonel, Kolonel, Luit-Generaal, Generaal, Advokaat?

  2. Aangesien mens nooit regtig seker kan wees oor die feite van ‘n saak nie, verstaan ek hoekom ander kerkverbande nie kommentaar lewer op die stryd binne die NG Kerk nie.

    Ek dink die probleem is ook meer fundamenteel as net verskillende faksies in die kerk wat met mekaar baklei. Ook is my simpatie aan die behoudende kant, dink ek nie dat daardie kant foutloos is nie. Ek dink daar moet regtig weer ondersoek word of daar genoeg op die ware Evangelie gefokus word. Nou die ‘progressiewes’ binne die kerk wil maar ‘n humaniteitsevangelie hê, dus heeltemal van die spoor af. Maar die behoudendes sal byvoorbeeld selfs interpretasies van belydenisskrifte teen die Evangelie gebruik… Of dan hulle eie storie teen God se wil deurdruk.

    Dit gaan dus oor die begeertes van mense, wat weereens die Gees gaan bedroewe…

    1. Reinhard, kan u dalk voorbeelde gee van die volgende?
      – “die behoudendes sal byvoorbeeld selfs interpretasies van belydenisskrifte teen die Evangelie gebruik”
      – “hulle eie storie teen God se wil deurdruk”

Laat 'n boodskap na Riaan Prinsloo Kanselleer die opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui