Die Evangelie volgens dié wat glo dat God gay verbintenisse seën

Kyk ook:

Die Evangelie volgens dié wat glo dat God gay verbintenisse seën

Pieter (PJG) Prinsloo

25 November 2019

In die Kerkbode van 22/11/2019 skryf ongeveer 100 NG leraars en lidmate wat ten gunste van gay verbintenisse is, hoe hulle die Bybel verstaan.

HULLE LEER DIE VOLGENDE AANGAANDE DIE WOORD VAN GOD: Hierdie groep beweer dat die Woord van God gesaghebbend is vir hulle lewens.

HULLE LEER DIE VOLGENDE AANGAANDE SKRIF, BELYDENISKRIFTE EN WETENSKAP:

  • Hulle verduidelik tereg dat die menswetenskappe nie teenoor die Bybel staan nie. Hulle verwys na die NGB wat leer dat ons God eerstens deur die skepping ken en tweedens deur die Woord. Natuurlik kan mens lank praat oor hierdie uiters eensydige aanhaal van NGB 2, maar dit daar gelaat. Hulle leer dat die menswetenskappe aantoon dat gays so gebore word. Die afleiding wat hulle maak is dat mens niks aan jou aangebore natuur kan doen nie. Daarom moet gays se aangebore natuur aanvaar word. Die moderator van die NGK noem daarom, in ’n ander skrywe, gay seksuele orientasie ’n goeie aangebore gawe van God.

HULLE SKETS ‘N BEELD VAN JESUS WAT HOM ‘N VOORBEELD MAAK VAN IEMAND WAT GAYVERHOUDINGS SOU AANVAAR

  • HULLE VAT JESUS SE LEWE EN WERK SAAM AS ‘N BESORGDHEID OOR MENSLIKE WELSYN: Hierdie groep leer dat Jesus se lewe en leer ’n voorbeeld is dat randfigure by Sy genade ingesluit is (duidelik word gesinspeel dat mense in volhardende gay verhoudinge daarom in die genade ingesluit is).
  • JESUS EN DIE GODSDIENSTIGE LEIERS: Hulle beweer dat Jesus met die godsdienstige leiers gebots het omdat hulle gesteld was op die letter van die wet sonder om te vra wat dit aan mense doen. Die wet moet so hanteer word dat dit mense se welsyn bevorder.

HULLE GEE ‘N DEFINISIE AAN LIEFDE: LIEFDE LAAT MENSE NIE HARTSEER EN SKULDIG VOEL NIE … OOK NIE OOR JOU AANGEBORE NATUUR NIE:

  • Hulle leer dat die veroordeling van homoseksualiteit ontsettend skadelik is vir gays. Hulle is so gebore en veroordeling laat hulle skuldig en hartseer voel.
  • OM IEMAND KWAAD AAN TE DOEN: Hulle haal Rom 13:10 aan om te suggereer dat mense se aangebore natuur bloot aanvaar moet word in belang van die liefde; die liefde doen die naaste geen kwaad nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
  • Hulle leer dat liefdevolle en getroue gay verbintenisse nie sonde is nie.

HULLE LEER DIE VOLGENDE AANGAANDE DIE SKRIFTEKSTE OOR HOMOSEKSUALITEIT:

  • Hulle beweer dat tekste in die Bybel verwys na losbandige praktyke en afgodiese tempelgebruike waar ouer mans seuns misbruik het
  • Hulle beweer dat God gay verbintenisse seën, net soos Hy heteroseksuele huwelike seën.

SAMEVATTEND: Jesus is vir hierdie groep die groot Welsynswerker. Hy sluit alle mense in by Sy genade. Hy bots met godsdiensleiers wat mense laat sondig voel omdat hulle gesteld was op die letter van die wet. Hy het vir ons die voorbeeld gestel; ons moenie mense laat hartseer en veroordeeld voel nie, want dit is nie goed vir hulle welsyn nie. Mense soos gays moet versoen word met hulle aangebore natuur want hulle kan niks daaraan doen nie. Die Bybel het dit kwansuis net teen losbandige gay dade. Gay verbintenisse is nie huwelike nie, maar dit kan vol liefde en trou wees. Sulke verbintenisse word daarom deur God geseën.

EK GEE NOU GRAAG KOMMENTAAR OP HULLE BESPREKING: Ek begin met die volgende stelling: Mense wat beweer dat die Woord van God gesaghebbend is vir hulle lewens, moenie so eensydig met die Skrif omgaan nie; hulle moet ook nie sulke eensydige wanvoorstellings van Jesus en die evangelie maak nie. By hierdie groep sien ons die eeue-oue tendens om met gepaste versies ’n Jesusbeeld te skep wat pas by jou leefstyl.

Was Jesus ’n sagmoedige Welsynswerker wat gays by Sy genade sou insluit? Bots Jesus die Welsynswerker lynreg met 1 Kor 6 wat leer dat dronkaards, gierigaards, homoseksuele ens nie die Koninkryk  sal verkry nie?

In hierdie groep se eensydige Jesus-beeld word soos die graf geswyg oor die weergeboorte as voorwaarde om die Koninkryk te erf. Tevergeefs wag mens om by hulle te hoor hoe Jesus Nikodemus se welsyn ’n terugslag gee; dit gebeur toe Jesus hom leer dat iemand wat nie weer gebore word nie, nie die Koninkryk van God sal sien nie. Tevergeefs wag mens om te hoor hoe Jesus ’n jong godsdienstige se welsyn op ’n dag ’n ernstige terugslag gee; Jesus laat hierdie godsdienstige uiters ontsteld weggaan omdat hy nie wil gehoor gee aan Jesus se oproep dat hy alles moet verlaat om Jesus te volg nie; tevergeefs wag mens om te hoor van Paulus wat die gemeente in Korinthe se welsyn júís op die hart dra toe hy hulle uiters hartseer laat voel oor hulle sonde. Ons lees dat Paulus dan skryf: Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. (2 Kor 7)

Tevergeefs wag mens om by hierdie groep die ware evangelie te hoor soos dit onder andere ook in 1 Kor 6 aan homoseksuele geleer word. Nadat Paulus die gemeente herinner het dat egbrekers, diewe ens nie die Koninkryk sal erf nie, het hy ’n heerlike trooswoord aan die gemeente: En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

Jesus, die eensydige Welsynwerker staan natuurlik ook in skrille kontras met die kern van die Skrif se leer oor Jesus. Wanneer Paulus aan die erg selfbehepte en diep verdeelde gemeente in Korinthe die kern van die evangelie moet saamvat, gaan dit vir hom oor Jesus Christus, en hom as die gekruisigde. Vanuit die gekruisigde Christus verstaan ons dat ons met Hom gekruisig  is vir die sondige begeertes wat ons van geboorte af beheers. Vanuit ons eenheid met die  Gekruisigde, bely ons dat ons saam met Hom opgewek is tot ’n nuwe lewe vir God. Ons verstaan dit wat Rom 6 leer, naamlik dat ons nie in sonde kan bly sodat die genade meer word nie. Ons verstaan dat ons in Christus nie meer diensknegte van die sonde is nie, maar dat ons nou diensknegte van God is. Genade … het ons vrygemaak van ons verslawing aan sonde.

Ek wil ook graag ’n woord spreek oor Skrif en menswetenskappe; Die menswetenskappe bevestig juis die boodskap van die Bybel dat mense gebore word met ’n sondige natuur wat onder die oordeel van God staan. Juis daarom is die weergeboorte volgens die Skrif noodsaaklik.

Ten slotte kan die kop net geskud word oor die bewering dat die Skrif slegs teen losbandige homoseksuele verhoudings is. Talle Skrifstudies en studies oor die konteks van die vroeë kerk het die teendeel bewys. Laat ons daarom afsluit met die ware evangelie aan alle sondaars: God se genade behels dat Hy in Christus, mense wat in sonde gebore is kom wederbaar tot een nuwe mensheid; hierdie weergeborenes leef daagliks uit God se vergifnis en hulle nuwe identiteit in Christus. Hulle jaag dit na om te te leef vir Sy Koninkryk en kruisig daagliks hulle aangebore en aangeleerde begeertes. Ek sluit af met ’n vraag: Hoe sien die kerk om na die ewige welsyn van mense? Die welsyn van mense en die eer van God dring ons om volhardende sondaars te waarsku dat sonde tot die dood lei. Ons bid dan dat hulle hartseer en skuldig sal voel en tot inkeer sal kom, sodat hulle erfgename kan word van die Koninkryk van God.

Moet daarom nie die valse evangelie van hierdie ander groep in die NGK glo en verkondig nie … mense se ewige welsyn en God se waarheid is immers op die spel.

3 thoughts on “Die Evangelie volgens dié wat glo dat God gay verbintenisse seën”

  1. Baie dankie, Pieter, vir hierdie duidelike uiteensetting van die Bybelse boodskap teenoor die humanistiese verskraling van die pro-selfde-geslag-verbintenis groep in die kerk. Jy sou hierby sekerlik ook kon voeg die bevindinge van ondersoeke wat daarop dui dat gene nie deurslaggewend is in die ontstaan van selfdegeslag aangetrokkenheid nie. Dat daar vele getuienisse van bevryding daarvan bestaan.

  2. Baie dankie Pieter vir hierdie artikel en duidelike uiteensetting.
    Ek het juis vandag weer kommentare gelees oor hierdie saak na uitsprake deur die PKN (Protestantse kerken Nederland) wat ook homoseksualiteit en alles wat daarmee saamgaan goedpraat. Die ateiste vier fees en hul sinisme oor die kerk is skrikwekkend. Hierdie saak is een van die belangrikste wat die kerk as instituut belaglik en bespotlik maak in die oë van die wêreld.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui