Dalk misverstand

Kyk ook:

Dalk misverstand | Kerkbode

Kobus Myburgh, 22 November 2019

Dr Kobus Myburgh (Hoof Kerkeie Op­leiding vir die NGK, UP), skryf:

Ek wil graag ’n moontlike misverstand uit die weg ruim wat kon ontstaan het na aanleiding van ’n brief deur Tristán Kapp. Lesers mag dalk onder die indruk wees dat Tristán, wat tans ’n vierdejaar student by UP is, ’n student van die NG Kerk is. Hy is lidmaat van die NG Kerk en het belydenis by kerksondermure afgelê. Hy het egter nie ’n student van die NG Kerk by UP geword nie.

Om ’n student van die Kerk te word, moet daar onder andere briewe van aanbeveling deur die gemeente en ring, asook ’n verklaring van die persoon se persoonlike geloofsoortuigings en roepingsbewustheid wees. Ons het niks van dié aard by hom ontvang nie.

Daar moet onthou word dat sedert die jaar 2000, die Teologiese Fakulteit by UP nie net NG studente oplei nie. Daar is tans studente by die Fakulteit uit nagenoeg 30 verskillende denominasies. Die Fakulteit bied ook verskillende kursusse aan wat beteken dat studente van ander denominasies nie noodwendig dieselfde klasse loop as NG studente nie. Studente van die NG Kerk en NHK deurloop die strafste kursus, wat bestaan uit ’n BDiv-graad met Hebreeus en Grieks II, ’n MDiv en ’n Nagraadse Diploma in Teologie en Bediening. Die NG Kerk het ’n vennootskapsooreenkoms met die Fakulteit wat aan ons die ruimte bied om naas die akademiese opleiding, ook ’n kerklike vormingsprogram vir studente van die NG Kerk aan te bied.

Studente van die Kerk deurloop ’n vormingsprogram wat oor ses jaar strek. Hierdie program fokus op die voorbereiding van studente vir bedie­ning in die NG Kerk. Studente van die Kerk is verplig om hierdie vorming te deurloop alvorens hulle gelegitimeer kan word. Studente van ander kerke woon van tyd tot tyd ook van hierdie lesings by. Kerklike studente is onder toesig van die Kuratorium en moet aan die Kerk se gedragsvereistes gehoorsaam wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui