Ander repliek op Gaum

Kyk ook:

Die volgende twee briewe is deel van ’n debat tussen Johan Janse van Rensburg en Frits Gaum.

Vervolg vanaf Repliek: Gaum ‘kwetsend en ontduik argumente’.

*******************

Gaum verklaar nie alles

(Oorspronklik in Rapport geplaas.)

deur Rex De Koning, Gouritsmond

2011-04-02 19:57

Dr. Frits Gaum se kommentaar “Let asb. op daai kleinletter ‘k’ in titel” (Rapport Weekliks, 27 Maart) oor prof. Johan Janse van Rensburg se vorige berig ry wipplank.

Laasgenoemde se gebalanseerde, oorwoë mening(s), daarteenoor, verdien krediet. Sosioloë is dit eens dat met die ontwikkelende sekularisering van die samelewing en toenemende opruk van die wetenskap die kerk geloofwaardigheid verloor.

’n Belangrike vraag van Janse van Rensburg wat Gaum onbeantwoord gelaat het, is: “Wie bepaal watter Skrifgedeeltes letterlik en watter metafories verklaar word en volgens watter maatstawwe?”

In ’n vorige artikel het Gaum erken dat hy baie jare die Bybel verkeerd verstaan het. Vertolk hy nóú die Skrif korrek of gaan hy weer van standpunt verander? Mense verander voortdurend (sy eie woorde).

Gaum maak ’n profetiese stelling dat “die kerk gevaar loop om nie die wederkoms te sien nie”. Is dit ’n metaforiese of simboliese uitspraak wat nie letterlik vertolk moet word nie of het hy betroubare inligting oor die wederkoms?

*****************

Hoekom antwoord Frits G nie Johan jvR se vraag nie?

(Aan Rapport gestuur, maar nie geplaas nie)

deur Daniel Louw

2011-04-02

Aangaande die artikel “Repliek: Let asseblief op daai kleinletter ‘k’ in titel” (2011-03-26) deur dr Frits Gaum:

Ek het nie ’n probleem om ’n fundamentalis genoem te word nie, maar die verhaaltjie wat dr Gaum vertel, is niks anders as ’n strooipop argument nie (om ’n wanvoorstelling van jou opponent te skets en dit dan te weerlê).

Gaum se probleem is ’n “onverdraagsame, letterlike verstaan van die Bybel”. Dele in die Bybel wat onder andere volgens Gaum nie as letterlik gelees moet word nie is die skepping in Genesis en homoseksuele verhoudinge wat sonde is, maar die opstanding van Jesus moet darem wel as letterlik gelees word. Maar wat van ander dinge soos Abraham se historisiteit, Jesus se maagdelike geboorte, wonderwerke en Goddelikheid, is daar ’n hemel, is daar ’n hel en wie gaan daarheen? En is hierdie kwessies belangrik? Sou dr Gaum met teoloë verskil wat hierdie kwessies se letterlikheid bevraagteken? Of moet ons onseker wees oor hierdie dinge? Wat beteken dr Gaum se stelling: “Waaroor ons dalk nié saamstem nie, is dat mense wat nie presies soos ons glo nie op pad is hel toe.”? Verklap hierdie iets van dr Gaum se siening oor redding? Ek hoop nie so nie.

Watter reëls gebruik dr Gaum om te besluit wat letterlik is en wat nie? Prof Johan vra dieselfde vraag in sy artikel: “Wie bepaal watter Skrifgedeeltes letterlik en watter metafories verklaar word en volgens watter maatstawwe? … Maar deesdae bepaal elke individu sélf wat metafories is. Wie dit nie só verstaan nie, is dan sonder meer fundamentalisties.”

Dit is interessant dat dr Gaum ’n hele lang reaksie op prof Johan se artikel skryf, maar nie hierdie vraag beantwoord nie. Waarom nie? Dit was tog die hoof argument/vraag van prof Johan se brief.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui