Hoëpriesters het mooi titels

Kyk ook:

Hoëpriesters het mooi titels

Volksblad, 2011-04-02

Ek verwys na Kirby van der Merwe se onderhoud met Sakkie Spangenberg (By, 26 Maart).

Ek kan nie anders as om te reageer nie.

Op ’n sekere vlak is daar net twee soorte mense: diegene wat glo in God se bestaan, en diegene wat glo daar is geen God nie.

Die span wat glo (en sê) God bestaan nie, beskryf ander as mense wat in fiksie, verbeeldingsvlugte en selfvervullende profesie sou glo, en beskryf hul God as ’n “imaginary friend for grown-ups”. Die span wat glo en bely God bestaan wel, sien op sy beurt die ander, as mense wat God ignoreer en Hom probeer wegverduidelik. Dink daaraan – dit kan nie anders nie.

Selfs agnostici wat beweer ons kan nie seker wees nie, val ten diepste binne of die een of die ander van hierdie twee klasse.

Wat my die meeste die harnas injaag, is nie Jan, Piet of Sakkie se standpunte nie, maar die wyse waarop albei groepe skynbaar onbewus van bogenoemde onderskeid is en hul denke kontamineer met onversoenbare idees van anderkant die draad.

Dit is eintlik nogal komieklik, as dit nie so ernstig was nie. Dan kry ’n mens die hedendaagse verskynsel waar geesvervulde jong mense by die kweekskool opdaag en daar geknak word tot ongeredde, wedergestorwe herders wat nou ’n kudde moet versorg. Bid jou dit aan!

Een van die grootste leuens van ons tyd is dat inligting neutraal is. Dit is nie en sal nooit wees nie. Die feit is, alle mense beoordeel hul ervaring van die werklikheid vanuit die konteks van hul wêreldbeskouing, of hulle nou in staat is om daardie wêreldbeskouing te artikuleer of nie. Solank mense hierdie feit uit die oog verloor, sal bogenoemde twee kampe mekaar beveg met argumente wat as egte, konkrete bewyse opgedis word, maar wat helaas eintlik maar net uit blote kontekstuele. interpretasies bestaan.

Ek sou hoop mense soos Spangenberg sal gewone mense eerder help om te verstaan wat wêreldbeskouing in die eerste plek is. Dan, as ek sy wêreldbeskouing reg lees, sal hy ter wille van sy integriteit (integriteit = optrede in ooreenstemming met waardes) nie net uit die NG Kerk bedank nie, maar ook bedank as teologieprofessor en ateïstiese filosofie as beroep opneem.

Ek het egter ’n spesmaas Spangenberg kan of wil nie. Seker oor dit so ’n glibberige skuinste is waarvoor hy nog nie gereed is nie – sekularisme se hoogste gebod is wel dat daar geen God is nie, en die hoëpriesters het mooi titels soos professor en doktor, maar die twee hoogste sekulêre sakramente is homoseksualiteit en aborsie. Sien hy persoonlik daarvoor kans?

Spangenberg, ek het meer simpatie met jou as wat jy dalk dink (ek het ook uit die NG Kerk bedank), maar ek moet jou daarop wys dat jy jou feite verkeerd het – Jesus is gekruisig as gevolg van Joodse, nie Romeinse, woede. Laasgenoemdes kon trouens nie minder skeel nie.

JACOBUS STRYDOM
Melkbosstrand

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui