Alles in die Woord van God is nie die woorde van God

Die volgende artikel van Neels Jackson, bekroon met die Andrew Murray prys as spesialis-godsdiensverslaggewer, het in Beeld verskyn. Hierdie artikel van Neels Jackson wys wat sy siening oor die Bybel se gesag is.

Vir meer, kyk ook:

Daar is ook opmerkings in [blokhakies] tussen die teks hieronder.

*******

Alles in die Woord van God is nie die woorde van God

Vrydag 09 Augustus 2013

Toe emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu voorverlede week opgemerk het nie alles in die Bybel is waar nie [kyk Nie alles in die Bybel is waar – Tutu], was die ontsteltenis voorspelbaar. Neels Jackson ondersoek Tutu se stelling.

Sola scriptura, lui die Latynse leuse: Alleen die Bybel is die rigsnoer vir hul lewe.

Dís vir gereformeerdes een van die pilare waarop hul tradisie rus. As dit dus lyk of iemand die gesag van die Bybel in gedrang bring, is dit te wagte dat veral Protestante sal protesteer.

Tog is dit ironies dat van hierdie reaksies juis soms die Bybel en die Christendom se geloofwaardigheid meer skade as goed doen. [Laat ons liewer nie hieroor probeer arm druk nie. Kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed.]

Dit klink baie vroom om te sê jy glo alles in die Bybel net soos dit daar staan, maar in die proses het baie gelowiges al van hulself en die Bybel maklike teikens gemaak waarmee ateïste en ander kritici die gek skeer.

Hulle gebruik voorbeelde uit die Bybel self om dit te doen en vra dan vrae soos:

  • Het God die mens laaste geskape, soos Genesis 1 vertel, of eerste, soos Genesis 2 sê? [Kyk Is Genesis 1 en Genesis 2 verskillende, teenstrydige skeppingsverhale?.]
  • Het Noag een paar van elke soort dier in die ark ingeneem soos Genesis 6 vertel, of sewe pare van party soorte, soos Genesis 7 sê? [Kyk Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?]
  • Het Josef en Maria met die baba Jesus uit Betlehem na Egipte gevlug soos Matteus vertel, of het hulle hom tempel toe geneem in Jerusalem en daarna teruggekeer Nasaret toe, soos Lukas vertel?
  • Het twee vroue die Sondag ná die kruisiging na Jesus se graf gegaan soos Matteus vertel, was daar drie soos Markus sê, ’n hele groep soos Lukas vertel, of was Maria Magdalena alleen, soos Johannes vertel?

Watter weergawe, vra hulle dan, is God se Woord wat waar is?

[Oor sogenaamde foute in die Bybel, kyk gerus:

Menslike én goddelike boek

Sulke verskille en talle ander word maklik deur ongelowiges aangevoer as “bewyse” dat alles in die Bybel nie waar is nie. Daarom is die Bybel nie die Woord van God nie en is daar goeie rede om die Bybel, die Kerk en die Christelike geloof die rug toe te keer. [Weereens, moenie dat ons oor hierdie stelling begin armdruk nie.]

Hoe moet gelowiges dan die Bybel en sulke kritiek daarop hanteer?

Een belangrike ding waarop teoloë dikwels wys, is om nie in ekstreme posisies vas te val nie. Openbare debatte, veral in die kuberruim, word deesdae dikwels oorheers deur mense met ekstreme standpunte wat uit hul teenoorstaande pole op mekaar skreeu. [Wie bepaal wat is ’n ekstreme siening en wie bepaal wat is gebalanseerd?]

In die proses gaan die redelike middelgrond heeltemal verlore.

In hierdie geval is daar aan die een kant mense wat sê daar is niks goddeliks aan die Bybel nie. Dis bloot ’n versameling antieke menslike geskrifte. Aan die ander kant is daar diegene wat goddelike status aan elke jota en tittel in die Bybel wil toeken.

Deur die eeue het die Kerk egter nie die vraag oor die menslikheid en oor die goddelikheid met ’n “of” hanteer nie. Dis ’n geval van “en”. Die Bybel is ’n menslike én goddelike boek.

Die Bybel self gee goeie aanduidings van dié twee kante van die Bybel. [Presies! En as jy hierdie reël volg, gaan jy presies weet wat die Bybel verkondig. Die Bybel verkondig duidelik bv ’n 6-dagse skepping, die sondeval met Adam en Eva in die tuin, ’n globale vloed, ens.]

Een voorbeeld daarvan kry ’n mens in 1 Korintiërs 7 waar Paulus in vers 10 ’n opdrag gee wat hy sê van God kom, en twee verse later ’n opdrag wat hy pertinent sê nie van God nie, maar van hom af kom.

Dat die Bybel dié twee kante het, bring mee dat ’n mens wat die Bybel wil uitlê deeglik rekening moet hou met menslike kante daarvan, soos die kultuuragtergrond waaruit die teks kom.

Neem ’n gedeelte soos 1 Korintiërs 11 byvoorbeeld. Tot ’n geslag gelede nog het die kerke daaruit afgelei dat dit ’n goddelike opdrag is dat ’n vrou ’n hoed moet dra as sy kerk toe kom.

Nou word daardie opdrag van Paulus teen sy kulturele en historiese agtergrond gesien. Nou dink die kerke nie meer dit gaan oor die dra van ’n hoed nie, maar oor sedelikheid wat in die destydse kultuur deur ’n hoofbedekking gesimboliseer is.

[Kyk Vrouens en Hoede om te sien hoe ons “fundamentaliste” hierdie kwessie hanteer.]

Daarmee saam moet ’n mens in gedagte hou dat die Kerk nog altyd gepraat het van die “Woord van God”, nie van die “woorde van God” nie.

Selektief raaklees en mislees

Die siening dat elke woord in die Bybel direk van God af kom, berus op ’n misverstand.

Ja, daar is direkte woorde van God in die Bybel, soos die uitspraak “Laat daar lig wees” in Genesis 1:3.

Maar daar is ook baie ander woorde, soos die woorde van Dawid in Psalm 23: “Die Here is my herder”.

Daar is die woorde van die woedende skare wat skree: “Kruisig hom!” Daar is selfs, soos met die versoeking van Jesus in die woestyn, woorde van die duiwel in die Bybel.

Dit kan tog nie alles ook die woorde van God wees nie. [Hierdie is werklik ’n belaglik strooipopargument (veral komende van ’n Andrew Murray pryswenner). Natuurlik is “Kruisig hom” nie woorde van God nie. Dit is geskiedenis wat in die Bybel opgeskryf is. Die Bybel sê nie dat mense dit vir Jesus moet skreeu nie.]

Saam vertel al die woorde van die verskillende partye egter die verhaal van God en mense. Dit dra vir gelowiges God se boodskap oor. Dis daardie boodskap van God wat die Kerk deur die eeue na die Bybel laat verwys het as die Woord van God.

Maar, sal mense vra, as daar dan soveel menslike elemente in die Bybel is, soveel aspekte en faktore wat in ag geneem moet word, hoe bepaal ’n mens dan wat is die Woord van God? Beland jy nie maar in ’n situasie waar elkeen kies wat hy wil glo nie?

[Nee, die reël is: Die reël is: lees geskiedenis as geskiedenis, poësie as poësie, ens. Kyk ook Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word? en Bible Questions and Answers.]

Sommige mense sê almal kies inderdaad maar wat hulle raaklees en mislees. Almal lees die Bybel op hul manier selektief.

Mense wat daarop aandring dat elke woord in die Bybel letterlik waar moet wees omdat dit direk van God af kom, lees byvoorbeeld al die teenstrydighede wat hul standpunt ondermyn, gerieflikheidshalwe mis.

Op ’n ernstiger noot word gesê dit gaan nie oor kies wat jy wil glo nie, maar oor verantwoordelik uitlê wat die teks beteken en gelowig daarin soek na God se boodskap.

Liefdesgebod sentraal

“Verantwoordelik uitlê” beteken ’n klompie dinge.

Dit beteken byvoorbeeld dat ’n mens nie ’n teks op sigwaarde neem en dit regstreeks só op vandag toepas nie.

Nee. Eers moet ’n mens bepaal wat die boodskap van die oorspronklike skrywer aan die oorspronklike hoorders was. Wat het Paulus byvoorbeeld bedoel toe hy vir die gemeente in Korinte geskryf het ’n vrou moet haar hoof bedek?

Eers as ’n mens dít verstaan, kan jy begin dink wat beteken daardie boodskap byna 20 eeue later vir moderne gelowiges in hul omstandighede.

Verantwoordelik lees beteken ook dat ’n mens nie klein stukkies van die Bybel in isolasie lees nie.

Nee, ’n mens lees die groot geheel en verstaan die klein stukkies dan teen daardie agtergrond.

Dit help onder meer om te sien watter kwessies in die Bybel van sentrale belang is, en watter dele eintlik maar randkwessies is.

So dui die Nuwe Testament self op verskeie plekke aan dat die liefdesgebod van sentrale belang is. Daarom moet ’n mens seker maak dat elke interpretasie van die wet help om die boodskap van liefde oor te dra.

As ’n mens die Bybel só verstaan, kan ’n gelowige vrede daarmee maak dat daar in die Bybel verskeie aantoonbare foute voorkom. Soms is dit blote teenstrydighede tussen verskillende weergawes van dieselfde verhaal. Soms is dit aantoonbare historiese foute, of sienings wat moderne mense weet wetenskaplik verkeerd is.

Hierdie kwessies is egter nie waaroor God se boodskap gaan nie.

Gelowiges kan dus steeds op die Bybel vertrou as ’n boek wat God se boodskap van genade en redding en ’n omvattende besorgdheid en liefde vir mense op ’n betroubare manier oordra. Foute en al.

Teen dié agtergrond kan ’n mens saam met Tutu sê nie alles in die Bybel is waar nie – sonder om die gesag van die Woord van God in gedrang te bring.

  • Neels het in 1990 begin om verslag te doen oor kerksake. In dié tyd het hy al meer debatte oor die Woord van God gehoor as die spreekwoordelike sand van die see.

Kommentaar

Jan Louw
2013-08-14

Dit is voorwaar ’n vreemde roete wat Neels Jackson in sy artikel met die opskrif: “Alles in die Woord van God is nie die woorde van God nie”, loop. Die artikel word beskryf as ’n ondersoek van biskop Desmond Tutu se stelling: “Net omdat iets in die Bybel staan, is dit nie noodwendig waar nie.” Die konteks was dat Tutu ’n appeltjie te skil het met Paulus, oor sy leer i.v.m. homoseksueles. Tutu het so ver gegaan om te sê dat hy nie in ’n homofobiese God en ’n homofobiese hemel belangstel nie.

Jackson trek los op mense wat die Bybel se geloofwaardigheid skade aandoen. Vreemd genoeg is dit nie die biskop wat Neels in sy visier het nie, maar dit is skielik die kreasioniste wat die probleme veroorsaak. Dit is wat mens moet aflei uit die spotprent by die artikel in Beeld, van Noag voor sy ark. Verder praat hy van die “gelowiges wat van hulleself en die Bybel maklike teikens maak”. Dit gaan vir hom blykbaar oor die mense wat uit die Bybel aflei dat God die mens as die kroon van sy skepping aan die einde van die skeppingstyd gemaak het.

Ek is self ’n kreasionis en ek wil net weer duidelik stel wat daarmee bedoel word. Ons is oortuig daarvan dat die weergawe van die evolusioniste, om die heelal te verklaar, teen alle reëls van logika en gesonde verstand ingaan. Ons glo dat ons goeie rede het om die die Bybelse geskiedskrywers se weergawes van die ou tyd te omhels. Hulle nalatenskap is van die waardevolste besittings wat die wêreld het van die tyd toe die beskawings van die wêreld in hulle kinderskoene was. Ons glo dat daar oral op die aarde tekens is van die sondvloed wat hulle vir ons in Gen 6-8 opgeteken het.Daardie skrywers was gelowiges wat vervul was met dieselfde Gees wat ook in ons gees van die waarheid getuig. God het beskik dat hulle die gebeure wat hulle of hulle voorgangers belewe het, op te teken en Hy het ook beskik dat daardie geskrifte in die Bybel vir ons opgeneem is.

Dit is vir my teleurstellend as daar mede-Christene soos Neels Jackson is, wat meen dat ons die geloofwaardigheid van die Christendom skade aandoen omdat ons kies om in die Bybel te glo soos dit vir ons oorgelewer is. Die woorde van die Here Jesus in Joh 3:12 is vir my hier van toepassing: “Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel?” En ook Joh 5:47: “Maar as julle sy (Moses se) geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”

Sommige van Neels se verwyte wat hy teen medegelowiges rig is doodgewoon laf. Wie is nou daar wat die Bybel so verstaan dat die woorde: “Kruisig Hom”, woorde van God is? Of dat ons die woorde van die duiwel, as woorde van God verstaan? Ons het mos van ons katkisasiedae al geleer dat die Bybel ’n biblioteek van 66 boeke is. Daar is bv historiese boeke, profetiese boeke en gedigte. As ons elkeen lees en respekteer, soos dit vir ons aangebied word, sal ons nie rede hê om met mekaar oor hierdie dinge te verskil nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui