Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland

Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland

Ds Fanie le Roux

29 Desember 2022

Hamilton

Jy kan Ds Johan Hendrickse die Moderator van die ACK (Afrikaanse Christen Kerk) noem. Ek wou die woord “Pous” gebruik, maar dit sou heeltemaal onvanpas wees. Nie omdat die kerk Protestants is en nie Katoliek nie, maar omdat hy ‘n absolute rigtinggewende rol in hierdie kerk speel.

Ek sit saam met hom en sy bekwame vrou, Gina, in hulle gesellige sitkamer in die voorstad Chartville, Hamilton. Dis so goed jy is in Suid-Afrika. Teen die muur hang ‘n groot skildery van Tafelberg die hele muur vol. Daar is nog skilderye van Somerset-Wes, sy tuisdorp en ook ‘n skildery van Stellenbosch Moedergemeente.

Gina bied dadelik koffie aan en wil weet hoe ek my koffie neem. Toe ek om Ricoffee vra, sien ek ek wen hulle hart net daar en dan. Ds Johan loop permanent met ‘n klein botteltjie Ricoffee in sy sak rond – dis veral vir koffietyd na die diens op Sondag in die saal. Ricoffee is een van die Suid-Afrikaanse produkte wat bykans onbekombaar is in Nieu-Seeland.

‘n Boorling van die Wes-Kaap (aan Gina se aksent geoordeel klink dit my sy ook) het hy in die tagtiger jare aan US gestudeer en toe talle gemeentes in Suid-Afrika bedien.

In 2002 kom hy na Nieu Seeland en werk ‘n tyd in die privaat sektor voordat hy voltyds by die ACK as predikant betrokke raak.

Ek vra hom na die ontstaan van die kerk en die daaropvolgende geskiedenis.

Die kerk het ongeveer in 1998 sy ontstaan gehad toe die groot getal Afrikaners op die “North Shore” van Auckland voel dat hulle meer as net ‘n Bybelstudiegroep moet wees en dat dit tyd geword het om ‘n volwaardige gemeente te stig. ‘n Kerkraad is saamgestel en die eerste leraar, Ds Gawie Joubert is beroep. Gou het die kerk gegroei en toe ‘n Bybelstudiegroep aan die suidekant van Auckland hawe daarvan hoor, sluit hulle daarby aan en later groei hulle tot ‘n eie gemeente. Die bekende Prof. Stefan Joubert was hierdie gemeente se eerste leraar.

Die ACK het van die begin af beoog om ‘n kerk te wees waar Afrikaanse mense in hulle eie taal bedien kan word. Dan stel die kerk hom ten doel om die verskillende denominasies van Suid-Afrika te verenig waarin hulle dan ook uitnemend slaag. Anders as die Afrikaners wat na die Tweede Vryheidsoorlog na Argentinië gevlug het en daar nie kon slaag om een kerk te wees nie – op die ou einde was die verdeeldheid tussen die susterskerke vernietigend vir die Afrikaner-gemeenskap daar in die vreemde. Sommige Afrikaners het later wel teruggekom, maar die wat agtergebly het, het gaandeweg Verspaans. En van die kerklike lewe het blykbaar agv al die gestry, min oorgebly. Hulle was kerke met dieselfde Belydenisgrondslag, maar kon weens hulle ander minder belangrike verskille, nie oorleef nie.

Hoe kry die ACK dit reg? Hier word deeglik besef dat daar geen kompromie oor die Gesag van die Skrif en die Belydenis mag wees nie, maar besef eweneens dat die tradisionele verskille nie toegelaat moet word om onenigheid te veroorsaak nie. Daarom is lidmate tevrede dat tradisies van die ander ook in sekere gevalle aanvaarbaar is. Maar oor een saak is daar geen onduidelikheid of kompromie nie: Die Bybel IS volledig en volwaardig en onteenseglik DIE WOORD VAN GOD. Dis God self wat in die blaaie en deur elke woord van die Bybel praat en daarom is die Bybel onfeilbaar, waar en gesagvol.

Nadat die twee gemeentes in Auckland ontstaan het, het dit nie lank geneem dat ander gemeentes gevorm is nie. Afrikaanse gelowiges in die derde grootste stad van Nieu-Seeland, Hamilton, het so aangegroei dat ‘n nuwe gemeente ontstaan het. Ds Johan wat toe in Auckland ‘n sekulêre betrekking beklee het, is gevra om die gemeente naweke te bedien. Gou het die omvang van die werk so toegeneem dat hy besef het dat hy voltyds daar nodig is. Hy het bedank en na Hamilton verhuis. Hier is hy nou al reeds meer as 20 jaar aan die werk.

Ds Johan noem nog redes waarom hulle ‘n spesifiek Afrikaanse kerk is. Vir nuwe inkomelinge van Suid-Afrika bied hulle ‘n tuiste en help hulle om hulle voete te vind. Ons het so ‘n “Samaritaan” van die gemeente ontmoet. Pienaar Piso, ‘n lidmaat van die gemeente, het meer as 25 jaar gelede uit Rustenburg hier aangekom en moes van onder af begin. Vandag besit hulle meer as ses besighede en help hulle nuwe Sud-Afrikaanse intrekkers om werk te kry en hulleself te vestig. Hulle is ook betrokke by die gemeente se jeugbediening.

Verder het dit ook duidelik geword dat die gemeente ‘n opvangplek word vir Suid-Afrikaners wat al ‘n geruime tyd hier is en aanvanklik kerklos geraak het. Na ‘n tyd vind hulle dan weer hulle weg terug na die kerk en veral dan na hierdie gemeente.

Iets oor Afrikaans.

Afrikaans word wel gepreek in die hoofdienste van die gemeente, maar alternatiewe dienste is ook in Engels aangebied om Engelssprekende mense in te skakel. Die Sondagskool word oorwegend reeds in Engels aangebied. Hoofsaak in die gemeente is nie die taal nie, maar dat mense ‘n geestelike tuiste moet hê waar hulle die Here Jesus Christus kan ontmoet en in hulle dissipelskap kan groei.

Die gemeente is net soos in die geval van ander gemeentes hier, besig om sterk te groei. Groter gemeentes het ‘n aantal “Buiteposte.” Die grootste stad op die Suid-Eiland, Christchurch is hierdie gemeente se een buitepos.

Christene in Nieu-Seeland is onder druk, vertel Ds Johan my. Hulle is min en geneig om onder die radar op te tree. Hulle is verbouereerd omdat die gemeenskap en ook die regering in die verlede skerp teen hulle opgetree het. Godsdiens uit die skole gehaal en God en Sy Woord is op die agtergrond geskuif. Dit het die land nie goed gedoen nie. Gewelddadige misdaad neem toe asook diefstal en dwelmmisbruik.
Christelike kerke wat wel populêr is, se teologie is gewoonlik liberaal, oppervlakkig en word gewoonlik meer deur die populêre idees van die dag beinvloed . Aan die een kant is daar die Liberale kerke wat hulle hoofsaaklik met die omstrede sosiale sake van die dag besig hou. Op die ou end loop sulke kerke hier dood, soos ook in Europa die geval is.
Aan die ander kant is daar die hoofsaaklik Charismatiese kerke wat veral die sg “Posperity Gospel” propageer en wat op die ou einde ook nie veel vermag om die samelewing vir Christus te verander nie.

Ons praat oor Suid-Afrika en die groot onrustigheid rondom die Algemene Sinode se besluite van 2019. En ons praat oor kerke wat treur. En oor die gewone lidmaat wat negatief geraak word. Oor gemeentes wat nie wegbreek nie, maar “doleer” wat huil. Want dit is wat doleer beteken. Oor die probleem van teologiese opleiding waar die Goddelike gesag van die Bybel bevraagteken en afgewater word.
Hier word hulle gedwing om hulle leraars self op te lei en hulle doen dit aan die hand van die bekende en hooggewaardeerde Veritas kursusse. En dit laat my wonder of dit nie die oplossing van ons probleem is nie. In die verlede is teologiese studente in hulle eie gemeentes deur hulle plaaslike leraars opgelei. Beweeg ons weer daarheen?

Binnekort is ds Johan op pad na Papua-Nieu Guinée waar hy kerkleiers gaan oplei met die Veritas kursus. Ek is opgewonde. Dit is een van die mees onbereikte dele van ons wêreld.

Toe ons uitstap wys Ds Johan my die deel van die huis wat in kantore en studeerkamer/ spreekkamer omskep is. Ek besef dadelik dat ek nou in die enjinkamer van die ACK is, waar die hart van die kerk administratief en geestelik klop. Hier word ‘n snelgroeiende kerk se wiele goed geolie gehou.

As ek ‘n hoed opgehad het, het ek dit op dié oomblik vir hierdie twee mense afgehaal.

“Wil jy nie vir ons oor twee Sondae kom preek nie?” vra Ds Johan my voor ek die kar inklim.

“Ek het nie my preekklere saamgebring nie,” antwoord ek.

“Hier by ons kan jy met lang broek en oopnekhemp preek.”

“Ek is in”, sê ek.

  • Ds Fanie le Roux is ‘n emeritus predikant wat by NG gemeente Kloofendal diens gedoen het. Tans skakel hy by NG gemeente Parys-Suid in.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui