Koinonia Sinode het die volgende nuusbrief versprei op 5 Junie 2026.
*******
Koinonia Sinode Nuusbrief
5 Junie 2026 | Uitgawe 11
DS COETZEE-HOFSAAK: HOF STEL TUGBESLUITE TERSYDE
In hierdie nuusbrief is ds. Neels de Jager gevra om sy indrukke op skrif te stel oor die uitspraak wat op 2 Junie 2026 gelewer is in die hofsaak. Die volgende is sy woorde:
Ds. Coetzee en die kerkraad van die NG Gemeente Karatara-Sedgefield teen die NG Ring van Knysna, die Sinode van die NG Kerk Wes-Kaapland, die tugliggaam van die Algemene Sinode van die NG Kerk en andere. (Hierdie indrukke word as eerste indrukke aangebied en is onderhewig aan korreksie).
Waaroor gaan die hofsaak?
Ds. Marius Coetzee van die gemeente Karatara-Sedgefield is op 20 Mei 2024 deur die NG Ring van Knysna in kennis gestel dat ’n tugverhoor op 28 Mei 2024 teen hom sou plaasvind. Die aanklagte teen hom was skeurmakery en oneerlikheid.
’n Klein groepie lidmate (32 uit 700, oftewel 4,6%) van die Karatara-Sedgefield-gemeente het ongemak ervaar met die wyse waarop ds. Coetzee hulle hanteer het. Die tugliggaam van die NG Ring van Knysna het ook aangedui dat ds. Coetzee op 23 Mei 2024 in sy amp geskors sou word.
Ds. Coetzee het beswaar gemaak teen die kort kennisgewing. Dit was Pinkstertyd en die kerkraad van die Karatara-Sedgefield-gemeente het van hom verwag om sy normale pligte na te kom. Die kerkraad het self op geen stadium gevoel dat ’n tugverhoor nodig was nie.
Die ring se tugliggaam van die Ring van Knysna het egter uitstel van die verhoor geweier en besluit om in sy afwesigheid met die tugverhoor teen ds. Coetzee voort te gaan.
Die regter het hierdie besluit van die ring se tugliggaam in die uitspraak van 2 Junie 2026 beskryf as: geen uitstel word gegee nie, “deal with it”.
Ds. Coetzee het appèl aangeteken teen sy skuldigbevindings. Hierdie appèl is eers deur die appèlliggaam van die Sinode van Wes-Kaapland aangehoor, wat die appèl verwerp het. Daarna het ds. Coetzee na die appèlliggaam van die Algemene Sinode geappelleer.
In ’n skrywe gedateer 27 Desember 2024 het die tugliggaam van die Algemene Sinode ds. Coetzee se appèl in sy geheel verwerp.
Hofsaansoek:
Here, wees ons genadig! Op U wag ons (Jesaja 33:2).
’n Hofgebou is op die beste van tye ’n vreemde plek. Om daar te sit en te weet: vandag is dit kerk (hulle wat aan die Here behoort) teen ekklesia (die gemeente wat deur God uit die wêreld geroep is), is nog vreemder.
Hoe beland ’n Sinode (saam op pad/weg) in ’n hofsaak teen ’n geroepe Verbi Dei Minister (bedienaar van die Goddelike Woord)?
Regter Louw het die dag met humor begin. Sy het gesê dis elke dominee en regter se droom: ’n vol gebou (my parafrase).
Die advokaat vir die Sinode en andere het sy saak gestel.
’n Prentjie is geskets van ’n dominee (ds. Coetzee) wat uitdagend (“defiant”) opgetree het teen die gesag wat van die Ring se kant af oor hom aangestel is.
Die advokaat het aangevoer dat ds. Coetzee ten onregte nie by sy eie tugverhoor teenwoordig was nie.
Die Sinode en andere het beweer dat ds. Coetzee nie agterna regstelling kan vra vir ’n saak waarin hy self geen verdediging aangebied het nie. Die Ring was van mening dat die aanklag van skeurmakery voldoende motivering was om ds. Coetzee in sy amp te stuit (of te skors). Hulle het ook aangevoer dat hy, ten spyte van sy stuiting, voortgegaan het om sy ampspligte uit te voer.
Daar is aangevoer dat die dominee se situasie soortgelyk is aan dié van ’n prokureur.
Elke prokureur (of advokaat, aangesien die balieraad na advokate verwys) moet tot die balieraad toegelaat word alvorens hy mag praktiseer. Eweneens moet ’n dominee ’n lisensie (legitimasie) hê om te mag bedien.
Hierop het die regter opgemerk dat die twee sake – naamlik die prokureur en die balieraad – glad nie vergelykbaar is met die situasie van ’n dominee en legitimasie nie.
Die opdraggewende prokureur vir ds. Coetzee en die gemeente Karatara-Sedgefield was Herman van Rensburg.
Die advokaat vir ds. Coetzee en die gemeente Karatara-Sedgefield was adv. Hanri Loots (SA/SC). Hy het die meeste van sy sinne met “Your Ladyship” begin. Hy het van sy “learned friend” verskil en aangevoer dat ds. Coetzee nooit opstandig of uitdagend (“defiant”) teenoor die Ring van Knysna was nie.
Ds. Coetzee het slegs beswaar gemaak teen die samestelling van die Ring se tugliggaam (RTL). Hy het gevoel dat sekere lede op die tugliggaam bevooroordeeld was en van die RTL gesuiwer (of rekuseer) behoort te word.
Ds. Coetzee het ook gevoel dat die sewe dae wat aan hom gegee is om vir die tugverhoor voor te berei, te min was. Hy het 14 dae se voorbereidingstyd gevra.
Die kerkraad van die gemeente Karatara-Sedgefield het hom boonop opdrag gegee om die Pinksterdienste klaar te maak, wat dit vir hom onmoontlik gemaak het om deeglik vir so ’n belangrike en komplekse tugverhoor voor te berei.
Adv. Hanri Loots het ook aangevoer dat die Ring vooraf eerder opsies soos herderlike sorg en mediasie moes oorweeg en benut het.
Dit het tydens die verhoor duidelik geword dat daar ’n verskil is tussen ’n “ondersoek doen” na ’n klag wat ingedien is, en die “verhoor” van ’n aangeklaagde. ’n Ondersoek hoef nie noodwendig op ’n verhoor uit te loop nie.
Ds. Coetzee het verskeie skrywes aan die teenparty gerig, waarvan sommige onbeantwoord gebly het.
Regter Louw het gevra waarom die kerkraad van die NG Gemeente Karatara-Sedgefield nie genader is om deel van die verhoor te wees nie. Dit sou immers sinvol wees, aangesien hulle die werkgewer (“line manager”) van ds. Coetzee is.
In haar uitspraak het regter Louw gesê dat dit verwag sou word van ‘n organisasie (soos die kerk) wat gebou is op die beginsels van “Grace, Reconciliation and Forgiveness” om eers ander opsies soos mediasie en herderlike sorg te ondersoek alvorens ‘n verhoor belê word.
Sy het gesê dat die ringstugliggaam vooraf gesuiwer moes wees van enige lede wat moontlik bevooroordeeld kon wees. Hierdie suiweringsproses (“purification”) het egter nooit plaasgevind nie.
Sy het ook bevind dat die ringstugliggaam nie behoorlik gekonstitueer was nie, aangesien die Ring en andere beweer het dat een spesifieke lid slegs as skriba opgetree het. Volgens die regter is hierdie verweer nie korrek nie, aangesien die Kerkorde nêrens voorsiening maak vir so ’n reëling nie.
Die betrokke lid wat eintlik gesuiwer (of rekuseer) moes word, het boonop alle dokumentasie ontvang, wat die situasie regtens onhoudbaar maak.
Die regter het gesê dat die gees van die Kerkorde sowel as die letter en woord van die Kerkorde in ag geneem behoort te word. Daarom moes ds. Coetzee se redelike versoek toegestaan gewees het. Hy het gevra vir uitstel van die verhoordatum sodat hy redelike tyd mag hê om voor te berei.
Die regter het in haar uitspraak verwys na die “tripartite agreement”. Soos die skrywer dit verstaan impliseer dit ‘n ooreenkoms waarby die leraar, die kerkraad en die breër kerk by betrokke is.
Om een party naamlik die kerkraad, dan uit te sluit uit die verhoor verrigtinge is ondenkbaar.
In haar uitspraak het sy bevind dat die Ring van Knysna se tugliggaam, asook die appèlliggame van die Sinode van die Wes-Kaap en die Algemene Sinode, in gebreke gebly het, aangesien die beginsels van natuurlike geregtigheid (“Natural Justice”) asook die vereistes van die Kerkorde nie nagekom is nie.
Sy het daarop gewys dat ds. Coetzee deurentyd aktief betrokke was by sy verdediging en dat sy verset slegs teen die ongesuiwerde ringstugliggaam gerig was.
Die regter het die besluit van die vierde respondent, “the Disciplinary Body of the Presbytery of Knysna”, gedateer 30 Mei 2024, tersyde gestel. Die sanksie van delegitimisasie is eweneens tersyde gestel.
Die regter het die besluit van die “Synodical Body of Appeal: Synod of the Dutch Reformed Church of the Western Cape”, gedateer 31 Augustus 2024, waarin ds. Coetzee se appèl verwerp is, eweneens tersyde gestel.
Sy het ook die besluit van die “General Synodical Body for Appeal”, gedateer 27 Desember 2024, waarin ds. Coetzee se verdere appèl verwerp is, nietig verklaar (of tersyde gestel).
Die derde tot die tiende respondente is deur die hof gelas om die koste van die applikant te betaal vir die bring van hierdie hersieningsaansoek.
’n Kostebevel is ook teen die derde tot die tiende respondente uitgereik vir die koste van ’n vorige dringende aansoek wat deur die kerkraad van die NG Gemeente Karatara-Sedgefield in belang van ds. Coetzee gebring is sodat hy sy dienste as leraar, hangende die appèlverhore, kon hervat.
Hierdie hofaansoek gaan die meerdere vergaderings van die kerk waarskynlik digby die R5 miljoen kos. Kan u dink wat die kerk alles met hierdie geld kon vermag? Ons sou kon uitreik na die vloedgeteisterde gebiede vanaf Ceres tot Robertson om met die herstelwerk te help!
In plaas daarvan is verhoudings nou vertroebel – en dit ten spyte van die Here Jesus se duidelike opdrag aan ons in Matteus 18:15–20.
Die dag het geëindig waar ’n verligte, maar hartseer en stukkende ds. Coetzee sy vrou gehelp het om die trappe van die Kaapse Hooggeregshof af te stap. Terwyl sy fisies swaar loop, het ek gedink: vandag het die wêreld vir die kerk geleer: “Soek na genade, mediasie en herderlike sorg, want dit is wat ons van julle vra en verwag.”
Here, vergewe ons almal, want ons weet nie altyd wat ons aan U bruid, die ekklesia, doen nie. Ons bely die kerk behoort aan U; ons bely U is die Hoof van die kerk. Ons bely dat U, en slegs U, die kerk regeer deur U Woord en deur U Gees.
Here, wees ons genadig! Op U wag ons (Jesaja 33:2).
Ds. Neels de Jager
(Aktuarius: NG Sinode Goudland, V.D.M. Gemeente Vaalrivier)