10 vrae aan Julian Müller

Die artikel hieronder het in September 2014 in Kerkbode verskyn:

Dit is verstommend dat Julian Müller nog enige “lugtyd” in die NGK kry. Dit is duidelik dat sy teologie skeef is (hy is ’n selferkende post-teïs), maar ten spyte daarvan het Kerkbode dit tog goed gedink om hom weer ’n geleentheid te gee om iets oor homself te sê.

Maar dit daar gelaat: Hier het hy ’n geleentheid om vir almal te vertel wie hy is en waarvoor hy staan. Hierop wil ’n mens amper sê: “Is dit nou dit?” Is dit die boodskap wat een van die grootste teoloë in die NG Kerk vir ons bring? Ek is bevrees, maar ek sien min oor God. Of is ’n teoloog nie veronderstel om ook ’n geestelike leier in die kerk te wees nie?

As jy voel dat ek hard is op Julian Müller, dan is dit omdat daar ’n hele geskiedenis is wat in ag geneem moet word. Vir meer daaroor, kyk Wie is Julian Müller?.

Hier volg die artikel in Kerkbode met kommentaar in [bruin blokhakies] op sommige plekke. Kyk ook die kommentaar onderaan die onderhoud.

********

10 vrae aan Julian Müller | Kerkbode

September 2014

PROF JULIAN MÜLLER is emeritusprofessor in praktiese teologie aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit Pretoria.

Hy het in 1992 die Andrew Murrayprys ontvang vir sy boek, Die erediens as fees. Sy jongste boek, Geloof anderkant Sondag (Tafelberg), maak opslae. FRITS GAUM het per e-pos met hom gesels.

1 Wie is Julian Müller?

Ek stem saam met die ubuntu-filosofie wat sê: “umuntu ngumuntu ngabantu” – ’n mens is ’n mens deur/kragtens mense. Identiteit is nie iets wat in isolasie bestaan nie. Ek is iemand vir bepaalde mense en in verhouding met mense binne spesifieke kontekste. Binne die gemeenskappe waar ek mens is, my familie, my vriende, my kollegas, my studente, my gemeente, ens, word ek telkens weer opnuut ek.

[Interessant dat God nie hier genoem word nie. Julian word dus gevorm deur alles en almal, behalwe God. Of is dit omdat hy glo dat God in alles is en alles in God…? (Kyk Julian Müller se Panenteïsme: ’n Nuwe verstaan van God vir ’n nuwe tyd?)]

2 In jou nuwe boek onderskei jy tussen “Sondaggeloof” en “Anderkant Sondag-geloof”. Kortliks: wat wil jy met dié twee begrippe sê?

Ek praat in my boek van “geloof anderkant Sondag” en nie van “geloof anderkant die kerk” nie. Dit gaan vir my meer oor ’n paradigmaskuif wat nodig is as oor ’n skuif weg van die kerk af. Waar die tradisionele “Sondag-geloof” hoofsaaklik in die kerk uitgeleef kan word, is geloof anderkant Sondag binne en buite die kerk te vinde. Die anderkant Sondag-gelowiges ervaar hulle geloof op ’n post-kerklike manier en voel nie meer so aangespreek deur of gebonde aan strenge kerklikheid en die reëls en gebruike van georganiseerde godsdiens nie.

3 Ek dink talle “Sondag”-mense sal hulleself vind in baie wat jy in die boek onder Ander kant Sondag tuisbring, en andersom. Jou kommentaar?

Presies. Dit gaan om ’n ontdekking van sin en betekenis buite en los van die gevestigde en oorgelewerde strukture van georganiseerde godsdiens. Soms kan die Sondag-omgewing erg benouend en voorskriftelik wees, maar in ander gevalle voel mense juis vry binne die kerklike ruimte. In daardie gevalle ervaar hulle dat hulle binne die gestruktureerde omgewing tog hulle geloof spontaan kan beleef en uitleef. Die kerk hoef natuurlik ook nie onherroeplik vasgevang te wees binne die Sondag-geloof nie en kan in beginsel self die oorgang na ’n anderkant Sondag-geestelikheid bevorder.

4 Stem jy saam dat die kerk (by name die NG Kerk) deesdae “soepeler” as voorheen in hulle benadering van sake is … en gee jy in jou boek genoeg erkenning daaraan?

Om die vraag te beantwoord, moet ek verduidelik hoe ek my verhouding tot die kerk verstaan. Daarvoor gebruik ek graag die konsep “differensiasie”. Differensiasie beskryf ’n gesonde verhouding met iets of iemand anders. Die bekende definisie daarvan is: “Being seperate together”. In enige gesonde verhouding werk hierdie twee kragte gedurig saam. In so ’n verhouding is daar die moontlikheid om te kan sê: “ek” en “ons”. Soms is die een sterker as die ander, maar dan wissel dit weer. Dit bly egter in balans met mekaar en nooit word dit net een van die twee nie. Juis omdat ek my verhouding met die kerk so sien en ervaar, het ek die vrymoedigheid en ook die plig om soms myself as apart van die kerk te ervaar en om kritiek uit te spreek. Dit bly egter altyd solidêre kritiek van iemand wat verbonde is aan en liefde het vir die kerk. Ek meen dit gebeur ook in my boek.

5 Dra die Bybel na jou mening meer gesag as ander geskrifte … en, indien wel, waarom?

Die Bybel dra nie inherent gesag nie. Ons is nie Bybelaanbidders nie. Die gesag wat die Bybel dra, is gesag wat deur die tradisie van die geloofsgemeenskap waarvan ons deel is, daaraan toegeken is. Binne ons geloofstruktuur dra die Bybel groter gesag as ander geskrifte. Dit beteken egter nie dat die Bybel nie ook aan kritiese wetenskaplike ondersoek onderwerp moet word nie. Dit gaan meer oor die verstaan van en interpretasie van die Bybel as oor ’n soort pietistiese aanhang van en selfs aanbidding van die Bybel as boek.

[Hierdie antwoord spreek boekdele oor Julian se siening oor die gesag van die Skrif. Kyk wat skryf Wynand Louw hieroor in Kerkbode ontken by monde van Julian Müller die Bybel se gesag.]

6 Wat sê die oerbelydenis “Jesus is die Here” vir jou?

Jy verwys tereg daarna as die “oerbelydenis”. Dit is so deur die eerste Christene en vroeë Christelike kerk uitgespreek en dit was eintlik ook die hele belydenis. Daarmee het hulle aangedui dat Jesus teenoor die ander politieke en godsdienstige “here” gesien en bely moet word as die enigste Here. Hy was vir hulle by uitstek die draer van die goeie boodskap dat God genadig, insluitend en liefdevol is. Vir my beteken daardie woorde nog steeds dieselfde. In Jesus ontdek ek God op ’n unieke en oortuigende manier as die God wat Hom laat vind in menslike gestalte. Ek voel verbonde aan Jesus as die Een wat my God se gesig laat sien en God se hart laat voel.

7 Het Jesus waarlik uit die dood uit opgestaan, Julian?

Ek glo so. En indien enigiemand wil weet watter inhoud ek aan daardie belydenis gee en hoe ek dit verstaan, kan dit in my boek, Opstanding, gelees word. Trouens, ek beskou my drie boeke, Opstanding, Om te mag twyfel en Geloof anderkant Sondag as ’n trilogie – dit pas bymekaar en moet as ’n eenheid gelees word.

[Eerlikwaar, hoe kan ’n mens hierdie antwoord glo? Julian het presies geweet hoe mense hierdie vraag sal interpreteer: het Jesus LETTERLIK uit die dood opgestaan? Nou sê hy, hy glo dit. Dit, nadat Ferdie Mulder uit UP geskors is omdat hy ’n probleem daarmee gehad het dat Julian nie in die opstanding geglo het nie? Daarna het Ferdie ook die boek Opgestaan geskryf waarna Julian nie eers homself probeer verdedig het nie. Was dit dan nou alles ’n misverstand? Besluit maar self.]

8 Jy verwys in die nege “Anderkant Sondag”- gebede in jou boek nie een keer na Jesus nie. Waarom sou dit wees?

Hierdie is baie persoonlike gebede. Ek het die klem laat val op die misterieuse teenwoordigheid en nabyheid van God en selfs die naam “God” spaarsamig gebruik. Hierdie gebede is nie formele openbare gebede waar spesifieke formulering en taal moontlik belangriker is nie.

9 Hoe naby of hoe ver is ’n “anderkant Sondaggeloof” aan ’n “anderkant geloof”?

Dit hang natuurlik af hoe jy geloof sien en verstaan. In die boek gebruik ek die voorbeeld van die spontane oogbeweging van die suigeling wat op sy of haar ruggie lê en die bewegings van die ma noukeurig volg. Geloof is niks meer nie as die spontane oogbeweging wat iets van die beweging van God in die lewe ervaar en stamelend probeer verwoord. Geloof is nie ’n prestasie of iets buitengewoon wat verwerf moet word nie.

10 Sal die Seun van die mens, as Hy (weer) kom, nog geloof op die aarde vind (Matt 18:8)?

Soos ek dit sien, loop geloof nie gevaar om uit te sterf nie. Wel miskien die kerk soos ons dit tans ken asook baie van die gevestigde idees oor God. Geloof, synde die spontane oogbeweging van die suigeling, kan nie verdwyn nie.

Kommentaar

Jan Louw 2014-09-10

Frits Gaum druk die vinger op ’n paar seerplekke in sy 10 vrae aan Julian Müller as hy bv vra of Jesus waarlik uit die dood opgestaan het. Müller antwoord op sy kenmerkende ontwykende manier, maar ons weet uit sy boeke dat hy nie verder kom as ’n metaforiese verstaan van die opstanding nie.

Müller propageer ook ’n nuwe verstaan van God wat hy panenteïsme noem. Dit gaan oor ’n postmoderne kyk na die werklikheid, waarin hy vra dat ons wegbeweeg van die Bybelse wêreldbeeld van ’n transendente God. Hy praat van ’n Integrale Wêreldbeeld wat hy self as volg verduidelik: “Hierdie wêreldbeeld word uit verskillende oorde gevoed: die nuwe fisika, nuwere ontwikkelinge in die teologie, die proses-filosowe en Oosterse en Afrika wêreldbeelde”. (kyk ook Kommentaar op Julian Muller se “Panenteïsme: ’n Nuwe verstaan van God vir ’n nuwe tyd?”)

Hy het openlik in die koerante verklaar: “Ek … sou myself ’n post-teïs wou noem. Dit beteken ek aanvaar doelbewus dat daar ’n era met denkwyses en taal oor God verbygegaan het.” (Kyk Dít wat ons nié dink.)

Dit het nodig geword dat ons weer vir mekaar sal sê: Die kerk van Christus is in ’n verbond met God om die waarheid aangaande God in die wêreld in stand te hou en te verkondig. Ons leraars is ook in ’n verbond met mekaar omdat ons saam ’n eed voor God afgelê het dat ons getrou aan die evangelie sal wees. Ek weet nie van een leier in die NG Kerk behalwe Adrio König wat Müller tot verantwoording geroep het nie. Die goed wat verkeerd is word inteendeel doelbewus onder die mat ingevee.

Die Here het vir Eli gesê: “Die een wat My eer sal Ek eer, die een wat my minag sal ek minag” (1 Sam 2:30). Dit is ’n waarskuwing wat nie net vir ’n teoloog geld nie, maar ook vir ’n kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui