Gay lidmate rig net geweldige skade aan

*******

Gay lidmate rig net geweldige skade aan | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

03 November 2023

Ek was aangenaam verras met die sinvolle en verantwoordelike skrywe van dr. Dewald Koen, “Wedersydse respek is hier belangrik” (26.10), waarin hy ’n beroep doen op die LGBTQI+-gemeenskap om die menings van NG Kerk-lidmate te respekteer wat ongemaklik is met die idee van gays wat in die kerk trou.

Ek wens daar was meer gay mense wat die insig het om te besef dat dit teenproduktief is om gay-huwelike op kerke af te dwing en dat dit net meer argwaan skep teenoor lede van die LGBTQI+-gemeenskap, soos Koen heel korrek uitwys. Die algemene siening onder baie mense is dat gays net sit en wag om hul siening teen wil en dank op almal af te dwing, maak nie saak wat die gevolge is nie.

Die 12 gay NGK-lidmate en hul ouers en ondersteuners wat die hofsaak teen die NGK gemaak het, het miskien die hofsaak en kerklike skermutseling gewen, maar hulle het die oorlog liederlik verloor en ’n ongelooflike teensin teen gay-aktiwiteite van enige aard by ’n groot aantal lidmate opgebou.

Tot so ’n mate dat baie NG gemeentes nou sterk oorweeg om bande met die liberale en pro-gay NGK los te maak, of te herstruktureer, of weg te breek, of sommer weg te loop. Of besef die gay lidmate nog glad nie watter geweldige skade hulle aan hul eie kerk aangerig het nie?

Hoekom is dit slegs gay lidmate wat hofsake teen hul eie kerk maak ten einde hul eie selfsugtige sieninge af te dwing, terwyl sulke hofsake in bitter weinig ander kerke plaasvind? Respek is normaalweg iets wat verdien moet word, maar as die gays aanhou om so aan te gaan, sal wedersydse respek vir altyd ontbreek. Ek hoop vele van hulle lees Koen se skrywe en besin ernstig daaroor.

• Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui