Wat gaan aan met ons wêreld?

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Januarie 2005 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Die aardbewing wat op Sondag 26 Desember 2004 plaasgevind het, het 9 op die Richterskaal gemeet. Dit is ’n skudding wat 10 000 maal groter is as een wat 5 op die Richterskaal meet. Dit het die krag gehad van miljoene atoombomme soortgelyk aan die een wat Hiroshima getref het. Wat gaan aan? Wat hou die toekoms in? Koerantredakteurs praat van die “natuur se woede”, of “Moeder Natuur se toorn”. Wat sê die Here?

Die Here sê alles is onder beheer

Jesus het voor sy dood en hemelvaart oor die einde van die wêreld gepraat. Hy het toe alreeds gesê: Op die aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe (Luk 21:25). Hierdie dinge waarvan ons nou hoor is deel van God se beplanning vir die wêreld. In Lukas 21 lees ons ook dat daar tekens sal wees aan die son, die maan en die sterre. Die kragte van die hemelruim sal ontwrig word Ons moet dus nie dink dat God beter tye beplan vir die toekoms nie. Hef aan lê nog voor! Alles verloop egter volgens God se plan.

Die Here se vir wêreld – Bekeer julle!

Die dinge wat gebeur is nie soos die mense sê, “die natuur se woede” nie. Nee, dit is ’n openbaring van God se toorn oor die sonde. Dit is ook terselfdertyd ’n openbaring van sy liefde. God roep die mense op om vir Hom respek te kry. God wil hê dat almal in die hemel en op die aarde, hulle knieë sal buig voor sy Seun en almal sal erken dat Jesus Christus die Here is (Fil 2:19,29).

In die tyd van Jona het die stad Nineve tot bekering gekom net omdat ’n arrogante profeet hulle gewaarsku het. Vandag praat God met ontsagwekkende natuurverskynsels. Hoeveel mense is bereid om hulle tot God te bekeer? Deur die TV kon die hele wêreld duidelik sien wat daar in die Ooste gebeur het. Almal praat oor die skouspel, maar praat ons ook oor God, oor sy Woord en die oordeel wat aan die kom is? Dit is wat God wil hê moet gebeur. Hy roep die mense op om hulle tot Hom te bekeer.

Die Here sê vir sy kinders – Tel julle koppe op!

Die Here sê ook in Luk 21 dat mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat op die wêreld gebeur, maar kyk wat sê Hy vir sy kinders: As hierdie dinhe begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby. (Luk 21:28)

Daar is nog erger dinge aan die kom in die wêreld. Die kinders van die Here sal dit nie vryspring nie. Vervolging sal toeneem. Die Here roep ons egter op om te midde van die gebeure van die eindtyd, ons koppe op te tel. Paulus sê in 1 Kor 16:13: Staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! Dit is die karaktertrekke van die kinders van die Here, wat ons moet nastreef. Terwyl die skip besig is om te sink, is ons geroepe om die Woord van die Here aan die mense bekend te maak. Ons moet troos en raadgee. Ons moet mense red. Dit is die rede waarom die Here wil hê dat ons moet sterk wees en ons soos sy kinders sal gedra.

Mag julle in hierdie jaar, die seën van die Here in al die fasette van julle lewens ervaar. Mag sy vrede oor julle harte en gedagtes die wag hou en mag julle wonderlik bewus word hoedat Hy julle gebede verhoor.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui