Vroue en gays: ‘Kerk vorder min’

Kyk ook:

Die volgende artikel is van Kerkbode gekopieer.

**************

Vroue en gays: ‘Kerk vorder min’

2011-03-18

STELLENBOSCH. – Daar is die afgelope 14 jaar nie veel vordering gemaak om vroue en homoseksuele mense as volwaardige lidmate in die Afrikaanse kerke te aanvaar nie. Ten spyte van sogenaamde progressiewe sinodebesluite in die NG Kerk en die Hervormde Kerk word gay- en vroue-lidmate steeds gemarginaliseer.

So het prof Yolanda Dreyer en mnr Pieter Celliers tydens die afgelope US Woordfees op Stellenbosch gesê by die bekendstelling van Celliers se nuwe boek, Soeker. Prof Dreyer, hoof van die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit Pretoria en ’n leraar van die Hervormde Kerk, was die eerste vrou wat as predikant van een van die drie Afrikaanse susterkerke georden is. Mnr Celliers het 14 jaar gelede opslae gemaak met die verskyning van sy boek, ’n Kas is vir klere. Hy was die eerste Afrikaanse predikant (ook van die Hervormde Kerk) wat sy homoseksuele oriëntasie in ’n boek verwoord het.

Veertien jaar later is hy skepties oor die vordering wat die kerk gemaak het om gay mense as volwaardige lidmate te aanvaar. “Die NG Kerk het met sy sinodebesluit van 2007 die indruk geskep dat daar ’n deurbraak gemaak is om homoseksuele mense te akkommodeer. Maar al wat die kerk gedoen het, was om die verantwoordelikheid om homoseksuele mense as volwaardige lidmate te aanvaar op gemeentes af te skuif en ook dít was voorwaardelik,” het hy tydens ’n bespreking van sy boek gesê.

Mnr Celliers, wat hom na sy vorige boek vir bykans ses jaar aan die openbare debat oor homoseksualiteit onttrek het, bevind hom met sy nuwe boek weer midde-in die gay-debat. Hy sê die talle reaksies op sy vorige boek was een van die redes waarom hy weer tot die gesprek oor homoseksualiteit toegetree het.

Prof Dreyer (foto) het gesê toe sy van die briewe gelees het wat aan mnr Celliers geskryf is, wou sy naar word omdat dit so vol vooroordele teenoor homoseksuele mense was. “Ek het dieselfde vooroordele ervaar toe ek die eerste vrou was wat predikant in een van die susterkerke wou word. Maar ek is darem as ’n tweedeklas Christen beskou terwyl homoseksuele mense deur baie mense as ’n gruwel voor God beskou word.”

In nog ’n gesprek tydens die Woordfees het dr Chris Jones, hoof van die Universiteit Stellenbosch se Kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap, gepleit vir die verrui­ming van die huwelik sodat homoseksuele mense binne ’n verhouding van liefde en trou se verbintenis ook deur die kerk aanvaar sal word.

– jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui