Vrae en antwoorde oor die Koinonia Sinode

Vrae en antwoorde oor die Koinonia Sinode

11 Februarie 2023

Wat gaan die Koinonia Sinode (KS) wees?

Die KS gaan ‘n geloofsgemeenskap wees waar Skrifgetroue, behoudende NG-kerke en lidmate suiwer Bybelse doelstellings kan nastreef en uitleef.

Is die stigting van KS deel van die skeuring in die NG-Kerk?

Kairos Netwerk (KN), wat die stigting van KS fasiliteer, word deur sommiges beskuldig van kerkskeuring. Hierdie beskuldigings is ongegrond en selfs kwaadwillig aangesien KN vanaf die ontstaan op hul webtuiste en in die publike media verklaar het dat behoudende lidmate deel van die NG-kerk moet bly. Die groot getal gemeentelede wat reeds van die NG-kerk weggeskeur het, en steeds besig is om weg te skeur, is grootliks te wydte aan die AS se onbybelse besluite en die spanning wat dit in die kerk veroorsaak.

Sal die KS stigtings-vergadering ‘n amptelike NG-kerk vergadering wees?

Die stigtingsvergadering gaan op 3 en 4 Mei 2023 plaasvind. Afgevaardigdes wat met ‘n amptelike geloofsbrief deur hul NG-gemeentes gestuur word sal hul kerkrade verteenwoordig en daardeur amptelike stemgeregtig wees om aan die besluitneming deel te neem. Dit sal die vergadering ‘n amptelike NG-kerk vergadering maak en die besluite sal bindend wees.

Word waarnemers toegelaat?

Waarnemers wat onderneem om die orde-reëlings van die vergadering te respekteer, is welkom. Nader aan die tyd sal ’n elektroniese inskrywingsvorm op die Internet beskikbaar wees sodat individue as waarnemers kan inskryf.

Wat van Artikel 37?

Streeksinodes soos die Vrystaat, Namibië, Goudland en Oostelike Sinode wat hulself vir Artikel 37 beywer gaan daarmee voort. Indien dit realiseer sal dit ‘n alternatiewe uitkoms bied vir behoudende gemeentes wat deel van die NG-kerk wil bly maar nie die liberale, breë weg waarop die Algemene Sinode tans is, saamstap nie.

Waar pas Kairos Netwerk (KN) in?

KN het tot nou toe, en sal in die toekoms, as fasiliteerders optree wat behoudende christene en instansies ondersteun, toerus en met advies bedien. Ook aan die KS, sou die KS vergadering so besluit.

Wat van die Algemene Sinode (AS) vergadering van 2023?

Tot en met die stigting van die Koinonia Sinode moedig Kairos Netwerk behoudende gemeentes aan om alle moontlike kerklike kanale te gebruik om ’n voorlegging te doen tydens die Algemene Sinode vergadering in Oktober 2023.

Wat van ander behoudende denominasies?

Koinonia Sinode sal ‘n vergadering van behoudende NG-kerke bly, met ‘n getuienistaak na buite. Deel daarvan sal wees om ekumeniese bande met ander behoudende denominasies te versterk, plaaslik en internasionaal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui