VGK en NGK ontmoet: ‘Ons is broers en susters in Christus’

Die volgende het hoogs waarskynlik daartoe aanleiding gegee dat die moderator, Nelis Janse van Rensburg, op 24 September 2022 weer omverskoning gevra het vir die NG Kerk se rol in apartheid (kyk Moderator van die NGK vra omverskoning vir apartheid).

*******

VGK en NGK ontmoet: ‘Ons is broers en susters in Christus’ | Kerkbode

Helene Meissenheimer

1 September 2022

Wanneer dit gebeur dat mense met mekaar se hart praat, kan die koffie maar koud word.

Só het sowat 45 dominees en ouderlinge hulle koffietyd uitgestel op die tweede oggend van ’n Eenheidskonferensie wat die VGKSA en NG Kerk van Wes-Kaapland saam gehou het van 29 tot 30 Augustus by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington.

Een na die ander het dominees opgestaan en uit die hart gepraat oor wat hulle en hulle gemeente al beleef het op die pad van nouer samewerking tussen die VGKSA en NG gemeente van hulle dorp of gemeentes binne hulle ring.

Nie een se reis was dieselfde nie.

Terwyl een vertel het hoe hulle saam op hulle dorp vir die regte van burgers uit ander Afrikalande kon opstaan, het ’n ander vertel die reis na nouer samewerking het vir hom al gevoel soos ’n “trip to hell and back” maar nogtans sal hy dit weer en weer kies. Hierdie paar dae en veral dr Llewellyn MacMaster, die VGKSA se moderator, se boodskap die vorige dag het hom herinner kerkeenheid dien ’n groter saak: “Ons reis is gegrond in die Woord van God en ons gemeenskappe het nodig dat die kerk saamwerk.”

MacMaster, saam met die NG Kerk se ondervoorsitter, ds Nioma Venter sowel as van hulle onderskeie dagbestuurspanlede het die konferensie as waarnemers bygewoon. Ds Nelis Janse van Rensburg, die moderator van die Algemene Sinode, is tans in die buiteland waar hy die Algemene Vergadering van die Wêreldraad van Kerke bywoon.

Die idee was vir kerkleiers om te kom hoor wat werk op “voetsoolvlak” en wat bied uitdagings vir “die pioniers van nouer samewerking- en eenheidsprosesse aan die hand van die Tussentydse Orde,” soos Venter dit by navraag stel.

Die susterskerke in die NG Kerkfamilie het in 2015 gesamentlik ’n dokument, genoem ’n Tussentydse Orde (of Tussenorde) opgestel en aanvaar wat voorsiening maak vir samewerkende gemeentes, ringe, en/of sinodes. (Sien ook Venter se volledige verduideliking hieroor onderaan die berig. – Red.)

Op versoek van beide kerke se leierskap is die geleentheid gereël deur ds André Agenbag, PSD vir Gemeentebediening in die NG Kerk in die Wes-Kaap en ds Stephen Pedro van die VGKSA. Pedro sit op twee stoele, hy is die VGKSA se Predikant in Sinodale Diens (PSD) by Getuienisaksie, ’n gesamentlike bediening van die VGKSA en die NG Kerk, en hy is ook betrokke by gemeentebediening in die VGKSA.

Dit was die eerste geleentheid van so ’n aard en is bygewoon deur sowat 33 uitgenooide deelnemers uit gemeentes en ringe van die VGKSA en NG Kerk in Wes-Kaapland. Dr Frederick Marais van die NG Kerk se kuratorium sowel as lede van die NG Kerk se Taakspan Navorsing was ook daar.

Oor twee dae is ruim tyd gemaak vir openhartige saampraat rondom tafels en met mekaar, saam eet en saam kapeldienste bywoon wat gesamentlik deur VKGSA en NG leraars gelei is.

Daarom dat hy Dinsdagoggend se gesprekstyd nie te gou wou stop nie, vertel Pedro later vir Kerkbode. “Ek kon ervaar ons is by die punt dat deelnemers sê afgesien van tegniese goed en kerkordelike goed wat baie keer amper ’n stok in die wiel kan wees, gaan ons mekaar nie los nie. Ons is broers en susters in Christus. Hierdie is ’n opdrag van die Here en ons gaan deurdruk.”

Die belangrikste wat uitgekom het in die twee dae is dat nouer samewerking eerstens gaan oor verhoudings-bou, som Agenbag dit op. Hy voeg by dat kerkordelike riglyne soos die Tussenorde belangrik is, “maar belangrikste is wat op voetsoolvlak begin … ’n verbintenis om mekaar te leer ken, om verhoudings te bou, om stories met mekaar in veilige ruimtes te deel. Om saam te bid, geestelik saam te verkeer, saam geloofsgewoontes beoefen en saam projekte aan te pak.”

Tydens die konferensie het ’n luisterspan van die taakspan nota’s geneem waaruit aanbevelings vir die uitbreiding en verheldering van die Tussenorde voorgestel kan word.


Meer oor die Tussenorde

In reaksie op Kerkbode se navraag oor die Tussenorde skryf ds Nioma Venter as volg: “Op die pad na kerkeenheid en terwyl daar steeds verskillende kerkordes binne susterskerke geld, is ’n Tussentydse Orde gebaseer op ’n gedeelde belydenisgrondslag tussen die NGK SA, die NG Kerk in Afrika, die Reformed Church in Africa en die VGKSA geskep en aanvaar.

Die Tussentydse Orde maak voorsiening vir samewerkende gemeentes, ringe, en/of sinodes. In die Wes-Kaap is daar verskeie gemeentes en ringe wat intussen die ‘tussenorde’ begin implimenteer het. Soos enige vernuwing wat die moeite werd is, is daar groeipyne en het ons nodig om te leer soos ons voortgaan.

Die afgelope eenheidskonferensie was die eerste van so ’n leergeleentheid. Dit is gelei deur ons twee predikante in sinodale diens, di André Agenbag en Stephen Pedro. Die twee moderature van die NGK en die VGK het opdrag hiertoe gegee en is as waarnemers genooi.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui