Uitsluiting van gays uit kerk se ampte is onchristelik

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn (skakel).

Kyk ook die kommentaar onderaan.

****************

‘Uitsluiting van gays uit kerk se ampte is onchristelik’

3 Junie 2010

STELLENBOSCH. – Dit is onchristelik om mense op grond van hulle seksuele oriëntasie uit te sluit van volle kerklidmaatskap of enige amp in die kerk.
So sê dr Gerrit Brand, senior lektor in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Dr Brand vergelyk die uitsluiting van homoseksuele persone as volwaardige lidmate en uit al die kerk se ampte met die Afrikaanse susterkerke se destydse ondersteuning van apartheid. Hy het ’n beroep op die NG Kerk en op alle Christene gedoen om “na die stem van God (eerder as na ’n simplistiese uitleg van Bybeltekste wat op minagting vir God se Woord neerkom) te luister”.

Dr Brand verwoord sy standpunt hieroor in ’n onlangse inskrywing op sy blog Dinknet (http://blogs.litnet.co.za/gerritbrand). Hy sê hy rig sy pleidooi aan die kerk spesifiek as Christen, as teoloog en as NG kerklidmaat. Dr Brand se standpunt oor gelyke behandeling vir homoseksuele mense in die kerk het saamgeval met vanjaar se Internasionale Dag teen Homofobie en Transfobie.

Dr Brand se onomwonde uitsprake oor homoseksualiteit sluit aan by ’n dokument waarin ’n aantal geestelike leiers ’n memorandum oor “diskriminasie teen mense wat lesbies, gay, biseksueel, transgender en interseks is” onderteken het.
Hy sê omdat die kerk se maatskaplike betrokkenheid, sy “politiek”, volgens hom altyd in die eerste plek op die interne lewe van die kerk as ’n anderster, alternatiewe gemeenskap moet fokus, moet hy ook sy eie geloofskaarte op die tafel sit. “Ek doen dit spesifiek as Christen, as teoloog en as NG kerklidmaat.”

Mense wat homoseksualiteit veroordeel, beroep hulle telkens op die Bybel, en beskuldig altyd diegene wat met hulle verskil daarvan dat hulle nie die Bybel ernstig neem nie. Maar dit is juis vanuit die Bybel dat die veroordeling van homoseksuele mense nie aanvaar kan word nie, en dit is juis die misbruik van Bybeltekste wat die eintlike disrespek vir die Bybel is, skryf dr Brand in reaksie op die verskeie kommentare wat lesers op sy bloginskrywing gelewer het.

Die memorandum waarin homofobie veroordeel word, is onder andere onderteken deur eerw Rowan Smith van die St George-katedraal en verskeie ander geestelikes. Dit sluit in dr Allan Boesak, Marius Brand, Ecclesia de Lange, Laurie Gaum, Judith Kotzé, Pieter Oberholzer, biskop David Russel en mnr Marlow Valentine.

Die NG Kerk se parlementêre woordvoerder, dr Ben du Toit, het in sy reaksie op dr Brand se inskrywing laat weet dit maak ’n mens redelik mismoedig as jy oplet hoedat juis die Christelike gemeenskap in hulle leierskap eenstemmig is oor die veroordeling van homoseksualiteit.

Dr Du Toit sê hy is dankbaar dat die NG Kerk al goeie gesprekke oor die saak gehad het, maar die pad is nog lank.
jean@tydskrifte.co.za

Kommentaar

Disrespek teenoor Bybel
2010/06/03
Dr. Brand impliseer dat hy nie disrespekvol teenoor die Bybel optree as hy die teenoorgestelde van wat in die Bybel staan, propageer nie. Wil hy nie maar hier verduidelik hoe hy sy teologiese gimnastiek doen nie, en dalk ook hoe hy eendag aan God gaan verduidelik hoekom hy mense aangemoedig het om in hul sondes voort te leef? – Daniël Michau

Daniël se respek
2010/06/07
Daniël,
Die tyd gaan nog aanbreek wanneer ouens soos jy, jul koppe in skaamte gaan laat sak. Daardie tyd is gouer as wat jy dink. Dit verstom my altyd dat ouens soos jy volhard met die arrogante veroordeling van iets waarvan jy duidelik niks wil weet nie. Beteken die voorbeeld van Jesus in die Nuwe Testamnt dan niks vir jou nie? Selfs ek, as ongelowige, kry waarde uit die voorbeeld wat ’n Jesus (of Ghandi, of Boeddha)gestel het. ’n Voorbeel van vredeliewendheid, verdraagsaamheid en nie-veroordeling. Ek herhaal wat ek by ’n vroëre geleentheid aan jou gestel het: Wanneer jou eie vlees en bloed homoseksueel is en jy die wroeging, selfkastyding en smart ervaar waardeur hulle gaan omdat hulle wil inpas by ’n gemeenskap wat hul voortdurend verwerp; daardie dag sal sal jou oë hopelik oopgaan. Ek kon in elk geval nog nooit verstaan hoekom mense soos jy julself ophou met wie na julle sg hel of hemel sou gaan nie. Jy sal tog saamstem dat dit nie in jou hande is nie, so hoekom so aantjorring?

Een vraag aan jou: Waar pas interseks en hermafrodiete in jou veroordelingsmodel in? En wat as, net soos wat ’n hermafrodiet nie gekies het nie, ’n homoseksueel ook nie die keuse gemaak het nie? Wat dan Daniel? – Malherbe

Veroordeling
2010/06/07
Verbeel ek my prof. Malherbe, of veroordeel jy nie nou juis my en wat jy dink my standpunt is nie? In werklikheid het ek weergegee wat in die Bybel staan — dis beslis nie my eie bedinkte standpunt wat ek probeer verkondig nie. Wie binnekort in skaamte voor God gaan staan is dus ’n goeie vraag. Hoekom ’n selferkende ongelowige soos jy aanhou karring op hierdie webwerf, is ook nie so duidelik nie. Hopelik is die goeie rede dat jy eintlik soekend na God is, maar dan moet jy dalk erns begin maak met Sy Woorde. – Daniël Michau

Veroordeling
2010/06/07
Miskien lees jy iets in my woorde waarvan ek onbewus is, maar nee, my doel is nie om te veroordeel nie. En indien dit die indruk is wat geskep is, vra ek om verskoning. Jou stelling dat jy “net weergegee het wat in die Bybel staan”, nou ja, daaroor kan ons lank gesels. Jy klink nou presies soos die dominees uit my kinderjare wat ook “net weergegee het wat in die Bybel staan” ter regverdiging en verdediging van die apartheidbeleid. Hou egter in gedagte dat daar ook heelwat gelowiges bestaan wat 100% van jou gaan verskil oor jou interpretasie van jou bybel wanneer dit by homoseksualisme kom. Jy vra wat “karring ek op hierdie webwerf”? Die antwoord is eenvoudig – dit is ’n poging tot beter begrip vir my medemens en miskien meer spesifiek die verkramptes onder hulle. Want beter begrip lei tot beter hantering en uiteindelik ’n beter kans op meelewendheid. Jou aanname oor ’n “soeke na god” is amper so verregaande soos jou sienswyses oor seks en evolusie, maar as dit jou beter laat voel, voel vry om aan te hou spekuleer.
Ek het nou al jou vrae beantwoord. Gaan jy nou my vraag beantwoord, Daniel? – Malherbe

Seksuele orientasie
2010/06/07
Ek is ’n sondaar wat van nature geneig is tot alle kwaad. Die ergste probleem is dat alle meisies van tussen 20 en 30 vir my net altyd die mooiste bly. My orientasie is om elke dag ’n ander een te wil he. God het my mos ook so gemaak?? Maar die Woord se ek moet dit nie doen nie. So ek moet my orientasie onderdruk. Ek bely dan my neiging tot die sonde. Ek loop nie in die strate en betoog vir my “regte” nie. Daar is hulp en verlossing vir alle sonde. Geen sonde is te groot nie. Christus se verlossing is vir my genoeg. ’n Dankbaarheidslewe is dan ook uiters gepas. – Jan Buter

Homoseksueel
2010/06/08
Dankie Jan Buter, jy beantwoord Malherbe se vraag. – Daniël Michau

Seksuele orientasie
2010/06/08
Jan, ek is nie seker wat jy hierbo probeer oordra nie, maar miskien kan jy my oorspronklike vraag aan Daniel beantwoord: Waar pas interseks en hermafrodiete in jou veroordelingsmodel in? En wat as, net soos wat ’n hermafrodiet nie gekies het nie, ’n homoseksueel ook nie die keuse gemaak het nie?

Jou denkfout is dat jy homoseksualisme gelykstel aan jou drange t.o.v. 20 – 30jarige vroue. Het jy ook drange na 20jarige seuns Jan? Het jy ooit op enige stadium in jou lewe of gedurende puberteit hierdie drang ondervind en toe doelbewus besluit jy kies eerder meisies? Ek kan nie namens jou praat nie, maar ekself was nog altyd tot die vroulike geslag aangetrokke, m.a.w. ek het nooit enige doelbewuste keuse uitgeoefen nie. Ek neem aan jy ook nie. Indien dit die geval is, volg dit logies dat homoseksuele ook nie ’n bewuste keuse gemaak het nie. En hieruit kan jy sien dat jou redenasie rondom “keuse” tussen ’n 20jarige meisie en ’n ouer dame heeltemal platval, want hier is KEUSE ter sprake. En terloops, my vrou is heelwat ouer as 30 en ek vind haar nog net so mooi (en selfs mooier) soos toe sy 25 was. – Malherbe

Seksuele orientasie.
2010/06/12
Malherbe, Eerstens ek het nie’n veroordelingsmodel nie. Ek het ’n verlossingsmodel naamlik die soenverdienste van Christus. ’n Verlossingsmodel implisseer dat ons almal verlossing en vergiffenis van sonde nodig het. Dit kan ons slegs deur Christus verkry. My stryd teen die sondige natuur strek baie verder as net tov die seksuele.

Ek is meer as 42 jaar getroud en my vrou is minstens nog net so mooi vir my en ek is selfs meer lief vir haar as toe ons getroud is.
Nee ek het nooit seksueel aangetrokke gevoel tot mans of seuns nie. Ek dank die Here ook daarvoor.

Ons as gelowiges leef saam met die wat geskei is, en selfs met die wat hertrou, met dronkaards, met die geldgieriges ens. Die mense wat aan hierdie sondes skuldig is beweer egter nie dat hulle mag en sal aanhou skei en hertrou, want dis in hul aard. Die alkoholis kan tog ook nie nou verklaar omdat hy die neiging het, is dit nie meer sonde nie, en sal hy aanhou drink, want God het hom so gemaak. Die kleptomaan kan tog ook nie nou wil verklaar dat steel nie meer sonde is nie, alhoewel hy homself nie kan verhelp nie. Maar as mens sy sondes bely is daar vergiffenis.
Daarom is dit vir my uiters vreemd hoekom homoseksuele dade uitgelig word vir spesiale behandeling. As mens wil en kan en mag ek hulle nie as mense verwerp nie. Maar die dade kan ek nie goedpraat nie, net soos ek skei, hertrou, dronkenskap, diefstal of watter ander sonde ookal sou kon goedpraat nie. Hulle (net die homoseksueles?) kan verklaar “ek kan en sal sonde aanhou doen want God het my so gemaak” is die probleem. Daar is geen belydenis nie. Die implikasie is dan die volgende. Ons is almal van nature geneig tot die sonde, ons kan dus ons sondige geaardheid nou maar laat botvier, – want God het my met hierdie geaardheid geskape. Of geld dit net tov sekere uitgesoekte sondes?
Die debat en “studie” oor homoseksualisme het klaarblyklik iets te doen met die “moderne sielkundige wetenskap” en/of die humanistiese menseregte ideologie, en die “geen diskriminasie gelykheidsteologie”. (met die uitsondering van die behandeling en hantering van homoseksuele dade as sonde).
Lev 18 begin met “Die Here het vir Moses gese:” Moses praat dus nie as ’n mens van sy tyd nie.Hy kondig God se instruksies en gebooie vir sy volk aan. Allerlei seksuele verhoudings word verbied op grond van “want sy is jou nageslag”, “jou pa se bloedverwant”, “jou suster”, “jou tante”, “skande oor jou broer”,”mag nie jou vrou skande aandoen nie”,”jouself nie verontreinig nie”, ens. Maar in vers 22 word daar oor homoseksuele dade die rede aangegee as ” dis ’n afskuwelike sonde” en in vers 23 oor bestialiteit “dis iets afskuweliks” In Lev 20:13 word weer spesifiek genoem dat so’n persoon ’n afskuwelike sonde doen. (dit word herhaal t o v iemand wat met ’n ma en haar dogter trou. Indien daar sprake sou kon wees van ’n sonde uitlig,as erger as ander, sou homoseksuele dade die naaste daaraan kom. Nie as meer aanvaarbaar nie maar juis as minder aanvaarbaar. In Rom 1 wil dit ook voorkom asof Paulus homoseksuele dade uitlig voor hy by ’n algemene lys van sondes kom. Net terloops, nerens in die nuwe testament word weer na bestialiteit verwys as sonde nie maar wel na homoseksualiteit. Kan mens byvoorbeeld ’n bestialiteits of pedofiliteits orientasie he? en wat dan?
Was die ou testamentiese mense nog altyd verkeerd, en was alle christene en al die teoloe deur meer as 19 eeue ook verkeerd? Het die humanistiese menseregte ideologie ons nou werklik die waarheid laat sien? Die bybel is nie ’n wetenskaplike handboek nie, maar die “moderne fariseers” analiseer en interpreteer die bybel tot in die fynste detail totdat dit se wat die mens wil hoor. Soms dink ek die moderne wetenskaplike teoloe dissekteer die bybel asof dit ’n lyk is.
Van die homoseksueles in my kring van kennisse vriende en familie (Ek dink so vinnig aan sewe van hulle)het ten minste vier gekies na ’n lang getroude lewe en die verwekking en grootbring van kinders. Of almal kan kies weet ek nie, niemand kan egter kies om sonder ’n sondige geaardheid (orientasie)gebore te word nie. Die een se kruis is dalk swaarder as die ander s’n. Daar moet ons mekaar se lastes dra! Maar in ootmoedigheid en nederigheid en nie met ’n arrogansie van “ek sal aanhou sondig nie” en ook nie met meerderwaardige houding maak asof hulle die enigste sondaars is nie.
– Jan Buter

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui