“Soekers na die waarheid” of “verlustig in die waarheid”?

Moet Christene na hulleself verwys as “soekers na die waarheid”? Nee, Christene verlustig hulself eerder aan die waarheid wat vir ons in die Bybel opgeteken is.

Die volgende artikel is gekopieer van http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com.

**********

“SOEKERS NA DIE WAARHEID”

– behoort Christene hulleself so te beskryf?

Die brief van ds. Hector Jooste aan die Kerkbode, wat wyd gelees is, moet ons weer oor ’n hele paar sake ernstig laat nadink en besin. Een daarvan (wat hy ook pragtig aanspreek) is die algemene segswyse (verskoning) onder sommige teoloë om na hulleself te verwys as : “SOEKERS NA DIE WAARHEID.”

Nou, op die oor af klink dit baie vroom en nederig. Nie een van ons weet of verstaan mos alles nie. Niemand van ons het al gearriveer nie. Is dit dan nie dalk gepas om so na onsself as “soekers” te verwys nie?

My opinie…

is ’n duidelike – NEE! Ek deel graag my redes met jou:

Christene is per definisie mense wat reeds die Waarheid (Jesus self volgens Johannes 14:6) gevind het. Meer korrek natuurlik, Hy het ons eerste gevind, want dis immers HY wat verlorenes soek en red. Met groot nederigheid, maar ook met ’n blydskapvolle positiewe dankbaarheid kan en moet God se kinders bely en hardop juig : “Ons ken die Waarheid.” Dis nie wensdenkery of naïef onrealisties om so te sê nie. Dis ook nie hoogmoedig nie, maar gee erkenning aan die getuienis van God in sy Woord. Jesus is baie duidelik hieroor in Johannes 8:32 “…en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Volgens die Skrif is die waarheid nie iets wat weggesteek is en nog gesoek moet word nie. Nee, dit is geopenbaar en ons moet daaraan vashou. Van die diakens word as vereiste gestel :“Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou.” (1 Timoteus 3:9) Die waarheid is vir God se kinders so duidelik en so bekend dat aspirant kerkraadslede (volgens die konteks in 1 Timoteus 3) daaraan getoets moet word. Leiers in die kerk moet nie soekers wees van die waarheid nie, maar vashouers aan en doeners van die waarheid! Kinders van God moet nie na die waarheid soek nie, maar dit inderdaad ken en daarvolgens die lewe. “Ek het julle waarlik lief, en nie ek alleen nie, maar ook almal wat die waarheid ken..”(2 Johannes 1:1) Hulle is wel in staat om dit te doen en dis wat sulke groot vreugde aan die skrywer van die 3 Johannes brief verskaf het. “Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe. Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.” (vers 3,4)

Ons het die Skrif ontvang as vaste norm en word so in die waarheid onderrig. Nie net in kennis van Jesus se persoon en werk nie, maar ook wat betref voorskrifte omtrent ons daaglikse lewenswyse sodat ons toegerus kan wees vir die goeie werke wat God vir ons bestem het. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” (2 Timoteus 3:16) In praktyk is die mooi woorde van “Ons is maar net soekers na die waarheid” eintlik net ’n verskoning omdat ons nie wil buig voor die gesag van God se Woord nie. Die Woord van God is mos nie vaag nie? Is daar nie duidelike uitsprake oor die meeste van die sake waarmee hierdie “soekers” (en ons sinodes) nou al so lank worstel nie? Dit lyk soms of party aanhou “soek” totdat hulle ’n antwoord vind wat hulle toelaat om die Skrifnorme te ignoreer en in sonde voort te leef!

Die gemeente word die “draer en beskermer van die waarheid” genoem. (1Timoteus 3:14) Hierdie feit word genoem in die konteks van verskeie etiese voorskrifte oor hoe daar in die “huisgesin van God” opgetree moet word. Weereens, hoe kan ons iets voortdra en beskerm as ons nie weet wat dit is nie?

Sonder die ken van die waarheid kan daar nie iets soos sendingwerk bestaan nie. Die Bybel is baie positief oor die feit dat ons die waarheid kan ken en dit op so ’n wyse dat ons dit ook aan andere kan en moet verkondig. Hoor hoe positief is die apostel Paulus hieroor as hy aan Timoteus skryf : “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid…” (1 Timoteus 2:5-7) Vanuit ’n kerk waar daar onsekerheid oor die waarheid se inhoud bestaan kan mens nie juis veel geesdrif vir evangeliese sendingwerk verwag nie. Wat het mens dan nog te sê? Moet mens nou na Moslems, Hindoes, New Agers en voorvaderaanbidders gaan en vir hulle vertel : “Hou so aan, miskien is julle reg en ek dalk verkeerd?” G’n wonder dat ’n onsekere kerk se sendingwerk al moeiliker te onderskei is van enige NGO (NRO) van die UN nie! Hulle kan net so goed en dalk nog beter as ons, sop, toebroodjies en plastiekseile uitdeel! Dat ons praktiese dade van barmhartigheid en liefde moet doen staan vas, maar sonder die evangelie het dit slegs tydelike nut en voldoen dit nie aan Jesus se beskrywing van sending as evangelieverkondiging nie! (Matteus 28:19)

Dis heidene (en in ons dag spesifiek post-moderniste) wat ontken dat daar waarheid is en alewig opsoek is na dit wat hulle nie regtig glo bestaan nie. Daarom is daar baie wat maar kinders van die wind bly en van een dwaling na ’n ander dwaling rondgewaai word! Hulle is inderdaad “swerwers sonder roeping en soekers wat nooit vind.” Pilatus was self ’n groot verteenwoordiger van hierdie rigting soos blyk uit sy woorde aan Jesus. Ons lees :“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.” “Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.” (Johannes 18:37,38)

Kinders van God is mense wat die Waarheid ken en volgens die Waarheid leef. Beslis is niemand van ons volmaak nie. (Dit sê ons natuurlik nie as ’n verskoning nie, maar as ’n belydenis.) Natuurlik is daar weens ons sondigheid, ons agtergrond en menslike beperktheid by niemand van ons ’n volledige verstaan van die Skrif nie. Maar ons het die waarheid, ons hoef dit nie te soek nie. Ons moet dit dalk net meer (eerlik) ondersoek en bestudeer, maar veral gehoorsaam! Ons behoort nie van onsself as soekers na die waarheid te praat nie, maar wel moet ons nederig erken dat ons streef na dieper insig in die Woord. En dit doen ons saam met die gelowiges oor die wêreld heen en ook deur die eeue heen. Ons doen dit nie saam met ander sogenaamde “soekers” nie, maar ons doen dit saam met ander mense wat die waarheid liefhet! So groei ons in geestelike volwassenheid! “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” (Efesiërs 3:18,19)

Ek aanvaar dat sommige die woorde “Soekers na die Waarheid” dalk opreg gebruik en daarmee net bedoel dat ons mekaar nodig het om die Bybel beter te verstaan. Maar alles in ag genome dink ek dat ons die term “Soekers na die Waarheid” eerder heeltemal moet vermy. Op sy beste is dit ’n term wat oop is vir misverstand, op sy slegste is dit ’n aanduiding van ’n post-modernistiese gesindheid van onwilligheid om die normatiewe karakter van God se Woord te erken en onvoorwaardelik daarvoor te buig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui