NG leier looi kritici wat sê hy dwaal

NG leier looi kritici wat sê hy dwaal | Beeld

2012-03-12 22:25

Neels Jackson

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, het kritici wat hom en ander teoloë as dwaalleraars probeer uitmaak die naweek kwaai ingeklim.

Hy bestempel van die kritiek as “vals getuienis en kwaadstekery” en “niks minder as openbare leuens” nie.

Niemandt reageer in ’n verklaring wat op Kerkbode se Facebook-blad verskyn, veral op skrywes van dr. Wynand Louw, medikus en NG lidmaat van die Wes-Kaap.

Louw, wat ook ’n veldtog voer teen dr. Ben du Toit omdat dié nie glo die duiwel is ’n persoon nie, het onder meer verwag dat Niemandt vrae oor sy persoonlike geloofsoortuigings moet beantwoord.

Toe Niemandt dit nie wou doen nie, het Louw geskryf die voor die hand liggende rede “is dalk dat hy bang is omdat hy weet dat hy nie meer die belydenisskrifte ondersteun nie”.

Niemandt meen egter daar word van hom geëis “dat ek my geloof bely op die manier wat hulle voorskryf, naamlik dat ek hulle valse voorstelling van sekere skrywers sal ondersteun”.

Hy voer onder meer aan dat Louw die skrywer Brian McLaren se siening oor Christus se versoeningswerk verkeerd verstaan – en dié verkeerde begrip dan aan Niemandt toeskryf.

Niemandt reageer ook op kritiek op die ontluikende kerke (“emerging churches”) wat dié kritici met liberale teologie verbind. In dié kritiek is van die skrywers van dié beweging al as “erger as Moslem-imams” bestempel.

Niemandt meen sulke kritiek is so kwaadwillig dat dit sy asem wegslaan.

“Dit is aanstootlik,” skryf Niemandt.

Oor die ontluikende kerke noem Niemandt verskeie punte wat hy van hulle waardeer.

Dit sluit in hul sterk identifikasie met Christus se lewe.

Hy het die meeste leiers van dié kerke persoonlik leer ken en waardeer hul diep geloof en egte Christelike liefde.

Hy noem egter ook aspekte waaroor hy van party van dié leiers verskil. Dit sluit in Tony Jones se negatiewe siening van denominasies en Rob Bell se “sagte siening van God se oordeel en geregtigheid”.

Hy dink ook die ontluikende kerke is te middelklas en bo-middelklas.

Niemandt se gemeente, Weltevreden, het gesê hulle getuig met vrymoedigheid oor Niemandt se liefde vir Christus en sy opregte geloof.

Hulle hoor dit in sy preke, bely dit saam met hom in die gemeente en ervaar dit in sy lewe.

Louw sê in sy eerste reaksie op Niemandt se stuk niks van die beskuldiging dat hy wanvoorstellings maak van Niemandt en ander se geloof nie.

Hy noem wel nog ’n rits “dwalings” van die ontluikende kerke waaroor hy meen Niemandt moet standpunte stel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui