Moderator ontmasker ‘aanstootlike leuens’ (Kerkbode voorblad)

Die artikel “Moderator ontmasker ‘aanstootlike leuens’” hieronder het op die Kerkbode van 16 Maart 2012 se voorblad verskyn. Vir ’n opsomming van hierdie gebeure, kyk Wynand Louw vs Nelus Niemandt 2012.

********

Moderator ontmasker ‘aanstootlike leuens’ | Kerkbode

Kerkbode voorblad-artikel

16 Maart 2012

Daar is ’n klein maar luidrugtige groepie lidmate en oud-lidmate van die NG Kerk wat leuens, kwaadwilligheid, valse voorstellings en liefdeloosheid gebruik om die kerk en kerkleiers by te kom. Dit is soos ’n moderne “inkwisisie”.

Só skryf prof Nelus Niemandt, voorsitter van die NG Kerk se vorige Algemene Sinode, in ’n sterk bewoorde dokument in reaksie op onlangse aanvalle teen die kerk en sommige van sy leiers op veral webwerwe en die sosiale media.

Prof Niemandt het gereageer op die ideologiese stryd wat genoemde lidmate teen die beleid en besluite van die NG Kerk se Algemene Sinode asook sy leierskap aangeknoop het.

Onder die beswaardes wat teen die kerk en sy leiers te velde trek, is ’n Oos-Kaapse emeritusleraar, ds Gideon Aggenbag, en ’n oor-neus-en-keel-spesialis van die Kaap, dr Wynand Louw. Dr Louw het verlede jaar vergeefs probeer om al die afgevaardigde leraars na die NG Kerk se Algemene Sinode (en wat die besluite goedgekeur het) van dwaalleer aan te kla.

Dié aksie is nou uitgebrei na aanvalle teen prof Niemandt weens sy belangstelling in en navorsing oor die sogenaamde Ontluikende kerke (Emerging churches). Hy sê die beskuldigings is dikwels kwaadwillig, liefdeloos en vol valse voorstellings. “Daar word vals getuienis oor mense afgelê. Mense word onverhoord veroordeel. Woorde word verdraai. My en ander se goeie naam en eer word aangetas. Dit is duidelik ’n kwaadstokery,” het prof Niemandt aan Kerkbode gesê.

“Van die leuens en halwe waarhede wat verkondig word, is byvoorbeeld dat ek vaag is oor wat ek glo. Hoewel ek herhaalde kere doen wat ons van lidmate verwag, naamlik om te getuig van die feit dat ek gereeld my geloof bely, ook in die erediens in die gemeente waaraan ek behoort, weier hulle eenvoudig om dit te aanvaar.” Prof Niemandt het aan Kerkbode gesê hy wil dit duidelik stel dat God se onvoorwaardelike liefde in Christus die hoeksteen van sy lewe is.

Prof Niemandt sê hy weier om mense soos dr Louw se liefdelose vrae op byvoorbeeld Kerkbode se Facebook-blad te beantwoord en toe te gee aan sy inkwisisie-agtige vervolgingstyl. “Daardeur wil ek ’n voorbeeld stel dat hulle verstaan van geloof nie die enigste is en hulle toets van geloof beslis nie korrek is nie. Ek het dit al herhaalde kere gestel dat ek my hou by my legitimasie-eed, maar hulle eis dan dat ek die belydenisskrifte verstaan soos hulle dit verstaan en op ’n lys vrae antwoord wat hulle interpretasie steun.”

Intussen skryf die kerkraad van die NG Gemeente Weltevreden (waar prof Niemandt die afgelope 25 jaar ’n leraar is) in ’n verklaring: “Ons as geloofsgemeenskap getuig met die grootste vrymoedigheid van sy liefde vir die Here Jesus Christus en sy opregte geloof. Ons hoor dit gereeld in sy preke, bely dit saam met hom in die gemeente en ervaar dit in sy lewe.”

Prof Stephan Joubert wat ook al onder van beswaardes se tong deurgeloop het, het aan Kerkbode gesê dit is opvallend dat baie kerke se felste kritici, wat reaktief wolf-wolf skree, reeds hulle rug op die kerk gekeer het. “Blykbaar het baie van hulle geen ander funksie meer oor as om afbrekend, destruktief en veroordelend vanaf die pawiljoen te wees nie. Hulle hoor of debatteer lankal nie meer nie. Hulle weet immers wie en wat is reg en wie en wat nie.” Prof Joubert meen kerkleiers moet leer om kritiek te weeg en nie te tel nie.”

Lees prof Niemandt se volledige reaksie [kyk Moderator ontmasker “kwaadwillige leuens”] asook die NG Gemeente Weltevreden se verklaring op Kerkbode se webwerf by www.kerkbode.co.za of op Kerkbode se Facebook-blad.

Lees ook die berig oor die dalende lidmaatgetalle op bl 3.

jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui