Koinonia aan gemeentes: ‘Ons konsulteer al lank met regslui’

*******

Koinonia aan gemeentes: ‘Ons konsulteer al lank met regslui’ – Kerkbode

01 Maart 2024

Dr Anton Knoetze van die Koinonia Sinode (KS)-groepering binne die NG Kerk het gemeentes in ’n verklaring aangemoedig om “nie te skrik vir dreigemente van wêreldse regsgedinge deur diegene wat nie bereid is om die kerklike weg te volg nie.”

Dit volg na die Algemene Sinode Moderamen (ASM) tydens ’n byeenkoms in Benoni vandeesweek ’n verslag deur die Algemene Taakspan Regte (ATR) bespreek en vir verspreiding na gemeentes voorberei het oor die verskynsel van ’n aantal beswaarde gemeentes wat hulle na die opskorting van hul kerkverband wend.

“Die ASM en ATR meld in die verslag dat die opskorting van kerkverband ’n ’nulliteit’ is en dit is volgens twee regsmenings (wat hulle nie beskikbaar stel nie),” luidens Knoetze se verklaring. “Hierdie stelling sal egter bewys moet word. Die beredenering wat daarvoor aangevoer word, blyk reeds met die eerste oogopslag gebrekkig en sonder behoorlike substansie te wees.”

Knoetze onthul ook in die verklaring dat dié groep al vir ‘n geruime tyd met senior regslui konsulteer. “(KS) het die versekering dat opskorting van kerkverband nie net regtens moontlik is nie, maar dit kan ook met sukses in enige hof verdedig word,” luidens die verklaring.

Kerkbode het vroeër dié week berig oor die ATR se regsmening oor aktes van opskorting. Die ATR verslag kyk vanuit die Kerkorde asook ’n “gemeenregtelike perspektief” na kerkverband in ’n poging om kerkrade helderheid te gee en regsrisiko te beperk. (Sien beide dokumente onderaan hierdie berig. – Red).

Die totale aantal opskortings van die kerkverband wat sedert die Algemene Sinode-sitting in Oktober verlede jaar ontvang is, is ’n “ontwikkelende situasie”, volgens ds Jan Lubbe moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode. “Maar ek dink ons praat van 14 gemeentes en 1 ring,” het hy op 28 Februarie gesê. Die gemeentes is onder meer ongelukkig met die verloop van die 2023 Algemene Sinode. Die NG Kerk het sowat 1 062 gemeentes.

Die KS-verklaring voer aan dat die “ASM (onder invloed van die ATR) die afgelope jaar reeds vier skriftelike uitnodigings tot oop gesprek rondom die Woord van God, onder leiding van ’n onpartydige mediator, summier geweier het.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui