NG Kerk ‘ontsondig’ homoseks, sê dominee

RAPPORT, 7 AUGUSTUS 2005

JOHANNESBURG FINAAL

NUUS bl.

NG Kerk ‘ontsondig’ homoseks, sê dominee

‘Ons raak wêrelds as ons swig voor gay druk’

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2005/08/07/R1/10/05.html

MARLENE MALAN Kaapstad

2005-08-07

Die NG Kerk is besig om homoseks te “ontsondig” en saam met pro-homoseksuele groepe die normalisering daarvan deur te voer. Daarom swig dié kerk nou “voor ’n wêreldse tydsgees”, sê dr. Peet Botha, administrateur van die Cedar-onderwyskollege en buitengewone senior lektor aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

‘n Voormalige orrelis van die NG kerk Moreletapark, mnr. Johan Strydom, dagvaar tans dié kerk nadat die gemeente hom afgedank het omdat hy ’n homoseksuele verhouding het. Die skrywer en akademikus dr. Charles Malan het die afgelope week gesê die NG kerk Moreletapark het ’n skryfkursus wat hy by die kerk sou aanbied, afgestel toe hy laat blyk het studente sal moontlik oor gay ervarings skryf as deel van die kursus.

Botha sê die NG Kerk het geen ander keuse nie as om sy standpunt eens en vir altyd duidelik te maak.

“Die gay-teologie stel hom dit ten doel om ons siening van die Skrif, die leer oor die skepping, die teologie van die huwelik en die leer oor die wese van die sonde te verander. Die NG Kerk speel in die hande van ’n gestruktureerde aanslag.”

Botha het aan Rapport gesê hy het sedert die algemene sinode se besluite oor die onderwerp verlede jaar ’n diepgaande studie oor homoseksualiteit gedoen. Dit word vervat in sy boek Sinode en homoseks , wat pas verskyn het.

‘n Betaalde advertensie vir dié boek gaan binnekort in Die Kerkbode verskyn. Die voormalige redakteur, ds. Johann Symington, het die verskyning daarvan aanvanklik geweier.

Botha sê daar is ” ’n progressiewe paradigmaskuif binne die NG Kerk oor homoseksualiteit. Dis duidelik dat die kerk mank gaan aan gefokusde navorsing oor homoseks binne die sosiaalhistoriese konteks van die Bybel. Die gevolg is dat ’n Bybelgefundeerde uitspraak oor homoseksualiteit nie moontlik is nie omdat meer aandag aan die eietydse affektiewe ervarings van homoseksuele mense gegee word.”

Botha sê só erg is NG lidmate se honger om rigting hieroor te kry dat hy tot einde Oktober “vol bespreek is” om met gemeentes oor sy navorsing te praat.

“Dis omdat NG predikante heeltemal verdeeld is hieroor. Lidmate hoor nie meer van die kansel af watter rigting hulle moet inslaan nie.”

Een van die groepe met wie hy onlangs in gesprek was, is die gay- en lesbiërvereniging van Pietermaritzburg, sê Botha.

“Hulle was meer as bereid om met my te praat. Ek is vooraf gewaarsku dat ek aggressie sou teëkom, maar dit was die laaste ding. Ons het ons standpunte duidelik aan mekaar gestel. Homoseks-toleransie, dit wil sê die beskouing dat homoseks ’n normale variant is van seksualiteit, is ’n volskaalse aanslag op die kernwaarhede van die Skrif,” sê Botha.

Hy glo “die krisis in die seksuele etiek is die gebrek om seksualiteit te sien soos God dit vir die mens bedoel het, die klakkelose aanvaarding van die seksuele relativisme van ons tyd, die ondeurdagte kompromis met sekulêre praktyke, en die akkommodering van die liberale wêreldkultuur in die gemeente van Christus”. Botha sê die huidige stryd in die NG Kerk is tekenend daarvan “dat ons ’n gebrek aan kennis het van wat die Skrif oor die huwelik en seksualiteit sê”.

 

Foto: volkleur
Onderskrif: Dr. Peet Botha, wie se boek Sinode en homoseks besig is om opslae te maak weens sy fel kritiek op die moderamen van die NG Kerk oor sy besluiteloosheid oor homoseksualiteit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui