NG gemeente Misgund se standpunt oor SGV

Kyk ook:

NG Misgund besluite geneem oor AS besluite tydens sy Kerkraadsvergadering van 19 Nov 2016

In lig van Markus 8: 38:

“Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as Sy Vader”

wil die leraar, kerkraad en gemeente van Misgund hulle sonde van verdraagsaamheid bely teenoor die Here, deurdat ons nie al lankal gereageer het oor die AS se besluite oor saamwoon en die duiwel nie. Soos ’n Petrus en Johannes van ouds voor die Joodse Raad, sê ons ook dat ons eerder aan God gehoorsaam wil wees as aan mense. (Hand.5:29) Ons wil dit nou egter regstel en nou omonwonde verklaar: Ons verwerp met afsku en minagting die dwaling van AS besluite oor saamwoon, die duiwel, eengeslagverhoudings en die Belharbelydenis.

Ons moes al die skrif aan die muur gesien het toe die eerste besluit al in 2011 geneem is, want die besluit om saamwoon te ontsondig, was gedryf deur humanistiese ingesteldheid en die sosiale omstandighede en om aan die mens se behoeftes te voorsien.

Met die besluit oor die duiwel dat die duiwel se bestaan as persoon verwerp is, is Jesus van Sy goddelikheid gestroop deur die uitlating deur Ben du Toit dat Jesus ’n produk van sy voorwetenskaplike natuur is. Volgens daardie besluit het die AS besluit dat die verwysings in die Bybel na die duiwel as persoon nie daar hoort nie. Met hierdie besluit het die AS ook die HK Sondag1: vraag 34 en die NGB Art 12,13,14,37 verwerp. Nou lag die duiwel baie lekker, want die AS het besluit om nie ag te gee op 1 Pet 5:8 nie:

“Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.”

’n Liefdelose besluit wat mense oorlaat aan juis die een wat die AS sê nie bestaan nie.

Met skok moes ons verneem van die besluit oor eengeslagverhoudings waar die AS vanuit die humanistiese wêreldbeskouing en met geen Bybelse begronding, eengeslagverhoudings goedkeur en selfs gelykstel aan die huwelik. Ons verwerp hierdie besluit oor eengeslaqverhoudings wat volgens die die Skrif sonde is en seks mag slegs binne die huwelik beoefen word. Ons wil nie in ’n lang relaas oor ons Bybelse begronding van ons standpunt ingaan nie, aangesien dit baie goed en volledig al aan die AS en Sinodes gedoen is. Ons standpunt is dat alle mense sondig is en die Verlossing deur Jesus Christus nodig het. Almal het ’n geneigdheid tot die sonde waarteen ons daagliks moet stry. Daarom etiketteer ons nie mense nie en is almal welkom om deel te word van ons gemeente en begeer ons dat almal wat deel van ons gemeente is, daarna sal streef om heilig voor God te lewe. Geen persoon wat in sonde volhard, mag in enige posisie leiding binne die gemeente Misgund neem nie. (Titus 1:6-8)

Die besluit oor die Belharbelydenis, teen die besluit van die NG Kerk in die breë na ’n baie duur stemming, is ’n bewys van die AS se episkopale houding van alles word van bo af gedoen en as jy nie saamstem nie het gemeentes nou die reg om anders te glo.

Die AS het deur sy besluite die afeglope paar jaar, in lig van Art 43.1.1 van die kerkorde, homself losgemaak van die die NG kerk verband. Die artikel is baie duidelik dat die taak van die AS is– dit wat uitdrukking gee aan die kerk se gemeenskaplike identiteit in terme van Woord en belydenis. Die formulering van die roeping/leidende beginsels/standpunte in sake gemeenskaplike belang soos Geref. Teologiese oortuigings, Bybels etiese uitgangspunte en ekklesiologiese verantwoordelikhede en praktyke, wat deur alle kerklike vergaderings kragtens hulle deelname aan die verband gevolg moet word. Die besluite wat die AS sedert vroeë 1990’s geneem het, het nie beantwoord aan hulle taak nie. Inteendeel, met die laaste besluite is die eenheid verskeur en het dit verdeeldheid veroorsaak. Met die AS se besluite het die AS in effek die sinodale verband met die NG Kerk verbreek. Nou kan Sinodes en gemeentes maak wat hulle wil. Geen eenheid meer!

In Mat 12: 25,30 stel Jesus dit so duidelik:

“Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis (kerk ons insetsel) wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie. Wie nie aan My kant is nie nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaar maak nie, jaag hulle uitmekaar.”

En dis presies wat die AS nou doen, hulle jaag die skape uitmekaar.
Daarom neem hierdie gemeente die besluit om met die AS te breek. Die Bybel is baie duidelik in Gal 1:9 –

“As iemand ’n ander evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref.”

Jes 5:20 en 21

“Ellende wag vir di é wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter. Ellende wag vir di é wat dink hulle het die wysheid in pag, wat dink hulle het baie verstand.”

Met wêreldse menslike wysheid (1Kor 1:17 en 19) het die AS hierdie besluite deurgestoot. 1 Kor 3:19 en 20 is duidelik:

“ …die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe” Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne, en op ’n ander plek: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense en weet dit beteken niks.”

Ons as gemeente beroep ons op ’n ander wysheid soos voorgeskryf deur die Skrif. Spreuke 9:10;

“Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.”

Die Skrifbeskouing waarmee die AS en ons fakulteite werk, nl, mense woorde oor God is ’n breek met die Gereformeerde belydenis van Sola Skriptura dat die Woord van God gesag dra en Goddelike inspirasie het. Daarom kan ons nie saamloop met hierdie valse leer nie. Met hierdie besluite het die AS besluit dat hulle beter weet as God en daarom die Skrif sy gesag ontneem. Soos wat ook in onderhoude ges ê is dat God nou anders met ons praat as voorheen.

Ons begrond ook ons wegbreek van die AS met 2 Joh. verse 10,11:

“As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.”

Die besluite van die AS is polities en sosiaal aanvaarbare/korrekte besluite omdat die w êreld al so diep in die kerk gekruip het dat daar nog ’n uiterlike skyn van godsdiens is, maar die krag daarvan word nie meer geken nie. Die kerk loop die pad om populêr te wees en so sy roeping te verloor. Dis duidelik te sien uit die besluite dat 2 Tim 4:3 en 4 nou waar word:

“Want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal s ê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.”

Al die slegte besluite wat die AS teen die Woord geneem het berus op goddelose liberale denke wat gevul is met humanisme.

Ons as gemeente hou vas aan 2 Tim 3:14

“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy glo. Jy weet tog wie jou leermeester was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.”

Die gemeente besluit ook om sinodale bydraes terug te hou totdat die Oos-kaap Sinode die gemeente skriftelik in kennis stel dat hulle die besluite van die AS verwerp.

Ook word die Ringsbydrae teruggehou totdat die Ring ’n besluit geneem het om die AS besluite te verwerp.

Die gemeente sal deurgans die situasie dophou en verdere besluite neem soos wat omstandighede dit bepaal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui