Wes-Transvaalse sinode sê nee vir besluit oor gay-regte in NG Kerk

Kyk ook:

Die Wes-Transvaalse sinode het teen die besluit van die AS gestem.

***********

Wes-Transvaalse sinode sê nee vir besluit oor gay-regte in NG Kerk

(Van Netwerk24 gekopieer.)

Deur Pieter Steyn, 19 November 2015 23:20

Nee vir gay-regte in die NG Kerk.

Dit was die besluit van die Wes-Transvaalse sinode Donderdag op sy buitengewone sinode in Randfontein.

Die buitengewone sinode is gehou oor onder meer die algemene sinode se besluit om gays ten volle in die kerk te verwelkom.

‘n Voorstel oor die huwelik as heilige eenheid tussen een man en een vrou in ’n lewenslange verbintenis is met ’n meerderheid stemme aanvaar. Die voorstel is geformuleer nadat talle soortgelyke voorstelle ingedien is.

‘n Afgevaardigde het gevra wat word van paartjies wat skei en dus nie in ’n “lewenslange verbintenis is” nie?

Dr. Poena van der Merwe van die Moedergemeente in Bloemhof wat die voorstel gesekondeer het, het die voorstel gemotiveer deur onder meer te sê sy gemeente gaan skeur as daar nie ’n duidelike besluit van die streeksinode kom nie.

“As ek vanaand terugry en ons het nie ’n duidelike, Bybelse besluit geneem hieroor (die gay-kwessie) nie, stap daar 35 lidmate uit my kerk uit.”

‘n Voorstel van dr. Henk Gous van die gemeente Quellerina dat nog ’n jaar aan dié sensitiewe kwessie afgestaan word voordat ’n besluit geneem word, is afgestem.

Ds. Norma Rossouw, moderator van die sinode, wou nie die getal stemme vir en teen die voorstelle bekend maak nie, maar het gesê dit was nie “naby” nie.

Ds. Arno Badenhorst van die Mooirivier-gemeente op Potchefstroom het gesê die kerk versaak sy taak om te tug.

“Ek doen ’n ernstige beroep op die kerk om sonde te tug. Dis deel daarvan om ware kerk te wees. Ek het drie seuntjies en ek tug hulle uit liefde.”

Op die vraag of hy sy seuntjies sou slaan sou een van hulle gay wees, het hy gesê hy sal hom in liefde tug.

Ds. Attie Bezuidenhout het ­gesê God is nie net ’n God van liefde nie, maar ook ’n God van ’n “verterende vuur”. “God is so lief dat hy die sonde straf.”

Ds. Willem Louw van die gemeente Miederpark in Potchefstroom het gesê gays kom na hom toe vir berading en hulp.

“As ons gay-verbintenisse goedkeur, wat gaan ons sê oor saamblyverhoudings?”

Volgens ds. Alewyn Burger van die gemeente Wilkruin op Klerksdorp gaan die sinode oor 20 jaar van nou nie juis kan glo dat daar oor die gay-kwessie gewonder is nie.

“ ’n Mens lees die Bybel anders namate jou omstandighede verander. Dit gebeur al sedert die Bybel geskryf is.”

Die besluit lui voorts dat die NG Kerk in Wes-Transvaal alle mense en hul menswaardigheid respekteer en alle mense gelykwaardig en met liefde en respek behandel.

Meer Stories

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui