Navorsing wys ‘geen enkele gay-geen’

Kyk ook:

Dit is nie die eerste keer dat hierdie gevolgtrekking gemaak word nie…

**********

Navorsing wys ‘geen enkele gay-geen’ | Netwerk24

31 Augustus 2019 09:46

Daar is nie ’n enkele gay-geen wat seksuele oriëntasie bepaal nie, is in ’n nuwe grootskaalse wetenskaplike ondersoek bevind.

Dit is eerder ’n mengsel van genetika en die omgewing wat bepaal of ’n mens seksuele maats van dieselfde geslag verkies.

Reuters berig in die navorsing is die DNS en seksuele ervaring van byna ’n halfmiljoen mense ontleed. Daar is duisende genetiese variante gevind wat met ’n homoseksuele oriëntasie verbind word, waarvan die meeste ’n baie klein invloed het.

Vyf van die genetiese merkers het ’n “beduidende” verband met ’n homoseksuele oriëntasie, maar selfs dit is nie voldoende om ’n persoon se seksuele voorkeure te kan voorspel nie, sê die navorsers.

“Ons het die hele menslike genoom nagegaan en ’n handvol – vyf om presies te wees – merkers gevind wat duidelik verbind word met homoseksuele voorkeur,” sê Andrea Ganna, ’n bioloog by die Instituut vir Molekulêre Medisyne in Finland, een van die leiers van die navorsing.

Hy sê die invloed hiervan is egter “aansienlik minder as 1%” van die variansie in gevalle waar mense hulself as homoseksueel beskryf.

Dit beteken volgens die navorsers dat niegenetiese faktore – soos die omgewing, hoe ’n mens grootword en persoonlikheid – ’n baie meer beduidende invloed op iemand se seksuele voorkeure het, net soos met ander persoonlikheids-, gedrags- en ander fisieke menslike kenmerke.

Die navorsing – die grootste wat nog oor seksuele oriëntasie onderneem is – het die data van meer as 470 000 mense ontleed, berig Reuters. Dit sluit in DNS-monsters en leefstyl-inligting wat beskikbaar gestel is aan die UK Biobank en 23andMeInc, ’n Amerikaanse maatskappy wat genetika toets.

Op die vraag waarom hulle dié navorsing gedoen het, het die navorsers aan joernaliste gesê omdat vorige navorsing hieroor te klein was om tot robuuste gevolgtrekkings te kon kom. Die jongste navorsing oor die onderwerp is sowat 100 keer groter as enige vorige navorsing.

Die uitslag is Donderdag in die vaktydskrif Science gepubliseer. Daarin sê die navorsers hulle het geen duidelike patrone in genetiese variante gevind wat betekenisvol kan voorspel wat iemand se seksuele oriëntasie is nie.

Kampvegters vir seksuele regte het die navorsing verwelkom. Hulle sê dit bied nog meer bewyse “dat om gay of lesbies te wees, ’n natuurlike deel van die lewe is”.

“Die nuwe navorsing bevestig ook dat daar geen onweerlegbare mate is waarop genetika of huislike omstandighede ’n invloed het op hoe ’n gay of lesbiese persoon optree nie,” sê Zeke Stokes van die Amerikaanse LGBTQ-regtegroep Glaad.

Kyk ook:

1 thought on “Navorsing wys ‘geen enkele gay-geen’”

  1. Genesis 1:27

    God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en Vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en Vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit…”

    Genesis 2:24

    Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

    Dit is vir my, Christen man, in die heedendaagse, nogsteeds ’n eenvoudige opdrag/resep om te verstaan en geseënd te lewe tot eer van my Skepper.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui