’n Suid-Afrikaanse blik op Israel en Palestina: ’n Pleidooi vir geregtigheid

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

’n Suid-Afrikaanse blik op Israel en Palestina: ’n Pleidooi vir geregtigheid  – Kerkbode

21 Junie 2023

As lidmate van die NG Kerk weet ons dat om apartheid of staatsgeweld teologies te sanksioneer ons aandadig maak aan onreg, skryf Marthie Momberg oor die stryd tussen Israel en Palestina ná twee onlangse besluite deur afgevaardigdes van die Wes-Kaapse Sinode.

Wat doen ’n mens wanneer jou huis, besittings, plase, dorpe, stede, waterbronne, banke en ander infrastruktuur vernietig of oorgeneem word deur buitelanders? Toe Rusland in 2022 Oekraïne binnegeval het, het die wêreld met afgryse gereageer en dadelik hulp aangebied. Dit is nie wat gebeur het in 1947-1948 toe Israel 78% van Palestina afgeneem het nie. Ook nie in die byna agt dekades daarna toe Israel nog meer grond onteien of beset het nie. Figuur 1 bied ’n oorsig hiervan:

Figuur 1: Palestina se grondverlies sedert 1947

Bron: Marthie Momberg, 21 VOICES from Israel and South Africa: Why the Palestinian struggle matters (Naledi, 2023), p 18.

Sommige Joodse immigrante uit Europa wou vreedsaam inskakel en Hannah Arendt, Martin Buber en Albert Einstein het byvoorbeeld hierdie benadering ondersteun. Ander wou die hele Palestina oorneem. Teen die tyd dat 78% van Palestina op 14 Mei 1948 eensydig verklaar is as Israel, was 531 Palestynse dorpe en alle vernaamste stedelike gebiede vernietig, 85% van die Palestyne in vandag se Israel was vlugtelinge, en duisende ander was ontwortel of het gesterf. In The ethnic cleansing of Palestine beskryf Joodse historikus Ilan Pappe hoe elf mans onder leiding van David Ben-Gurion vanuit die Rooi Huis, Tel Aviv, op 10 Maart 1948 aan ondergrondse Sionistiese bewegings (die Hagana-, Irgun- en Stern-groepe) opdrag gegee het om die laaste fases van Plan D te implementeer: Palestyne moes sistematies en gewelddadig verjaag word.

Onvoorwaardelike lojaliteit?

Dit is moeilik om te verstaan dat dit gebeur het in ’n tyd toe internasionale verslaggewers en waarnemers teenwoordig moes wees om nog ’n misdaad teen die mensdom (soos etniese suiwering in internasionale reg beskryf word) te keer. Dit was kort na die beëindiging van die verskriklike Holocaust, en dieselfde jaar waarin die Verenigde Nasies die Universele Verklaring van Menseregte uitgereik het wat alle mense se siviele, sosio-politieke, ekonomiese en kulturele regte beskerm. Tog was die wêreld stil. Die Palestyne het ’n verskriklike prys betaal vir Europese skuldgevoelens oor anti-Semitisme. Wat dit vererger, is dat dié gebeure steeds verswyg of ontken word deur regerings, media en Christene. Hierdie onreg verdiep die skade, en het teologiese implikasies.

Christene is grootliks onbewus van die bestaan van Palestynse Christene. Hoe kan die idee dat dit God se wil is dat hulle onderdruk word, sin maak? Miljoene gelowiges – dikwels met goeie bedoelings – glo dat Israel onvoorwaardelike lojaliteit verdien. Talle reken dat plekke soos die Ou Stad in Jerusalem en Betlehem deel is van Israel. Ook ek het voorheen gemeen dat Israel alles doen om vrede te bewerkstellig en dat Palestyne grootliks verantwoordelik is vir die aggressie. Terme soos ‘Israeliete’ en ‘Israeli’s’ was vir my sinoniem en ek het nie onderskei tussen die Bybelse volk Israel en die moderne staat nie. Ek het nie besef dat historiese analises wys dat Jode die landstreek vir die kortste tydperk van alle groepe beheer het nie. Ek was mislei deur Sionistiese propaganda. Van Israel se voortgesette menseregteskendings sedert 1948 het ek niks geweet nie, ook nie dat al hoe meer Jode gekant is nie teen Sionisme – ’n imperiale, politieke ideologie met die doel om Palestina te verander in ’n Joodse staat.

Om teen Sionisme te wees, is nie ’n vorm van anti-Semitisme nie. Voor God is alle mense gelyk en anti-Semitisme moet beslis beveg word. Net so moet Sionisme beveg word want dit bevorder diskriminasie teen Palestyne bloot omdat hulle nie Jode is nie.

Wes-Kaapse sinode neem besluit tydens 2023-sitting 

Israel se verhouding met die Palestyne is nie ’n konflik tussen gelykes nie. Dit is sistemiese staatsgeweld. Wette en regulasies reduseer alle Palestyne – in Israel én in die besette Palestynse gebied (Gaza-strook, Wesoewer, Oos-Jerusalem) – as tweedeklas burgers sonder volle siviele regte, en vlugtelinge mag nie terugkeer nie. Navorsers en menseregte-organisasies soos Amnestie Internasionaal, Human Rights Watch en B’Tselem (’n Israeliese organisasie) beskryf Israel se vergrype as apartheid soos gedefinieer in internasionale reg. Dit moet dus nie met Suid-Afrika vergelyk word nie. Internasionale howe verstaan ‘rassisme’ nie net in terme van velkleur nie, maar as die stigmatisering van kulturele, nasionale, etniese of geloofsgroepe met die doel om te diskrimineer.

As lidmate van die NG Kerk weet ons dat om apartheid of staatsgeweld teologies te sanksioneer ons aandadig maak aan onreg. Christus se boodskap van inklusiewe menswaardigheid maak dit onmoontlik om God én die onderdrukking van die Palestyne te dien. So ’n teologie plaas die kredietwaardigheid van die evangelie op die spel. In 2017 het die Algemene Vergadering van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) in Aksie 55 besluit die integriteit van ons geloof en praksis is op die spel as die Bybel gebruik word om die onderdrukking van die Palestyne te regverdig. Dié besluit moedig kerke onder meer aan tot studie en teologiese besinning. Daarom het die WGGK drie omvattende handleidings, Focus Palestine I, II & III, ontwikkel. Dit is gratis beskikbaar by New resource focuses on Palestine | (wcrc.ch).

Teen hierdie agtergrond vra die Wes-Kaapse Sinode in Besluit 22 (geneem by vanjaar se sinodesitting op Goudini) die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake om te besin oor die teologiese regverdiging van Sionisme, om voorstelle te maak aan die Algemene Sinode en gespreksmateriaal aan gemeentes te bied. In Besluit 35 voeg die Sinode haar stem by “die ekumeniese beweging om enige vorm van diskriminasie en uitdrukkings van apartheid, profeties teen te staan en in liefde teen te werk.”

Ons keuse is nie vir of teen groepe nie, maar vir of teen geregtigheid, waarheid en gelykheid.


  • Dr Momberg het in 2011 namens die Wêreldraad van Kerke (WRK) menseregte-oortredinge in Israel en Palestina gemoniteer. Sy is ’n navorser by Universiteit Stellenbosch en Nelson Mandela Universiteit. Benewens talle artikels en hoofstukke in akademiese publikasies verduidelik sy die mites van Sionisme aan die hand van onderhoude in 21 VOICES from Israel and South Africa: Why the Palestinian struggle matters (Naledi, 2023).

Kommentaar

Daniel Louw

Vir ‘n weerlegging van hierdie artikel kyk:

Did Israel Steal Palestinian Land? (26 Okt 2023)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui