Martie Retief-Meiring: Genadedood: Is daar ’n reg en ’n verkeerd?

*******

Martie Retief-Meiring: Genadedood: Is daar ’n reg en ’n verkeerd? | Netwerk24

Martie Retief-Meiring

13 Oktober 2022

Sean Davison, neurowetenskap-professor, is ’n lenige, op die oog af sagsinnige man. Kollegas beskryf hom as ’n man van staal.

Hy is in Suid-Afrika van moord aangekla ná sy bystand wat tot die dood van (minstens) drie mense gelei het. Al drie het om sy bemiddeling gesmeek.

In Nieu-Seeland is hy in 2010 ook van moord aangekla nadat hy aan sy bejaarde, lydende moeder bystand met haar dood verleen het.

Was dit genade of was dit moord waarvoor Davison in Suid-Afrika aangekla is?

Die kwessie haak vas. Deur ’n pleitooreenkoms is Davison drie jaar huisarres opgelê vir die bystandsdood/moord op die drie mans. Sou hy weer dié bystand verleen het indien daar ’n kans was dat hy die doodstraf sou kon kry?

Ná hy sy huisarres uitgedien het, het Davison The Price of Mercy – A Fight for the Right to Die with Dignity gepubliseer. Die boek ontsenu én is teer en wys hoekom Davison onwrikbaar is in sy oortuiging.

Die man wat met sy hond in die berge stap om te dink, moes ná sy arrestasie in ’n benoude, helderverligte polisiesel worstel oor die ontstellende oproepe na sy vrou en drie kinders wat in Australië bly.

Wyle aartsbiskop Desmond Tutu het Davison destyds bygestaan, want Tutu was deeglik bewus van die uitgerekte sterfbed van Nelson Mandela. Hy het daarom in 2011 aangebied om voorspraak vir Davison te doen toe sy saak in Nieu-Seeland gehoor is.

Die debat oor bystandsdood of genadedood duur al dekades, ook hier in Suid-Afrika.

Davison het genade as sy hoofmotief beskryf vir die kere wat hy hulpelose mense wat om die dood gepleit het, gehelp het om te sterf. (As wetenskaplike het hy die polisie ook gehelp met forensiese ondersoeke.)

Dekades al word die kwessie van “genade” ’n sukkelwoord wanneer ongeneeslike siekte of verlamming van die liggaamsfunksies bespreek word.

Is dit werklik genade om iemand te laat ly? Is dit werklik lewe as ’n lewe deur masjiene aan die lewe gehou word? Is dit genade om daardie mens uit ’n amper lewelose toestand te help?

Die onderwerp spook, want daar is regsaspekte ter sake, etiek en dan die ménslike aspekte: vrees en lyding.

Dit lyk of die saak wel uiteindelik in die howe besleg gaan word. In 2021 het Dieter Harck, ’n motorneuronsiekte-lyer, die hof genader om uitsluitsel hieroor te gee. Die saak gaan nie gou besleg word nie, want dit gaan waarskynlik uiteindelik in die konstitusionele hof beland.

Maar terwyl die saak sloer, neem die vraag na bystandsdood of genadedood nie af nie.

Mense wat belangstel in die onderwerp, kan Vrydagaand ’n gesprek daaroor, oor die boeg van Davison se boek, by die Woordfees bywoon. Ek gesels by die geleentheid, wat om 18:15 in die Hofmeyrsaal gehou word, met Harck, die filosoof Willem Landman en die teoloog Chris Jones.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui