Kruisverhoor: ‘Menslike magsgebruik lei nie tot koninkryk’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Kruisverhoor: ‘Menslike magsgebruik lei nie tot koninkryk’ | Rapport

Hanlie Retief

Rapport, 2 Julie 2023

Jy kan jouself nie NG Kerk noem as jy nie NG Kerk doen nie, sê ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderator van die algemene sinode.

Is die bewerings dat jy ’n omstrede stelling teenoor ’n ateïste-vereniging gemaak het waar?

[Kommentaar: Volgens Francois Deyzel het Nelis gesê: “My aim is to dismantle the solid church”.]

Ek het ’n paar jaar gelede met die Darwinism Society in Somerset-Wes gepraat. Ek glo ons moet getuienis oor ons geloof oral lewer. Ek het al meermale met groepe gepraat wat geloof in God bevraagteken of teenstaan.

Wat hét jy gesê?

Ek het my gesprek met die vereniging begin deur die sosiale teorieë van prof. Francis Fukuyama (Stanford-Universiteit) en die Poolse sosioloog/filosoof, Zygmunt Bauman te bespreek. Laasgenoemde munt die term “liquid modernity” – dat die samelewing vloeibaar geword het omdat dit struktuur verloor het weens individualisme. Albei waarsku teen nuwe vorme van fundamentalisme. Ek het uitgewys dat die vereniging se denke ’n voorbeeld is van ’n nuwe soort fundamentalisme. As ons wil reformeer, moet ons verder terugdink as die huidige kerk. Die slagspreuk van die sestiende-eeuse Hervorming was “terug na die bronne”. Ons het soms idees oor die kerk wat nie geskoei is hierop, die apostels en die tradisie van die vroeë kerk nie. Die fokus van die kerk se boodskap moet die koninkryk van God wees. Dit stel in óns tyd bepaalde uitdagings aan kerke wat steeds met mag werk. Die koninkryk kom nie deur menslike magsmisbruik nie.

Hoekom word dit nou weer opgerakel?

Daar was twee lidmate van die Strand-gemeente, vurige teenstanders van die NG Kerk se posisie oor gay mense. Hulle versprei ’n foutiewe weergawe van my toespraak. Dis óf kwaadwillig, óf hulle het nie verstaan wat ek gesê het nie.

Tafelberg se dominee, dr. Chris Saayman, sê jy is seker in jou skik, jy kon die NG Kerk laat skeur, want ander gemeentes gaan ook nou loop.

Ek werk nog altyd oneindig hard om die eenheid van die kerk uit te bou.

Saayman-hulle sê jy as moderator het nie genoeg na hulle uitgereik nie.

Daar is ’n ellelange lys van pogings om die leraar en die gemeente aan te hoor en te akkommodeer. Kairos-verteenwoordigers was ook deel van ’n gesprek oor die leraar se besware. Die kerkraad en leraar het ’n skriftelike uitnodiging van die Moderatuur van die Sinode tot ’n gesprek van die hand gewys.

Hoeveel lidmate het die Tafelberg-gemeente?

106 belydende lidmate volgens die kerkraad, maar ’n groot getal van hulle stem nie met die leraar of die kerkraad se afskeidingsplan saam nie. Hulle het met versetstappe begin.

Dis die eerste keer dat ’n gemeente hom heeltemal los maak van die NG Kerk, maar steeds deel bly. Hoe werk dit?

In terme van ons kerkorde is dit nie vir ’n gemeente moontlik om haarself so, met behoud van die naam van die NG Kerk, af te skei nie. Die naam behoort aan die kerkverband en is gereserveer vir gemeentes wat binne die verband funksioneer.

Die sentrale werkgroep van die Kairos Netwerk en die sinodale diensgroep van die Koinonia-sinode skaar hulle by die Tafelberg-gemeente en sê julle moet wakker word uit jul doodslaap.

[Kommentaar: Kyk Kairos en Koinonia ‘het begrip’ vir besluit van Tafelberg NG kerk.]

Die mense van Kairos moet van die kerkordelike weë gebruik maak en die mense wat hulle verdink van leerdwalinge aankla. Hulle maak egter van retoriek gebruik en ’n openbare vertekening van die kerk, sy opleiding en sy leierskap. Dit is baie hartseer.

Kommentaar

Aantyging van beide kante word heen en weer geslinger:

Nelis hou vol daarmee dat hy kwansuis homself nog altyd beywer het vir eenheid en baie hartseer is dat daar gemeentes is wat die verband wil verlaat. Hy bluf as hy dit sê. Hy weet baie goed dat daar nie eenheid moontlik is in die huidige situasie nie.

Chris Saayman (en Kairos Netwerk) beskuldig Nelis en die top struktuur dat hulle versoeke op dowe ore val. Die vraag is: wat is daar om oor te praat? Wat wil behoudendes bereik met enige verdere gesprekke? Watter realistiese versoeke kan help om behoudendes binne die NGK gelukkig te hou?

Veronderstel die situasie was omgekeerd: Veronderstel die behoudendes was in beheer van die NGK en liberales het met die versoeke gekom waarmee KN nou kom, hoe sou behoudendes daarop gereageer het? Ek wil waag om te sê dat hulle presies dieselfde sou reageer as die huidige NGK leierskap: hulle sou die liberales na die bestaande kerkordelike weë verwys het.

Daar is regtig net een opsie oor: die paaie moet so pynloos as moontlik skei. ‘n Mens hoop dat Tafelberg die voorbeeld gestel het ek dat ander behoudende gemeentes sal volg.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui