Korrespondensie met dr Ben du Toit

Die volgende is ’n eposgesprek tussen Wynand Louw en Ben du Toit en is gekopieer van Korrespondensie met Dr. Ben du Toit. Dit het in Oktober 2011 plaasgevind, kort nadat die NG Kerk ruimte gemaak het vir mense wat nie aan die duiwel wil glo nie.

***********

Dr du Toit is in BEELD aangehaal dat hy glo dat die duiwel nie as persoonlike wese bestaan nie. Nadat ek (Wynand Louw) hom by sy ring aangekla het van dwaling, het hy my per epos gekontak en die volgende gesprek is gevoer.

Ek wil graag die volgende opmerkings oor die korrespondensie maak.

1) Ek besef dit was waarskynlik ‘n fout dat ek nie eers met Dr. du Toit gepraat het voor ek hom aangekla het nie. Ek erken dit en bely dit. Uit die korrespondensie is dit egter duidelik dat hy hom nie distansieer van die aanhaling in BEELD nie – ek het hom direk gevra of hy bereid is om dit te doen. Dit sou dus geen verskil gemaak het aan die uitkoms nie.

2) Ek kan geen sin sien in ‘n persoonlike ontmoeting met iemand wat nie bereid is om op skrif te stel wat hy glo nie. Die voordeel van skriftelike korrespondensie is afstand – en dus die geleentheid om verby emosionele reaksies te kyk en die argument ter tafel rustig en onemosioneel te beredeneer.

3) Dit is jammer dat Dr du Toit nie bereid is om my vrae skriftelik te antwoord nie. Ek het hom spesifiek gevra om my vrae bondig te beantwoord, maar dat hy welkom is om vakkundige verklarings as addenda saam te stuur. Ek is bereid om enige vakkundige verklaring vir sy geloof te lees.

Ek kan maar net spekuleer waarom hy nie bereid is om my vrae te antwoord en te sê wat hy glo nie.

4) My interpretasie van sy verklaring aan Volksblad is myne, en is subjektief. Ek sou graag van hom ‘n antwoord op en moontlik regstelling van my interpretasie wou ontvang. Hy was duidelik nie bereid om daarop kommentaar te lewer nie. Ek kan dit dus maar net aan die leser se oordeel oorlaat.


On 2011/10/19 06:58 AM, bendutoit wrote:

Ai, Wynand, op ‘n manier is ek baie jammer vir jou. Regtig.

En vir die Christelike geloofsgemeenskap hieroor.

Ek ken jou nie. Weet niks van jou af nie. Weet nie waar jy woon of waar jy kerklik betrokke is nie.

Maar, dalk sal dit ‘n goeie ding wees as ons op ‘n keer (soos dit Christene betaam) ‘n slag gaan koffie drink en ek vir jou verduidelik hoekom dit vir my en vir talle ander predikante GEEN probleem is om die legitimasie-eed se ondertekening gestand te doen nie.

Net eenvoudige logika moet vir jou sê dat jy iewers dalk ook ruimte behoort te maak daarvoor dat jy verkeerd kan wees.

En, intussen, het jy ‘n klomp vere van persoonlike inkriminasie in die lug gestrooi wat die wêreld in waai…

Ek is oortuig daarvan dat die Here dit uitermate hartseer vind van Sy kinders.

Terwyl jy dalk opreg meen dat jy die Here hierin gehoorsaam is, stel jy daarmee die integriteit van Christelike geloof op die spel.

Dis hartseer.

Vriendelike groete

Dr Ben du Toit
Direkteur Kommunikasie: NG Kerk Sinode van Wes-en-Suid-Kaap
Redakteur Elektroniese Kommunikasie Algemene Sinode NG Kerk
Parlementêre Lessenaar Algemene Sinode NG Kerk
Privaatsak X8, Bellville, 7535
Tel: 021 957 7196; Faks: 021 957 7197
Sel: 0823 328 700
bendutoit@kaapkerk.co.za

* There is no limit to what you can achieve, if you don’t mind who gets the credit for it
* Men are only as great as they are kind!


Hallo Ben

Ek is Wynand Louw, ‘n oor neus en keel chirurg in Kaapstad. Ek is ‘n gewone NG lidmaat.

Ek waardeer jou nota, en glo my, ek het lank en hard gebid voor ek jou naam in die epos gesit het. Ek hoop jy sal aanvaar dat ek dit doen uit die oortuiging van Chrsitus se liefde, en dat ek graag Sy genade en vergiffenis aan jou wil verkondig.

Ek sal graag die volgende aan jou wil vra:
1) Glo jy dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is? Is dit mense se woorde oor God?
2) Glo jy dat Jesus uniek is in die feit dat Hy alleen uit God gegaan en van God gekom het, soos hy duidelik beweer in Johannes 6:46 en 8:42, of glo jy dat die hele skepping uit God gegaan en van God gekom het?
3) Glo jy dat die hele skepping, (soos die mens Jesus) God se liggaam is, en dat jy dus self die potensiaal het om Christus te word (Homo Christos)?

Ben, dit ontstel my dat jy aan die BEELD sê jy glo nie dat die duiwel bestaan nie – en dus by implikasie beweer dat Jesus of mal was of gelieg het.

Hoe kan ek glo dat ‘n mal leuenaar vir my sondes aan die kruis kon sterf? Hoe tas dit die integriteit van die Chrsitelike geloof aan?

Ek weet dat ek moontlik verkeerd kan wees, maar ek weet ook dat Jesus beslis nie verkeerd kan wees nie. Dit is nie ek wat beweer dat die duiwel bestaan nie, Ben. Dit is Jesus in die Bybel.

Ek wil hê jy moet weet dat ek ernstig is met die tugaansoek, en sal dit enduit voer. Ek bid dat sal bydra dat jy tot inkeer sal kom. God se genade is groot!

Groete

Wynand


Dankie vir jou vinnige reaksie Wynand.

Ek dink meer as voorheen dat jy dit aan my en die kerk van die Here (en al die leraars wat die Algemene Sinode bygewoon het) verskuldig is om EERS met my in gesprek (nie e-pos met allerlei vrae nie) te tree alvorens jy hierdie inkriminasie voortsit.

Jou opmerking: “ek het lank en hard gebid voor ek jou naam in die epos gesit het. Ek hoop jy sal aanvaar dat ek dit doen uit die oortuiging van Chrsitus se liefde, en dat ek graag Sy genade en vergiffenis aan jou wil verkondig” is verstommend aanmatigend. Ek beleef NIKS van Christus se liefde in hierdie wyse van hantering deur jou nie en ek ontvang die vergiffenis van Christus uit louter genade deur Homself aan my gegee deur Sy soenverdienste aan die kruis. Ek hoef dit nie van jou te ontvang nie.

Jy het my besonderhede hieronder om met my ‘n afspraak te maak.

Groete

Ben


Hallo Ben

Ek is jammer dat jy my optrede as liefdeloos ervaar. Dit is nie so bedoel nie.

1) Soos ek in my epos verduidelik het: Jy het Jesus in die openbaar gelaster deur by implakasie vir die BEELD te sê dat Jesus mal was of gelieg het toe hy van die duiwel gepraat het. Ek verstaan dat Jesus gesê het dat mens eers in privaat na ‘n persoon toe moet gaan. Jy is egter ‘n opgeleide teoloog en besef baie deeglik wat die implikasies van jou onderhoud met die BEELD is. Ek dink nie dat ‘n persoonlike gesprek met jou die uitkoms sou verander nie. As ek verkeerd is, en jy is bereid om jou siening omtrent die duiwel te verander, vra ek jou om verskoning.

Jesus het die Fariseers wat in die openbaar vals leringe versprei het in die openbaar aangevat. (“Addergeslag!”) Dink jy Jesus het die Fariseers nie lief gehad nie? Dink jy hy het nie die geldskieters wie se tafels hy omgeskop het lief gehad nie? Hy het die Fariseers en geldskieters so lief gehad dat hy homself vir hulle laat doodmartel het.

2) Soos ek ook in my epos verduidelik het: Dit gaan hier oor die hart en siel van die NG Kerk. Daar is meer as een miljoen lidmate in ons kerk wat geregtig is om die ware evangelie te hoor. Wat moet hulle glo as hulle leiers by implikasie beweer Jesus was mal of ‘n leuenaar?

Ek hoor jou getuienis oor Sy genade en soenverdienste aan die kruis, Ben, maar jy verwar my. As jy nie kan glo wat Jesus sê omtrent die duiwel nie, hoe kan sy sterwe aan die kruis dan enigsins vir jou iets beteken? Hoe kan jy dan glo “Dit is my bloed – Dit is my liggaam”? Het jy hom nie dan reeds as leuenaar of skisofreen gediagnoseer nie?

Ek betwyfel nie jou getuienis nie. Dit maak net eenvoudig nie vir my sin nie.

Waarom verwerp jy die idee dat die duiwel bestaan? Is jy ‘n panenteïs?

Aanvaar jy die Bybel as die onfeilbare woord van God?

Groete

Wynand


Halllo Ben

Daar was verskeie versoeke dat ek jou versoek om ‘n repliekverklaring te
maak. Ek sal dit op my blog publiseer, indien jy daarvoor te vinde is.

Ek moet net weer beklemtoon dat ek die saak in die openbaar gemaak het
omdat jy dit in die openbaar gemaak het. Dit was werklik die enigste opsie.

Groete

Wynand


Hallo Wynand,

Ek het aan jou ‘n aanbod gemaak. Kom ons gaan drink koffie iewers waar ons
rustig oor alles kan gesels – of ten minste dan, ‘n inleiding kan ervaar tot
‘n langer gesprek. Hierdie is nie ‘n saak wat mens sommer net so in ‘n paar
sinne en vrae en antwoorde kan afhandel nie. Dit gaan oor baie groter dinge
as die siening van die bose. Dit het te doen met die siening en hantering
van die Bybel. Dit het te doen met die ontwikkelinge binne die psigiatrie en
mediese wetenskap. Dit het te doen met die verrekening van kontekste. Dit
het te doen met die baie ingewikkelde (maar ook opwindende)
vertolkings-wetenskappe (hermeneutiek) waarin die literêre sub-dissiplines,
asook die argeologie en historiografie ook ‘n belangrike rol speel. God is
die Skepper-God van die heelal, van die natuur en die natuurwette – van alle
dinge. Dit vra ‘n geïntegreerde verstaan van ons Christelike belydenis van
God as Vader, Seun en Heilige Gees.

Die manier waarop jy in jou aanklag en in jou verdere korrespondensie met
hierdie komplekse sake omgaan, is om die minste te sê ‘n openbaring daarvan
dat jy nie hiermee rekening hou nie – of dalk nie daarvan bewus is nie – net
soos wat ek nie bewus sal wees van die kompleksiteit van al die sisteme wat
tot die verlies van gehoor aanleiding gee, of die behandeling van sinusitis
en allergieë nie. Vir my om vir jou one-liner vrae te vra oor “hoekom kan ek
nie hoor nie” of “gee nou vir my eenmaal die regte anti-biotika dat my
kroniese nasale drip vir altyd kan ophou” sal totaal en al voorbarig en
arrogant wees. Dit lê doodeenvoudig net my onkunde oor die saak bloot.

Ek sal graag aan jou goeie en konstruktiewe (en ek meen, toeganklike)
leesstof beskikbaar wil stel om die hele saak van die verstaan en
verdiskontering van die bose in terme van ons realiteite vandag as Christene
in te lei. Maar, gegewe jou hantering van die saak tot dusver, het ek groot
huiwering daarmee. Daarom my voorstel dat ons mekaar ontmoet en verkennende
gesprekke daaroor hou.

Ek is glad nie bang of huiwerig oor my standpunt oor enige aspek van die
Christelike geloof nie. Selfs net die feit dat ek die werk doen wat ek doen
(en James Kirkpatrick voorsitter van ATLAS en Kobus Gerber die Algemene
Sekretaris is en Piet Naude gerespekteerde teoloog is, ens ens) moet dalk
net logieserwys jou by ‘n punt te bring waar jy meer huiwerig sal wees om
jou smeerveldtogte teen ons in die openbaar voort te sit. Wat ‘n
on-Christelike aksie is dit net nie!

Ten slotte, terloops, ek het geen verklaring oor my geloof in die bose aan
enige koerant gemaak nie. Jy reageer op koerantberigte, geskryf deur ‘n
joernalis. Dis nogal gevaarlik om daarvan sulke finale en voldonge
gevolgtrekkings te maak dat jy honderde predikante sondermeer inkrimineer
deur jou optrede. Ek weet nie hoekom ek nog met jou probeer praat nie. Dalk
is dit die ewige, gelowige optimis in my wat bly glo dat die waarheid ‘n
mens kan vrymaak.

My aanbod van ‘n persoonlike gesprek staan. Hiermee sluit ek my
e-korrespondensie met jou af.

Vriendelike groete

Dr Ben du Toit


Hallo Ben

Ek waardeer die feit dat jy met my in gesprek gaan.

1) Ek besef dat BEELD se aanhaling hoorsê is. Jy kan onmiddelik die saak regstel deur in die openbaar te verklaar dat jy wel glo in die duiwel as ‘n ware, morele maar bose persoon, en nie net ‘n mite of metafoor nie.

2) Baie woorde verdoesel dikwels eenvoudige waarhede en dra dikwels komplekse leuens. Ek verstaan die filosofiese en teologiese aspekte waarna jy in jou epos verwys.

3) Ek sal dit geweldig waardeer as jy die volgende eerlik kan antwoord, want ek glo nie dit sal baat dat ons speletjies met mekaar speel nie. Sny direk na die been, asseblief!
— Aanvaar jy ‘n wereldbeeld wat breedweg as “panenteisme” beskryf kan word? Met ander woorde, glo jy dat die hele skepping analoog is aan die geskape menslike natuur en liggaam van Christus? Glo jy dus een van die volgende: dat god die “siel” of “mind” van die skepping is, dat die skepping “deel van god” is of dat die skepping “uit god gespruit het?’ (“emanated from god?”)
–Glo jy dat Jesus uniek is in die feit dat Hy alleen uit God gegaan en van God gekom het soos hy beweer in Johannes 6:46?
–Glo jy dat die duiwel ‘n persoon en morele wese is soos Jesus beweer in Johannes 8:44?
–Glo jy Jesus is uit ‘n maagd gebore?
–Glo jy Jesus het Lasarus uit die dood opgewek?
–Glo jy Jesus het met ‘n ware, tasbare liggaam uit die dood opgestaan en dat die wat gered word ook eendag sulke tasbare liggame sal hê?
–Glo jy dat die bewuste, ewige verdoemenis in die hel bestaan?
–Glo jy dat slegs die mense wat Jesus aanneem as Verlosser gered sal word?
–Wanneer het jy Christus as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker aangeneem?

4) Ben, met alle eerbied en respek gesê, ek vind jou verklaring aan die verslaggewer van die Volksblad oneerlik om die volgende redes:

–Die BEELD het jou as volg aangehaal: “Daarteenoor het dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid-Kaapse sinode gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie.”
Die implikasie hiervan is eerstens dat Jesus mal was of gelieg het toe hy gesê het die duiwel is ‘n morele persoon. Die tweede implikasie is dat jy die belydenisskrifte van die NGK verwerp.

–Volksblad haal jou vanoggend as volg aan: “Du Toit sê hy glo nie aan ’n fisieke duiwel soos die mannetjie wat op ’n mens se skouer sit nie.”
Die implikasie hiervan is dat jy maar net ‘n ortodokse Christen is soos enige ander ortodokse Christen die afgelope 2000 jaar. Geen ortodokse Christen nog ooit die duiwel as die “imp” wat jy beskryf gesien nie. Daar hoef ook nie spesifiek vir so ‘n siening in die NGK “ruimte gemaak” te word soos jy volgens die BEELD berig bepleit nie, omdat alle Christene met jou sou saamstem.

Jou verklaring aan Volksblad is dus duidelik ontwerp om die angel uit jou verklaring aan BEELD te haal, sonder dat jy hoef terug te gaan op jou woord. Enige Bybelgetroue tugkomitee sou jou onder tug plaas vir jou verklaring aan BEELD. Geen tugkomitee sou jou onder tug kon plaas vir jou verklaring aan Volksblad nie. Inteendeel.

Dit is dus duidelik dat jy onder morele verpligting is om duidelik en ondubbelsinnig te verklaar wat jy glo! Antwoord asseblief my vrae. Jy kan al die verduidelikings met verwysings na al die dissplines wat jy in jou brief noem as addendum stuur, as jy wil.

Ek is regtig spyt dat dit nodig is om jou hierdie vrae te vra, ek weet dit klink soos die inkwisisie. Meeste mense sou dit egter as ‘n wonderlike getuienis geleentheid beskou.

En ek wil graag beklemtoon dat jy heeltemal geregtig is om te glo wat jy wil, om te verkondig wat jy wil en om te aanbid wie jy wil.

Maar INDIEN dit wat jy glo nie ooreenstem met die belydenisskrifte van die NG Kerk nie KAN jy nie langer in die NG Kerk aanbly nie. Ek glo Abel Pienaar sal jou graag legitimeer as guru in sy gnosties – buddhistiese kerk. Jy sal daar ook baie gelukkiger wees.

Groete

Wynand


Hallo Wynand,

Ek verwys jou weer na my laaste antwoord aan jou.

Lees dit weer rustig deur.

Vriendelike groete

Ben

Kommentare

Ds. Gideon Aggenbag

30/10/2011 at 10:16 pm

Dit is baie duidelik dat dr. Ben du Toit nie sy weg oop sien om wat hy werklik glo, openbaar te maak nie. Sy versuim om enige wanvoorstelling van die Beeld-berig reg te stel, bevestig dat Beeld hom korrek aangehaal het. Ek self sou die vrae hierbo verwelkom het en dit gretig lik geantwoord het – spesiaal in ‘n media waar openbare kennis geneem kan word.

hierstaanek

31/10/2011 at 6:41 am

Gideon

Hy het die volgende bely: Hy het vergiffenis van Jesus ontvang deur Sy soendood aan die kruis.

Hy glo dat die duiwel nie bestaan nie maar dat die bose wel bestaan, binne mense.

Ons kan verder net spekuleer oor wat Dr. du Toit glo.

Somerset (Sommie) Morkel

13/12/2011 at 5:28 pm

Hierdie korrepsondensie met dr Ben du Toit openbaar een ding baie duideik: Die styl waarmee die liberale teoloee hulle standpunte kommunikeer. Hy is aangestel in 3 sinodale poste waarvan al drie as kern die doel van kommunikasie het, maar hy verstaan nie hoe om eenvoudige en duidelike vrae aan hom te beantwoord nie – of hy wil nie, wat ‘n skande is. Sy uitnodiging en sy hamer daarop dat dit sy antwoord is, is swak professionele optrede – te meer nog so omdat dit hier nie gaan oor een of ander staatsdepartement nie, maar oor die koninkryk van die Skepper-Koning en Verlosser. Waarom wil mens nie duidelik wees hieroor nie? Een rede is omdat die pos waarin hy is (en ook dr Kobus Gerber e.a.) meer te doen het met kerk-diplomasie as met kerk-staatmanskap. Hulle kyk hoe die wind waai, en as die wind nie in hulle rigting is nie, le hulle laag. Ek ken dit. Ek was 22 jaar lank by Buitelandse Sake in kommunikasie (inligting) poste (insl. kerkskakeling) in die buiteland. Daarom weet ek wat ‘n man in so ‘n posisie se professionele pilg is wanneer vrae aan hom gestel word – en wat die rol van integriteit daarin speel. Dit is ‘n skande dat Ben du Toit so swak reageer, des te meer omdat hy hom daarop beroep dat hy die Here ken. Sy manier van ‘pussy-footing’ is meer manipulatief as wat dit konstruktief is – tekenend van ‘n man met ‘n swak saak. Met sulke leiers sien ek vir die NGK net donkerte vorentoe..

Theart Korsten

19/09/2012 at 5:36 pm

Aan Wynand, Ds. Aggenbach, en Somerset (Sommie) Morkel –
Ek ag Ds. ben du Toit as een van die mees verligte en welbelese man van God wat ek ooit ontmoet het. Ek stem 100% saam met hom in sy stelling dat die duiwel nie bestaan nie. Die duiwel is net die mens se verskoning om Christus aan te roep en om all verantwoordelikheid van die mens kwade dade weg te wys.
Kyk na Hansie Cronje. “The devil made me do it.” Regtig?
Dan is hy mos nie verantwoordelik vir sy aksies nie. Die duiwel het hom dit maak doen omdat hy swak is. Loutere nonsens.
Het die duiwel ook apartheid aan die kerk mense verkoop as die wil van God, omdat Noag se seun vir hom gelag het, hy weggestuur is, na die suide, (en suid was Afrika as Noag in Palestina was) en dus die dienskneg van die mesndom sou wees? Belaglike kerd dogma as jy my vra.
Dus Ds. Ben se soeke na ‘n nuwe interpretasie in sy boek, “God in ‘n post moderne era.” Dit al gelees?
(Skies vir my aaklige Afrikaans, ek ken die bybel eintlik beter in engels.)
My pa is ‘n predikant en ek het in die kerk grootgeword. Nee, nie die NG Kerk nie, Maar ek dwaal af.
2000 jaar na Christus, en die bybel moet in ‘n nuwe oog bekyk word. Sou ons al vergeet wat Konstantine gedoen het met die bybel to hy Die Heilige Roomse Katolieke Kerk begin het?
Hoe weet ons eers daar is nie groot dele verwring, uitgehaal, bygelas en verduister om sy agenda te pas nie.
Ten minste is Ds. Ben bereid om in gesprek te tree, na sy jare se studie en verwerking van sy siening, wat ek glo beslis nie in een sin uiteengeset kan word nie. Waar se Christus nou weer is die Koningkryk van God? Nie daar en daar en daar nie, maar inne in ons,” Nie in kerkgeboue en die sinnelose egos van mense nie. Ah, Ego, nou daar’s ‘n duiwel van ‘n ding!

hierstaanek

19/09/2012 at 6:56 pm

Hallo Theart

1) Dr Ben du Toit verwerp die God van die Bybel, wat Hom self in Christus aan ons openbaar het.

As ek beweer dat ek IN Jesus glo, is die minimum vereiste dat ek ten minste VIR Jesus moet glo.

Jesus het gesê die duiwel bestaan. Volgens Dr du Toit het bestaan die duiwel nie. Du Toit beweer dus by implikasie Jesus was ‘n liegbek of mal.

Hy verklaar hierdie teenstrydigheid deur te sê wat vir Jesus waar was is nie noodwendig vir ons waar nie – want daar is nie so iets soos absolute waarheid nie. En bowendien, sê Dr du Toit, die wetenskap het bewys dat die duiwel nie bestaan nie. Ons is soveel slimmer as Jesus want ons is wetenskaplik!

Wel, as daar nie absolute waarheid is nie is God ‘n leuenaar, en Jesus ook, want Hy het gesê “Ek is die Weg, die WAARHEID en die Lewe.”

So as Dr du Toit ‘n man van god is soos jy noem, is hy ‘n ander god se man. ‘n Man van God sal nooit God se Seun so belaster as leuenaar of psigoot soos du Toit dit doen nie.

2) Net omdat Hansie gesê het “The devil made me do it” bestaan die duiwel nie? Regtig? Dis nou ‘n intelligente argument. [/sarkasme]

3) Ek het sy boek gelees: Lees my respons hier: https://hierstaanek.files.wordpress.com/2012/02/ben-du-toit-resensie.pdf

Theart, godsdienstige mense is nie noodwendig kinders van God nie. Ben du Toit verwerp Jesus. Hy is dus verlore, volgens alle beskikbare getuienis.

As dit jou ontstel, dis jou reg om ontsteld te wees.

Groete

Wynand

theartk

19/09/2012 at 10:13 pm

Naand Wynand,
Lees weer wat ek gesê het oor Hansie. My punt is, die mens gebruik die duiwel as verskoning, die duiwel is inderdaad die mens se ego. 2000 jaar terug het die mens nie geweet wat ego was nie. Dis die duiwel. Wanneer laas het jy ‘n mens gesien wat die duiwel in hom het soos beskryf in die bybel? Hoe dryf ons hille nou uit? Verdermeer net ‘n vraag: Hoe verduidelik jy dat God, wat ons so lief het, een van sy vervalle engele Lucifer en Lucifer se trawante toellat om skade rig aan sy kinders? Is dit ‘n God wat sy skeppings lief het? Moet asseblief net nie vir my die vrye keuse argument aanhaal nie. So jy sal ‘n dwelmhandelaar by jou kinders loslaat nadat jy vir hulle gesê het hulle moenie dwelms gebruik nie, en as hulle dit doen sal jy hulle straf. Die “DUIWEL” is presies dit. En alles omdat die eerste man en vrou op aarde “gesonig” het, nou is dit ons almaal se lot. Verder meer, net die Jode was die verkornes van God tot 2000 jaar terug. En die res van die mense? Almaal was buite velossing totdat Jesus gekom het 2000 jaar terug. The ” premis” van die bybel is eensydig en absurd. Maar dis my sienning. Finaal wil ek sê, Jesus het ook gesê, “judge not lest ue be judged.” Geen mens op aarde het die reg om ‘n ander te veroordeel nie. Maar ek verstaan dat jy dit wel so sien. As ek omgekrap klink vra ek omversloning. Nie my doel nie. Almaal is geregtig op hulle standpunt, maar ongelukkig vind ek dat as iemand in Christus of die Profeet Muhmmed of in die Joodse God glo, is hulle skielik bekwaam om almal wat nie soos hulle glo nie, of te probeer oorreed of toetenal te verwerp. Nie eers Jesus het dit gedoen nie. Christene het vir duisende jare rasse mense uitgewis in die naam van God en Jesus. Die muslims ook. En so ook die Jode. Alles in die naam an God. Het die duiwel dalk daar ook ‘n hand gehad en dan hoe so? Lekker aand daar. Sterkte! Namaste!

hierstaanek

20/09/2012 at 7:33 am

Hallo Theart

Die doel van hierdie webwerf is nie om godsdienstige debat te voer nie. Uit jou groet “Namaste” kan ek net aanneem dat jy die New Age geloof (Hinduisme / Buddhisme) aanhang. Dit is dan duidelik waarom jy so aanklank vind by Ben du Toit. Soos jy glo hy ook hy is god. (Panenteïsme) So ‘n geloof is verwerplik in die Christelike tradisie en volgens die Bybel.

My probleem met du Toit is nie dat hy anders glo as ek nie. Dit is sy reg. My probleem is dat hy bewustelik die belydenisskrifte van ons kerk verwerp – en tog daarop aandring om lid te bly. Dit is bedrog. Sy bedrog het ‘n vernietigende uitwerking op die kerk omdat hy ‘n amptenaar in ‘n sleutelposisie is. Dit moet end kry. Selfs ‘n Buddhis soos jy behoort te kan insien dat dit wat hy doen onaanvaarbaar is.

Groete

Wynand

Somerset Morkel

19/09/2012 at 10:20 pm

Ek ondersteun Wynand se respons hierbo 100%. Ek het onlangs weer dr Du Toit se boek gelees – by ‘n vriend gelees want ek wil nie geld mors op ‘n heidense en Godonterende dokument nie.. Die man en ek (self ook ‘n liberale teoloog, maar nie van formaat soos Ben nie). Ons het ‘n lang gesprek gehad. Uiteindelik het hy toegegee dat Ben du Toit se boek nie “‘n Bybelse weergawe” is nie. Hyself glo darem die Bybel… en dit het hom daarby gebring om te erken dat die boek nie bybelse waarhede bevat nie en afwyk vd bybelse fundamentele beginsels. Die vraag wat hom finaal geswaai het, was: “Wie gee Ben du Toit die reg om Jesus se woorde in twyfel te trek, homself daarbo te verhef, en wie kies Jy in die proses?” In die lig van ons diskussie oor die goddellikheid van Jesus (wat hy ten volle erken) kon hy nie anders as om tot die konklusie te kom dat Ben du Toit “afwyk van Bybelse beginsels”. My opvolgvraag was: ‘En wat dink JY is die konsekwensies daarvan?” Sy antwoord: “Wel… eh… dwaling”.. Die probleem wat ek het met Ben en sy kollegas in die Alg Sin vd NG Kerk is dat omdat hulle nie in die fundamentele bybelse waarheid vd bestaan van Satan glo nie, en dus die gesag van Jesus self se woorde verwerp (of hulle beterwetig daarbo verhef), hulle weerloos is teen die Satan se slinksheid, en in der waarheid sy medewerkers en stemwerwers word. Hulle is totaal naief oor die okkulte – waar demone aktief werk. Hulle word uitgelag deur die Sataniste – wat baie beter weet wat Satan kan doen. Die ongelooflik-swak argument – en leuen – wat meelopers van Ben uiter, is bv dat ons ouens wat glo die duiwel bestaan soos die Skrif dit formuleer, ‘bang is vir die duiwel en nie in Christus se oorwinning glo nie” (dr Gerhard Bothma van Pietersburg-Bendorpark). Ek noem dit net sodat die swak argument nie weer gebruik word nie. Dit is juis diegene wat NIE glo die duiwel bestaan nie, wat Jesus se oorwinning devalueer en Sy kruisdood en Opstanding minag. Ongelukkig betaal hulle ‘n duur prys daarvoor, want die Skrif waarin hulle nie juis glo nie, is op baie bladsye baie duidelik oor waar hulle heengaan en hoe God oor hulle voel. Dis tragies. Mens wil nie he dat siele moet verlore gaan nie – veral nie mense wat op ‘n tyd in hulle lewe gevoel het hulle is geroepe om die Evangelie van Jesus te verkondig nie. Iewers op die pad het iets verkeerd geloop en het akademies-filosies arrogansie ingekom en veroorsaak dat die gesag vd Skrif vertrap is en hulle nou dwalend (en verlore) in die teologie-woestyn is.

Gideon Aggenbag

19/09/2012 at 10:32 pm

Wynand, dr. du Toit is duidelik nie geneë “om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is” nie (1Pet.3:15). Hy gee geen verklaring waarom hy nie bereid is om te sê wat hy glo en nie glo nie. Hy het oorvloedige geleentheid gehad om, volgens 2Tim.4:2, Skrifwaarhede te erken, te bely en te verkondig – tydig of ontydig – maar hy het nie. Waarom sou enige Christen enige geleentheid laat verbygaan om homself te identifiseer met die blye boodskap? Dit is ook wat my getref het van prof. Niemandt. Dít verstaan ek nie van enigiemand wat bely dat hy Jesus (en Sy boodskap) liefhet nie.

Jy het elkeen van hulle volgens Mat.18 aangepsreek. Iemand in ’n leiersposisie moes onmiddelik sy verantwoordelikheid besef het om ‘n lidmaat te verseker van Skrifwaarhede, dit vir hom te bevestig en selfs te bemoedig om dit te bly glo – selfs al was jy dan ook verkeerd(?) om hulle te vra om jou vrese te besweer. Wat ‘n wonderlike, eerbare reaksie kon dit nie gewees het nie! Daarteenoor het die eie ego blykbaar telkens geseëvier en is die soeker/ twyfelaar ‘n gerusstellende antwoord geweier en beskuldig van verdagmakery en arrogansie.

Geen een van die raksies het die eienskappe of kenmerke van ‘n leiersfiguur vertoon nie. Inteendeel, dr. du Toit se voorbeeld-vrae aan jou as medikus is nie net irrelevant nie, maar impliseer ook dat jy, wat nie die status van “teoloog” bereik het nie, nie in ‘n posisie is om ‘n teoloog hoegenaamd te bevraagteken nie.

Ek meen ook dat jy die uitnodiging tot ‘n koffiedrink-gesprek van die hand gewys het, heeltemal geregverdig is. Nie alleenlik vir die redes wat jy genoem het nie, maar omdat so ‘n gesprek dieselfde neiging mag toon soos dit duidelik geword het uit die berigte in Beeld en Volksblad. Jy sou goedskiks tot leuenaar en “buite konteks” gemaak kon word indien jy agterna sou bekend maak wat in so ‘n gesprek na vore gekom het.

Nee, ek meen ons het nou al oorgenoeg geleentheid gehad om te sien en seker te wees wat geglo word en wat nie geglo word nie.

EJ Hill

06/10/2013 at 9:48 pm

My terugvoer by http://hil001.blogspot.com/2013/10/ben-du-toit.html

hierstaanek

06/10/2013 at 10:34 pm

Dankie!

Net een regstelling: Ek is nie ‘n teoloog nie.

Groetnis

Wynand

Somerset (Sommie) Morkel

07/10/2013 at 6:21 am

Mens wil amper se: Dankie Vader…! Die titel ‘teoloog’ dra nie deesdae meer die konnotasie van suiwerheid nie..

EJ Hill

07/10/2013 at 9:28 am

Miskien sal die die verwysing na ‘teoloog’ opklaar 😉 http://hil001.blogspot.com/2013/01/what-is-theologian.html

Somerset (Sommie) Morkel

07/10/2013 at 9:57 am

Sedert ons die woord ‘teoloog’ in die woordeskat het, het die probleme net toegeneem en die geestelike verwarring daarmee saam…

Somerset (Sommie) Morkel

07/10/2013 at 10:02 am

Met die opkoms vd internet en die toegang tot bronne ‘galore’, het heelwat ‘teoloee’ al op hulle neuse gekyk teen die argumente van ‘leke’. Interessant dat so baie ‘teoloee’ deesdae ‘dwaal’ (Verdwaal?) in die geestelike landskap, terwyl heelwat ‘leke’ die koers konstant hou en goeie en gesonde bydraes lewer. Die titel ‘teoloog’ is natuurlik geen waarborg dat sodanige draer vd titel geestelik volwasse is nie. Inteendeel: As mens deesdae ‘n ‘teoloog’ raakloop, kan jy hom NIE vertrou nie, totdat jy nie eers sy bona fides vasgestel het nie. As dit so aangaan, gaan die titel ‘teoloog’ nog ‘n vloekwoord word in die geestelike landskap…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui